A place where stories unfold

Deel 3 – Uittreksel uit Kgotsafalang

Kinna se woorde in daai laat aand, maak Kora diep seer. Maar sy verstaan: haar kind, Kinna, is seerder binnekant as wat sy ooit kan dink. Die kind’t ‘n perd opgesaal, en haar ma gekom soek, in die wildernis wat die binneland toe vir hulle was. En? Sy’t vir haar ma gekry! Sy’t daar voor haar ma gestaan baklei – vir haar ma, met woorde wat so seergemaak het.

 Sy, wat ma is, het maar stil geluister. Sy verdien nie die pragtige, vurige dogter, daar voor haar, nie! Sy verdien nie die meisie-kind se pa, nie! Hulle sit lewendig, daar voor haar, om hulle lief is vir haar. Hulle’t haar net so nodig gehad in hulle se eie lewens, soos die Tsepane’s op die boer se plaas, in die Vrystaatse Republiek. Hulle’t gekom om ditvir haar te sê: haar tyd is om, daar tussen die plase, met wa en muile. Dis tyd vir haar om trug te gaan daar na waar mense met liefde in hulle harte, vir haar wag. En sy’t dit, na al die ge-baklei, goed gedink om op te pak, en met hulle saam, huistoe te gaan.

Die gedagte aan huis, het haar in die laaste maande, snags, alleen op die sakke, op die wa, gelê opkeil. Sal haar kind en familie haar eendag, as sy voor hulle staan, dan nog wil aanvaar? Sal die liewe Izak Barlow haar dan nog wil hê, vir sy vrou – soos hy gesê het? 

Alles dit, het daai laat middag verdwyn, toe sy omdie wa loop, en die lang man, met die jong vrou langs hom, voor haar sien staan.  Sy’t daarna geprobeer teë-stribbel teen hulle se trek aan haar, vir huistoe-gaan. Maar die trek van die drie mense wat haar gekom soek het, om saam huis toe te gaan, was testerk. Dit was net om die ouma te loop sê, en dan die pad te vat, en vir éwig weg te kom, uit daai plek uit. Die trek van die huis, was erg sterk, in die nagte van wakker-lê en verlang. Daai dag, toe die drie mense uit ‘n ver plek skielik voor haar staan, het die droom van een dag huistoe gaan, ‘n lewendige werklikheid vir haar geword. Maar sou sy dan weer kan in pas by hulle?

Sou hulle dan ooit kon dink hoe seer die seer was, deur die jare, wat sy vrou-alleen moes dra? Sou hulle ooit verstaan wat sy as medisyne-vrou moes deurmaak, om nie van haar kop af te raak nie? Sou hulle ooit kon weet van die soeke na die lig binnekant in jouself, om jou deur te dra, as die laste van die dae, en die jare, en die onheil wat mense met hulle saamdra, afgekeer, en af-gebaklei moes word? Hoe oorleef jy vrou-alleen teen die oormag van gierige mans en bloedlustige diewe wat in die nag op jou afsluip, om te moor, en te steel? Hoe maak jy as ‘n gevoel van onheil oor jou kom, en jy weet dadelik: die dood is hier naby, en hy kom vir jou? Daar’s net een manier – as jy weet hoe!

Jy gaan onmiddellik na ‘n stil plek, diep binnekant in jou. Jy soek diep binne in jouself; jy grawe. Jy bid. jy word kalm. Jy’s skoon van al jou gedagtes hier binne-in jou. Jy word rustig. Dis dan dat ‘n verblindende lig injouin kom, en jou geheel en al oorneem. Jy’s dan in ‘n plek waar daar lig is: skoon, en rein, en stil.

Op so ‘n plek sien Ai Kora eendag hoe bruin, onstuimige vloedwater voor haar verby stroom. Sy sien beangs hoe haar kind, Kinna, in ‘n maalstroom meegesleur word! Sy skree, sy bid, en sy pleit!Dis toe dat sy die gees in die lug voel! Die gees kom nader, terwyl sy benoud pleit:

‘Hou vas, Ma se kind! Kinnaaa! Hou vas! Kinaaaa!’

Oor en oor, roep, huil, en pleit sy, tot sy sien haar kind lê, half-toe, onder die slyk, in die stink, swart modder van die riviertjie wat so onverwags af gekom het. Dan val sy uitgeput, en met haar hande voor haar uitgestrek, op die skuur se vloer. Sy weet, die mans wat haar kind soek, sal haar daar kom kry, lewendignog. Terselfdertyd raak die lig binne in haar, flouer en dowwer, en sy val in ‘n diep, rustige slaap. Haar liggaam is swak as sy  ‘n uur later wakker skrik. Vir ‘n hele dag lank, met eet, drink, en rus, kom haar kragte trug. Sy kom ook tot ruste binne-in haar, en in haar kop, tot sy weer haarself is. 

