Vyf belowende jong dramaturge is gekeur vir deelname aan die nuwe seisoen van die NATi Jong Sterre-projek, een van die land se voorste ontwikkelingsinisiatiewe om jong teatermakers op te lei en hul loopbane ’n hupstoot te gee.
Diano October, Franka Kirby, Mikyall Harris, Mosa Rabannye en Nelandi Boshoff het konsepte vir dramatekste voorgelê, en dié tekste sal onder leiding van Lee-Ann van Rooi en Rafiek Mammon oor die volgende klompie maande ontwikkel word om as professionele teaterproduksies in 2025 by die Suidoosterfees te debuteer.
Die Jong Sterre-projek lewer elke jaar opwindende nuwe stemme in die dramawêreld op, en word aangebied deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting en Artscape.
Die mentorskapprogram sluit ’n skrywersverblyf van drie weke in, waartydens die mentors intensief met die skrywers saamwerk om afgeronde tekste tot stand te bring. Die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-huis in KwaNojoli in die Oos-Kaap dien as tuiste vir die groep skrywendes.
Die Jong Sterre-kandidate kom van die verste uithoeke van die land en het reeds hul eerste treë in die teaterbedryf gegee. Die geleentheid om dramatekste vir die verhoog te skep, plaas hul loopbane in die kunstebedryf op ’n nuwe trajek.
Diano October (32)
Diano October is ’n visuele kunstenaar, skrywer en navorser van Bridgton in Oudtshoorn. Sy belangstellings sluit wetenskap, beeldhou, kulturele sisteme en betekenisskepping in. Diano is sedert 2022 betrokke by die KKNK se bekroonde multidissiplinêre gemeenskapsprojek Karoo Kaarte. Hy is deel van die kernspan van Karoo Kaarte en het reeds rolle soos navorser, kunstenaar, illustreerder, toergids en fasiliteerder vervul in hierdie program wat streef daarna om Oudtshoorn se onvertelde en ongedokumenteerde stories te vertel. Diano se uitsonderlike aandag aan detail verhoog die trefkrag van die beelde wat hy in verskillende media gebruik.
Franka Kirby (24)
Franka Kirby is ’n aktrise, skrywer en ontluikende teatermaker afkomstig van die Oos-Kaap. Sy het in 2022 haar professionele vier-jaar-graad in teaterstudie en uitvoerende kunste aan die UK voltooi en in 2023 meegewerk aan die ensemble-werk FAKE N.E.W.S., ’n inisiatief van InfluenZArt NPC. Gedurende haar studies het sy aan studentefilms meegewerk. In 2022 en 2023 het sy deelgeneem aan die 48 Hour Film Project vir die skep van kortfilms. Franka het in 2024 die Zabalaza-fees se prys vir beste aktrise verower vir haar rol in Extreme lengths. Sy skryf gereeld resensies vir die dansgeselskap UNMUTE en skryf ook vir haar eie platform, loveartonly. Franka beskryf die skiet van Mince jou hare as ’n groot hoogtepunt. Sy wil stories skryf wat haar gemeenskap bemagtig en weerspieël deurdat sy haar verskillende identiteite as vrou, persoon van kleur, Suid-Afrikaner, godsdienstige en tempel van kreatiwiteit ondersoek.
Mikyall Harris (22)
Mikyall David Harris is ’n jong akteur, skrywer en vervaardiger van Worcester wie se teaterwerke ’n impak maak op kinder- (Ko’ lat o’s speel) sowel as volwasse (Tsekmate) gehore. Hy het sy honneurs in toegepaste teaterstudies cum laude in 2023 by die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy het die teks van Su’walla Kassam geskryf, wat by vanjaar se KKNK opgevoer is en drie pryse verower het by die Universiteit Stellenbosch se Première-teaterfees waarvoor dit oorspronklik geskep is. Hy is tans besig met sy internskap in produksie en televisieteks vir eTV se sepie Kelders van geheime. Hy is ook besig met sy eie skryfprojek met die werkstitel Vannie wal af waarin hy beoog om temas soos kulturele verskille en LGBTQI+ identiteit in ’n rou en ongefiltreerde narratiewe lig te ondersoek.
