Boekdiva Uitgewers – Phoebe: ’n Lewe saam met Jakes Gerwel deur Rachelle Greeff

Boekdiva Uitgewers se nuutste publikasie sal binnekort beskikbaar wees! Ons is bitter opgewonde oor die boek!

Phoebe: ’n Lewe saam met Jakes Gerwel
Rachelle Greeff
Uitgewer: Boekdiva
Publikasiedatum: 2024-02-15
ISBN: 9780796135407

Nie-fiksie / Biografie & outobiografie

Hierdie is nie ’n storie van rags to riches nie. Phoebe Abrahams se mense van Grassy Park in die Kaapse Vlakte het immers status en styl gehad. Sy was boonop sexy én slim. G’n wonder die skrander senior student van Kommadagga in die Oos-Kaap, Jakes Gerwel, het haar op die UWK-kampus raakgesien nie.

Sy het hom leer ken as Gert. Wat ’n lelike naam, het sy gedink. Ook nie juis waffers wat looks betref nie. Maar toe sy hom die eerste keer in ’n Filosofieklas met digterdosent Adam Small hoor praat, is haar voorbehoude oor sy naam en voorkoms eensklaps vergete.

Die opgang wat Jakes-wat-Gert-was in die akademie en politiek gemaak het, was buitengewoon. Later, as visekanselier van die universiteit wat ’n tuiste vir linkses was, en as direkteurgeneraal in die kantoor van Nelson Mandela, het hy ’n enorme rol in ons politieke oorgang gespeel. As sy lewensmaat het Phoebe die wêreld gesien, en ontmoet. Sy was vir die rol uitgeknip.

Tien jaar ná Jakes se onverwagse dood vertel Phoebe met haar kenmerkende sin vir humor aan die gewilde skrywer Rachelle Greeff van hoogtepunte in hulle lewe saam.

Sy maak ook haar hart oop oor haar sielsallenige laagtepunte en oor die “donker derde party” wat in haar en Jakes se huwelik nesgeskop het: ’n ongeneeslike geestestoornis. Maar met die regte hulp, begrip van geliefdes en deursettingsvermoë was dit nie vir Phoebe ’n doodsvonnis nie, en was selfs ’n skreef lig meermale vir haar genoeg.

Nelson Mandela het met hulle eerste ontmoeting verklaar dat hy nou verstaan waarom Jakes Gerwel die wêreld wil verander. Phoebe is inspirerend, en lewer bewys van die veerkragtigheid van die menslike gees.

Bestel solank jou eksemplaar by Graffiti Books of vra daarvoor by jou naaste boekwinkel.

https://www.graffitibooks.co.za/af/391329/Boeke

+ posts

Rachelle Greeff, wat haar merk in Afrikaans en Engels gemaak het, was die begeleier van verskeie jong skrywers wat die afgelope agtien maande met gerekende publikasies debuteer het. Rachelle werk in verskeie genres en het al gesogte pryse vir haar kortverhale ontvang. Haar bekroonde toneelstukke Die naaimasjien en Rondomskrik is landwyd gesien en The sewing machine is in 2012 op die Edinburgh Festival opgevoer. In 2002 was sy ’n finalis van The Caine Prize for African Writing, ook “The Baby Booker” genoem. Van haar skryfwerk is ook in Duits, Nederlands en Deens vertaal.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *