Die Jakes Gerwel Stigting en Oude Leeskamer in Stellenbosch kondig met groot opgewondenheid aan dat die Johannesburgse skrywer Zama Moyo gekies is vir hul eerste skrywersresidensie, wat in April by Oude Leeskamer se luukse skrywerskamer plaasvind.
“Ek is so opgewonde!” sê Moyo, wat tans wag dat sy PhD-verhandeling in Politieke Wetenskap getiteld “The moral plausibility of South Africa’s National Development Plan: a relations-based approach” nagesien word.
“Die geleentheid beteken baie. Dit bied afwisseling van my alledaagse omgewing en gee my die geleentheid om ’n deel van die land te verken waar ek nog nie vantevore was nie. Dit simboliseer hoop ná die voltooiing van my PhD en die gesondheidsprobleme voor en tydens die skryfproses. Dit gaan my help om myself opnuut as ’n ernstige skrywer te beskou, of ten minste as iemand wat goed, sinvol en konsekwent wil skryf. Dit verbind my natuurlik met die Jannie Mouton Stigting, op sigself ’n fassinerende instelling met ’n fassinerende stigter.”

Moyo, wat in 2020 deelgeneem het aan die JGS en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir skrywers van fiksie en niefiksie, sien daarna uit om die omgewing te verken, lekker kos te eet en tyd saam met Audrey Jantjies, wat vir hom soos ’n suster geword het, en Lebo Mazibuko, wat na Kaapstad verhuis het, deur te bring.
Buiten die omliggende natuurskoon by die Leeskamer, is die “gerusstellende idee van baie ure se afsondering, skryftyd en worsteling” (hy glo die drie loop hand aan hand) voorop in Moyo se gedagtes.
“Die wete dat ek weer kreatief sal kan skryf is beide aanloklik en intimiderend. Ek is nie van nature goed daarmee om stories uit te dink nie, so dit is ’n uitdaging. Ek is egter lief daarvoor om dialoog te skryf. Ek hou daarvan om waarnemings te maak oor die oënskynlik onopvallende en dan daarop voort te bou. My redigeerder, Angela [JGS-mentor Angela Briggs], moet dikwels my eindelose afwykings temper, maar ek geniet ook daardie deel van die proses. Soos Lauren Berlant dit stel, ek dink dis in The Hundreds, ‘riffing is the first freedom’.”
Die tweede JGS- en Oude Leeskamer-residensie, wat oop is slegs vir vorige of huidige inwonende skrywers van Paulet Huis, vind plaas vanaf 11 tot 25 November 2024. Die sluitingsdatum vir aansoeke is die 16de Augustus. Klik hier vir nog inligting oor aansoeke.
Die Oude Leeskamer is ’n kultuur- en erfenissentrum wat gesetel is in ’n historiese gebou wat in 2017 die eiendom geword het van die Jannie Mouton Stigting.
Na ’n merkwaardige restourasieproses is die gebou omskep in vyf spesiale ruimtes, naamlik Jannie se Leeskamer, ’n kunsgalery, ’n skrywerswoonstel, De Eetkamer Restaurant en die Jannie Mouton Stigting se kantore.
Die visie van die Oude Leeskamer is om ’n toonaangewende erfenisbate te wees wat historiese waarde beskerm, maar terselfdertyd ’n lewende ruimte is waar Suid-Afrika se unieke en diverse kuns en kultuur gevier word.