Mosa Rabannye (25)
Mosa Neema Rabannye is ’n aktrise, skrywer, teatermaker, regisseur en vertaler van Botshabelo. Haar fiksie is in aanlyn tydskrifte soos Isele Magazine en New Valley Zine gepubliseer. Sy het by die Vrystaat Kunstefees opgetree as deel van die geselskap Bloem Klown Troop en het in verskeie plaaslike rolprente gespeel. Sy het ook al meegewerk met Theatre Arts, Creative Careers South Africa, Craft Bites International en die Playwrights Guild of Canada. Mosa is ’n 2023-alumnus van die Johannesburg Institute for Advanced Studies (JIAS) en is ook hierdie jaar gekies as ’n kulturele vervaardiger deur Business and Arts South Africa (BASA) en as ’n Sprinng-skrywersgenoot. Haar werk fokus op die lewe van persone van kleur, armes en ook die LGBTQI+ gemeenskap.
Nelandi Boshoff (23)
Nelandi Boshoff is ’n opkomende aktrise, sangeres en skrywer van Langebaan op die Weskus. Tydens haar dramastudies aan die Universiteit Stellenbosch het sy aan verskeie departementele produksies deelgeneem, insluitende Sonde met die spoke en The Addams family: A new musical. In haar derde jaar is haar toneelstuk Bopha!, met medeskrywer Osvaldo Vilanculo, by die Première Teaterfees genomineer vir beste teks. Sy het haar honneursgraad in teaterstudie met spesialisasie in kabaret in 2023 behaal. Vroeër vanjaar is Nelandi vir die Kanna-toekenning vir beste opkomende kunstenaar genomineer vir haar professionele debuut in Deon Meyer en Coenie de Villiers se Roem: die musiekblyspel.
Die mentors en die deelnemers is ewe opgewonde oor die harde werk wat voorlê.
Die aktrise Lee-Ann van Rooi, wat vanjaar ’n Fiësta-toekenning as beste aktrise ontvang het vir haar rol in die Suidoosterfees se The Woman Who Fed the Dogs, sê: “Ek loop nou al drie jaar saam met hierdie program. Dit is ’n groot voorreg om ’n storie-doula te wees en om lesse wat ek na 30 jaar in die bedryf geleer het, met gewillige jong skrywers te deel.”
Mikyall Harris is in die wolke oor die geleentheid. “Elke storie wat ek skryf,” sê hy, “lê my so na aan die hart en dit is ’n voorreg om my waarheid danksy dié projek met die wêreld te deel. Ek sien veral uit daarna om te skaaf en by te voeg en weg te gooi en om saam met die ander Jong Sterre ons babas groot te maak en ’n klein familie daardeur te bou.”
Nelandi Boshoff sien uit na die insette van die mentors om die kabaret waaraan sy werk, sterker koers te gee. “Ek kan skaars wag om myself te verdiep in ’n omgewing waar skrywers hul eie unieke benaderings volg. Die waardevolste lesse kom uiteindelik uit gesprekke met ander.”
Die NATi Jong Sterre-projek lewer elke jaar belangrike nuwe teaterstemme op. In 2023 het Tiffany Saterdaght se Fietsry vir dommies uitstekend presteer op die feeste- en teaterkringloop. Tydens die Suidoosterfees, wat vroeër vanjaar vir die 21ste keer aangebied is, is produksies deur Geralt Cloete, Cara Rossouw, Mikayla Joy Brown, Miché van Wyk en Miliswa Mbandazayo op die planke gebring. Van dié produksies is reeds genooi vir verdere speelvakke by ander feeste en in teaters.