Met wie kan ‘n mens so iets praat? Vir wie kan sy vertel die gees van onse voorste, voorste mense, het binne-in haar gekom? Net met Izak Barlow, sal sy so iets kan praat, maar hy is ver, ver op ‘n ander plek – in ‘n ander lewe.   

Sy’s in die laaste vyf jaar by Izak Barlow, in sy huis, op die Bo-Solder – honderde myle weg van die ander plek waar haar jare so swaar verby gegaan het. En by Izak vou die lewe vir haar oop soos sy dit in haar drome altyd gesien het: haar mense, haar familie, is rondom haar. Kinna en haar man is goed vir haar. Sy sien hulle elke dag. Die kleinkinders, die’t een na die ander gekom, en sy’t hulle almal ingewag, saam met die ouers, en groot feeste gehou met hulle se geboortes – soos dit hoort! Die gemeenskap op die Solders moes kennis neem daar’t nog ‘n kleintjie by die Oktouber en Alexander se families bygekom. Tussendeur staan sy maar haar rol vol as ouer mens in die familie, en in die gemeenskap, en geniet haar status as ouma, en vertroueling onder die jonger geslag, terdeë.

Dit is wanneer haar gedagtes oorslaan na haar ander kind, in ‘n ander lewe, na Kgotsafalang toe, dat die skuldgevoel van vroeër, oor Kinna, haar weer van voor af, beetkry. Dan wil sy net alleen wees. 

As Kinna haar ma so sien stil raak, en wegskram van geselskappe af, kry sy altyd ‘n beklemming. Sy vermoed dan dat haar ma se gedagtes by haar seun is. In haar hart het sy, wat Kinna is, al doerie tyd, in daai ander plek, al vrede gemaak dat sy êrens daar ‘n broer het, en het heimlik gewonder of sy hom ooit eendag sou sien. Sy ken goed waar haar ma se gedagtes gaan. Sy en haar pa, laat maar toe dat sy saans, vir lang rukke, alleen buitekant, op die bankie sit, en in die donker aande in kyk. Die hemelruim met die helder sterretjies, lyk party aande of dit die hemelruim verlig. Dit is vir haar en haar pa, die regte plek vir haar ma, om haar gedagtes in te stuur, en aan haar kind te dink.

Ander tye sorg hulle dat haar gedagtes by húlle is – by die kleinkinders; by familie-sake; by mense waar daar siektes is, en sy waar sy kan help met woord en daad; met die grootmaak, en inlywing van die familie se kinders, in die geskiedenis van die familie in. Sy is ‘n vrou wie met gesag kan praat oor plekke waarvan die familie net gehoor het. Sy en haar man, Izak Barlow, is bekend as lewende bronne van inligting, ervaring en lewenswysheid. Kora Alexander en haar man, vervul hulle se rolle in die gemeenskap, met ‘n waardigheid, soos dit hulle as gesiene grootmense, toekom. Net soos die band van liefde al sterker om hulle word, net so al verder uit haar hart uit, voel dit vir haar, is Kgotsafalng – en dit maak Kora se hart bitter seer.               

*

Izak Barlow besoek sy besigheid nog elke dag, waar Lang Hannes, heel onder aan die leer begin het: trense uitkap, kruiwa-stoot, en dagha aanmaak. Dit is soos Oom Izak dit wil hê: Lang Hannes moet die ambag, in al sy fasette, van onder af, leer.

Die dae dat Oom Izak by die gebou is, loop Lang Hannes saam met sy skoonpa, en Oom Izak leer vir hom alles wat hy moet weet, oor gebou-werk. Lang Hannes werk onder die wakende oog van die grootman se getroue voormanne. Hy’t hulle immers almal opgelei – na sy hand. Nou gee hy Lang Hannes in hulle hande, om van hom ‘n ambagsman te maak. Hy’s nog jonk; hy’s gretig om te leer; hy leer gou; en dis gou duidelik dat hy eintlik uitgeknip is vir gebou-werk.

‘Dis onse baas daai – eendag! Hy’s die groot-oom se opvolg!’ is hoe die gebou-manne agteraf van die ywerige jong werker praat.

Hulle ken die storie van Oom Izak en Ant Kora, van Kinna en Lang Hannes. Hulle’t dit gehoor, en hulle’t respek vir die mense.

‘Hy moet net eendag onthou by wie hy die ambag geleer het!’ lag hulle onder mekaar.     

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *