A place where stories unfold

Die Derde Golf in Somerset-Oos

Alice, Oos-Kaap. Dis nou einde Mei 2022, die begin van die vyfde golf Covid-19 infeksies. ’n Jaar gelede, asook drie inentings terug, was ek op die punt om die motor te pak om Somerset-Oos toe te ry. Ek sou vir ’n maand daar gaan intrek as gas van PEN Afrikaans en die Jakes Gerwel-stigting. ’n Helse voorreg – ’n hele maand om te skryf. Die digbundel is ’n ent ver, maar daar’s nog baie werk wat daaraan gedoen moet word.

Net voor ek die kattebak toeslaan huiwer ek. Die hele agtersitplek is leeg. Een mens en ’n kar, drie ure se ry van Alice af Somerset-Oos toe. Dalk maar een of twee van my kitare ook inpak. Miskien ’n mikrofoon of twee, ’n mikrofoon staander, oorfone, ’n paar klank kabels. Netnou het die Paulet-huis goeie akoestiek. Ek kan tog nie dag en nag aan gedigte werk nie.

Somerset-Oos, aan die voet van die Bosberg, is stil. Ek woon eenkant, in ’n kamer op die grondvloer. Pak my boeke op die breë vensterbank uit, maak die kitare teen die muur staan. Met die kil wintersoggende gaan stap ek vroeg, trek die gesigsmasker oor my neus as mense aankom. Ons bevind ons in Covid se derde golf. Ons gaan sit in die ry by die gemeenskapsentrum om ons eerste inentings teen Covid te kry.

Ons ry Graaff-Reinet toe, besoek Robert Sobukwe se geboortehuis. By Bruintjieshoogte is die aalwyne bloedrooi in die Karoo se helder lig. Daardie maand word Jacob Zuma tronk toe gestuur. Opstande breek uit, winkels word geplunder. Mense kom op die dorp aan wat deurnag vanuit KwaZulu-Natal af deurgery het. Orals het hulle dorpe sien brand.

Dít als is ver – Somerset-Oos is stil. Ons sit en skryf. Praat oor ons projekte oor aandete. Hoe maak ons hiervan sin?

In die kas is die wynversameling ’n weduwee se kruik. Of is dit nou die bruilof van Kana? ’n Idee ontstaan oor aandete. Dalk iets opneem, gedigte met musiek. So iets? Spoken word. Sommige van ons is aanvanklik deur die distraksie geïrriteer. Ons is hier om aan ons projekte te werk – digbundels, romans, kortverhaalbundels, nie plate nie. Nietemin, stadig kom meld gedigte aan. Bestaande gedigte word op hardeskywe gevind, nuwe gedigte word geskryf. Ek slaan ’n tydelike ateljee in die sitkamer op. Maak ’n vuur, trek die gordyne toe. Ons lees en neem op.

Laataand komponeer en programmeer ek, neem kitare en klawers op. Meng als met my kop in die oorfone. Binne ’n maand is daar ’n nuwe album – ons noem dit “Derde golf”.

Nou, ’n jaar later, is daar ’n paar van die opnames wat my bybly. Laat ek hulle gunstelinge noem, alhoewel ek trots op die hele album is.

“Liefde is”, deur Mercy Kannemeyer, is die eerste track op die album. ʼn Deurlopende tema op die plaat is die spanning tussen beskermde binneruimtes en die wêreld daar buite. In hierdie gedig praat Mercy Kannemeyer oor die intieme ruimte van liefde.

“Bedags verander die spoke van gedaante” is Valda Jansen se gedig. Dit handel oor ’n insident wat op Somerset-Oos gebeur het. Die agtergrondklanke is deur Valda self opgeneem, op haar selfoon, terwyl sy deur die dorp gestap het. Op plekke kan ’n mens hoor hoe die koeie herkou.

Ek vind dit ’n aangrypende en ontstellende gedig, baie soos Valda se roman “Hy kom met die skoenlappers”. Ek is trots op hierdie opname, ek voel die musiek ondersteun die woorde en tema van die gedig.

Dan is daar Salvia Ockhuis wat haar gedig “Tra-tra-enigma” voorlees, ’n gedig oor die enigmatiese naam van die rivier by Wupperthal. ’n Ander gedig van haar, “Bedinging”, is in die bundel “Maskers en mure” opgeneem – hierdie gedig is ook vir “Derde golf” opgeneem.

https://youtube.com/shorts/FwyClkJrigg?feature=share

Toe ons begin gesels oor die idee van gedigte opneem, was Lydia Gittens bekommerd, omdat sy nie ervaring as digter het nie – haar fokus as skrywer is primêr op prosa. Sy het toe met die idee vorendag gekom om die hooftema van haar roman in ʼn gedig te omskep. Ek was effe bekommerd dat só ʼn gedig baie lank sou moes wees.

Lydia stuur toe ʼn dag of wat later per e-pos die gedig aan my – ʼn kort, hermetiese gedig, ʼn raaisel amper. Ek het baie daarvan gehou om die musikale verwerking te doen, met ʼn nylonsnaarkitaar as anker vir die melodie. Hier is haar gedig – “Windryer”.

My laaste gunsteling. Ek moet seker hier ophou, anders gaan ek iets oor elke track op die plaat moet skryf. Dis weer een van Mercy – “As ek ’n groter feminis was”. Ek hou van die slinkse verwysings na Antjie Krog en Breyten Breytenbach.

Ek het daarvan gehou om die musikale verwerking vir hierdie een te doen. Ek sien Mercy die gedig voorlees, miskien in die kelder van ’n rokerige klub in New York of Chicago. Daar’s ’n drummer, ’n klavier, ’n kontrabas. Mercy lees die gedig in Afrikaans en alhoewel niemand die woorde volg nie, verstaan almal wat sy sê.

“Derde golf” is op die meeste van die wilde wye web se musiek platforms beskikbaar. Gaan luister gerus na die hele album as klankgreep uit die stil strate van Somerset-Oos tydens die derde Covid-golf en ’n vlaag opstande.

https://distrokid.com/hyperfollow/somersetoossessies/derde-golf

+ posts

Andries Bezuidenhout is ’n digter, sanger, beeldende kunstenaar en akademikus. Hy het twee digbundels gepubliseer, naamlik Retoer (2007, Protea Boekhuis) en Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014, Protea Boekhuis). Sy mees onlangse musiekopname is Onplaats wat in 2020 deur Die Wasgoedlyn vrygestel is. Hy het twee verdere albums as solo-musikant opgeneem en nog drie saam met sy eertydse groep, die Brixton Moord en Roof Orkes. Hy skilder meestal landskappe en interieurs en het aan ʼn paar kunsuitstallings – onder andere een met Olive Schreiner as historiese figuur as fokus – deelgeneem. Hy het grade van die Universiteite van die Witwatersrand (doktorsgraad in sosiologie), Pretoria (politieke wetenskap en bedryfsosiologie) en Stellenbosch (kreatiewe skryfkuns). Tans is hy ’n professor in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare en woon in Alice.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *