jy’t my nie gekies nie

in helium, waterstof en ander gasse het jy verander

en my agter gelaat

tussen Polaris, Rigel en Vega dans jy met God

*

hoekom wil jy só ‘n fantasie wêreld ˗sonder my˗ geniet?

hoekom kies jy Pluto?

wat het geword van: “Ek sal nooit dat jy enige iets oorkom

nie.” ?

*

my vel se naam is hartseer

maar steeds is jy my Sirius A

twee keer so groot soos die son

iewers in Canis Major

*

jy versteek jou agter Geminids, T Tauri en Vesta

my stem eggo in die atmosfeer

*

ontgaan haar, het ek vir myself gesê

maar ek sien my aan jou bors vasgeklou

jou Yardly kleef aan jou blou trui

*

ek onthou ons laaste paar minute saam

jou klam hand in myne

in die agtersitplek van die Toyota Corolla eighty-seven

“Ek sal jou altyd liefhê,” sê jy

jou greep verslap

“Mammie?”

*

verpleegters dra haar oor in ‘n rolstoel

en hardloop na die emergency room.

*

Ure beweeg teen ‘n slakkepas.

*

Dokter Bosch kyk na ons

“Ongelukkig nie.”

sy het haar keuse gemaak

en dis nie ek nie.

*

Foto: Gys Loubser

+ posts

“Skryf is die masjien wat my aan die lewe hou,” sê Daylen Tobias, ’n negentienjarige inwoner van Gansbaai. “My passie vir skryf het reeds in my kinderjare begin toe ek oor my vakansies moes skryf.”
Daylen is tans besig om Wiskunde en Fisiese Wetenskappe aan te durf met die oog daarop om tydens vanjaar se eindeksamen beter punte daarin te behaal. Vir ontspanning skryf sy kortverhale en gedigte. Die tydskrif Kuier het al van Daylen se kortverhale gepubliseer. “Ek is ook fanaties lief vir speurverhale, jeugromans en grillerige stories wat jou hare laat rys! Skrywers neem jou op reis en die wêreld bestaan nie meer as jy ontvlug in fiksie nie.” Sy beskryf haar reaksie op die e-pos oor haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool so: “Toe ek sien daar is ’n boodskap van Theo Kemp af, het my hart kliphard teen my ribbes gestamp. My oë het lank na die email gestaar; ek was té onseker om dit oop te maak.” Maar toe sy uiteindelik die moed bymekaarskraap om die boodskap te lees, was haar vriend Jakob daar om die vreugde te deel: “Ek kon nie help om kliphard te skree en op te spring nie. Jakob het ook ingeval, alhoewel hy nie geweet het wat aangaan nie. Ek moes twee keer seker maak ek is nie in droomland nie. En nou sit ek met onnodig stompgekoude naels.”

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *