A place where stories unfold

Uitreik in KwaNojoli: Mossie deur Jonker Nel

“Aan die begin van die kwartaal het ek ’n nuwe side job by Gill College Senior begin as koshuistoesighouer. Wat ’n groot verrassing was dit toe ek ’n bekende gesiggie sien! Die outjie ken ek, maar ek kon nie sy naam onthou nie. Hy was al by Paulet Huis en het vir Abdu Adams* en medeskrywers so beïndruk met sy skryfkuns. Dit was 2020 en Jonker Nel was nog ’n laaitie toe Abdu vir Jonker by William Oates Laerskool ontmoet het en hom genooi het om van sy stories by Paulet Huis voor te lees. Hy is nou aansienlik ouer (13), en in graad 8. Hier is een van sy stories.” Gilbert van Zyl (Sjef by Paulet Huis)

Mossie

Dit is Sondagoggend, Mellissa staan op en bid. Sy kan nie glo dat Veronica weer twaalfuur in die aand van ’n party af gekom het nie en sy moes met haar baba sukkel.

Veronica het op die ouderdom van 16 swanger geword met Kyle, nou ’n babatjie van een jaar en vier maande oud. Daar is niks kos in die huis nie en Mellissa sit die laaste nappy vir Kyle aan. Waar gaan vandag se kos vandaan kom? wonder sy.

Vandat haar man, Hendrik, oorlede is, gaan dit maar swaar en ná haar pa se dood het Veronica ook boonop begin rook en drink.

Sy gebruik ook nou die laaste bietjie poeiermelk vir Kyle. Terwyl sy dit maak, kyk sy by die venster uit en sien hoe die mossies die wurmpies uit die grond uit pik. Skielik dink sy aan ons mense as mossies.

As God so vir die voëltjies voorsien, hoekom nie vir haar nie?

Sy besluit om vir Kyle aan die slaap te maak en dan vir Alex, “my friend”, by die winkel te gaan vra of sy nie brood en nappies op skuld kan vat by hom nie, maar sy weet sy skuld hom al klaar R470.

Toe sy in die hoofstraat kom, ry daar ’n polisiewa verby haar, maar die man wat links voor sit se glimlag gee haar net meer hoop dat God sal voorsien. Toe sy by die winkel kom, sien sy dat daar baie mense in die winkel is. Na ’n rukkie is die winkel leeg en sy stap binne. Sy groet toe vir Alex en vra toe: “Alex, my friend, can you please give only a loaf of bread and nappies? Alex, please, I’m begging you!” Alex sê toe: “I am very sorry, Mamma, but you already owe me too much. I am very sorry, Ma’am.” Mossie (Mellissa) wil net nog iets sê toe sy sien dat daar iemand agter haar staan. Dit is die man wat links voor in die vangwa gesit het. Gou probeer sy verby hom skarrel, maar hy sê: “Ek sal vir jou betaal.”

Sy is totaal verward en vra: “Praat u met my?” En die man hou ’n bondel note na haar en sê: “Vat, hier is vir jou geld om alles te koop wat jy nodig het. Toe ek vir jou sien loop naby die winkel het ek net iets in jou oë gesien. Kom, klim in, ek sal jou winkels toe vat ook en al jou skuld afbetaal.” Mossie is so geskok dat sy amper sê nee, ek kan nie, maar sy loop na sy kar toe. Later die middag in die mall vertel die man vir haar dat sy naam John is, en dat hy ’n speurder is. Hulle het mekaar beter leer ken en John het gesê dat as sy enigiets nodig het, sy hom net moet kontak.

Later, toe sy huis toe loop, sien sy weer die mossies en sy weet God het vir haar, ou Mossie, voorsien net soos hy vir die voëls voorsien het.

*Abduragman Adams was die Jakes Gerwel Stigting / NATi Jong Sterre mentor vir die 2020 en 2021 mentorskap programme.

Voorblad foto: William Oates Laerskool

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Uitreik in KwaNojoli: Mossie deur Jonker Nel”