“Alice, Oos-Kaap. Dis nou einde Mei 2022, die begin van die vyfde golf Covid-19 infeksies. ’n Jaar gelede, asook drie inentings terug, was ek op die punt om die motor te pak om Somerset-Oos toe te ry. Ek sou vir ’n maand daar gaan intrek as gas van PEN Afrikaans en die Jakes Gerwel-stigting. ’n Helse voorreg – ’n hele maand om te skryf. Die digbundel is ’n ent ver, maar daar’s nog baie werk wat daaraan gedoen moet word.
Net voor ek die kattebak toeslaan huiwer ek. Die hele agtersitplek is leeg. Een mens en ’n kar, drie ure se ry van Alice af Somerset-Oos toe. Dalk maar een of twee van my kitare ook inpak. Miskien ’n mikrofoon of twee, ’n mikrofoon staander, oorfone, ’n paar klank kabels. Netnou het die Paulet-huis goeie akoestiek. Ek kan tog nie dag en nag aan gedigte werk nie.
Somerset-Oos, aan die voet van die Bosberg, is stil. Ek woon eenkant, in ’n kamer op die grondvloer. Pak my boeke op die breë vensterbank uit, maak die kitare teen die muur staan. Met die kil wintersoggende gaan stap ek vroeg, trek die gesigsmasker oor my neus as mense aankom. Ons bevind ons in Covid se derde golf. Ons gaan sit in die ry by die gemeenskapsentrum om ons eerste inentings teen Covid te kry.
Ons ry Graaff-Reinet toe, besoek Robert Sobukwe se geboortehuis. By Bruintjieshoogte is die aalwyne bloedrooi in die Karoo se helder lig. Daardie maand word Jacob Zuma tronk toe gestuur. Opstande breek uit, winkels word geplunder. Mense kom op die dorp aan wat deurnag vanuit KwaZulu-Natal af deurgery het. Orals het hulle dorpe sien brand.
Dít als is ver – Somerset-Oos is stil. Ons sit en skryf. Praat oor ons projekte oor aandete. Hoe maak ons hiervan sin?
In die kas is die wynversameling ’n weduwee se kruik. Of is dit nou die bruilof van Kana? ’n Idee ontstaan oor aandete. Dalk iets opneem, gedigte met musiek. So iets? Spoken word. Sommige van ons is aanvanklik deur die distraksie geïrriteer. Ons is hier om aan ons projekte te werk – digbundels, romans, kortverhaalbundels, nie plate nie. Nietemin, stadig kom meld gedigte aan. Bestaande gedigte word op hardeskywe gevind, nuwe gedigte word geskryf. Ek slaan ’n tydelike ateljee in die sitkamer op. Maak ’n vuur, trek die gordyne toe. Ons lees en neem op.” Andries Bezuidenhout
Andries Bezuidenhout is ’n digter, sanger, beeldende kunstenaar en akademikus. Hy het twee digbundels gepubliseer, naamlik Retoer (2007, Protea Boekhuis) en Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014, Protea Boekhuis). Sy mees onlangse musiekopname is Onplaats wat in 2020 deur Die Wasgoedlyn vrygestel is. Hy het twee verdere albums as solo-musikant opgeneem en nog drie saam met sy eertydse groep, die Brixton Moord en Roof Orkes. Hy skilder meestal landskappe en interieurs en het aan ʼn paar kunsuitstallings – onder andere een met Olive Schreiner as historiese figuur as fokus – deelgeneem. Hy het grade van die Universiteite van die Witwatersrand (doktorsgraad in sosiologie), Pretoria (politieke wetenskap en bedryfsosiologie) en Stellenbosch (kreatiewe skryfkuns). Tans is hy ’n professor in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare en woon in Alice.
Lydia Gittens het in die laat tagtigerjare gematrikuleer waarna sy haarself bekwaam het as ’n geregistreerde verpleegkundige. Na ’n paar draaie deur die lewe het sy haar hartsplek gevind by ’n rehabilitasie-sentrum vir alkohol- en dwelmverslaafdes waar sy steeds werksaam is as verpleegkundige. Skryf is vir haar meer as net ’n stokperdjie om ’n paar ledige uurtjies mee te vul – dit is haar passie. Sy het reeds twee liefdesromans, ’n handvol novelles, ’n kinderverhaal en drie artikels op haar kerfstok.
Salvia Ockhuis het op Heuningvlei grootgeword en aan die Senior Sekondêre Skool Schoonspruit op Malmesbury gematrikuleer. Sy is ’n verpleegkundige. Salvia Ockhuis was ’n finalis in twee LAPA/Kuier kortverhaalkompetisies en van haar verhale het ook in die bundel Hartlam (Tafelberg), in LAPA se Romanza reeks asook in Huisgenoot en Kuier verskyn. Gedigte uit haar pen verskyn op Avbob Poetry se webwerf en ook op ’n gereelde basis by LitNet.
Mercy Kannemeyer is ’n teatermaker, skrywer, fasiliteerder, regisseur en taalaktivis. Sy voltooi in 2021 haar meestersgraad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar teaterwerk sluit die verwerking en regie van Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, die regie van Woorde op Akkoorde en die medeskryf en regie van Ekstra large, asseblief in. In 2017 het sy ’n Kokertoekenning vir haar dokumentêr Die ander kant / The Other Side oor die taalkwessie aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang. In 2018 is sy met ’n rektorstoekenning vir prestasie in kultuur van die Universiteit Stellenbosch vereer. Mercy Kannemeyer doen ook vryskutskryfwerk en bewyer haar vir die voortbestaan, herverbeelding en viering van tale – veral van Afrikaans, haar moedertaal.
Valda Jansen is die skrywer van die roman Hy kom met die skoenlappers waarvoor sy in 2017 die Jan Rabie-Rapportprys ontvang het. Sy is ook die ontvanger van die Jan Rabie-Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2020. Valda Jansen is in Aliwal-Noord gebore en het in die Strand grootgeword. Sy was ’n Duits-onderwyser in Mitchells Plain en die Paarl, voordat sy as joernalis by Die Burger en Beeld gewerk het. Valda Jansen het gedebuteer met die verskyning van gedigte in iQabane Labantu – Poetry in the emergency / Poësie in die noodtoestand (Taurus 1990). Daarna verskyn haar gedigte ook in die Groot Verseboek (2000 en 2008) en Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ʼn duisend en enkele gedigte (1999). In September 2019 het sy deelgeneem aan die Week van de Afrikaanse Roman in Nederland en Vlaandere. Valda Jansen woon in Kaapstad en gee deeltyds Afrikaans by die UWK.