Ek en kos is soos Romeo en Juliet, soos hing en hang en soos ‘n prins met sy prinses wat vir ewig gelukkig saam woon. Selfs ‘n leesboek kan ons nie skei nie. Dit is of altwee of kos.
Ek is fanaties oor die geur wat deur my neus speel en my maag forseer om oop te maak. Dit veroorsaak ‘n hele klomp geraas daar binne. Moenie dat ek nog tussen mense sit nie, dan moet ek hoes of die banke skuif sodat hulle dit nie kan hoor nie. As ek nie eet word ek ondersoek deur my hele gesin asof hulle dokters is.
My definisie van kos is: iets wat my gelukkig maak wanneer ek nie myself is nie. Glo my… as ek honger is, lyk dit daar’s ‘n donker wolk bokant my kop. En dit lyk die wêreld het my leed aangedoen. Dus haal my suster gereeld gevriesde kos uit of Noodles.
Soms straf ek my maag net omdat ek te lui is om Noodles te maak. Weet julle hoe baie moeite dit is om die ketel aansit, water in te gooi en in die microwave te sit? Nee, ek dink nie julle doen nie. Want niemand verstaan vir my nie. Ek sal skoonmaak en selfs kosmaak vir ander, maar as dit by myself kom, is ek soos ‘n baba sonder hande en voete.
My suster het my eenkeer amper vermoor oor hierdie luiheid. Gelukkig is sy ‘n bietjie mollig en ek was nog fiks, so ek kon weghardloop.
So ja, sonder kos kan niemand survive nie, maar ek… Kos is deel van wie ek is. En alle eer en danke aan my vinnige metabolisme, anders het ek van die trappe gerol.
“Skryf is die masjien wat my aan die lewe hou,” sê Daylen Tobias, ’n negentienjarige inwoner van Gansbaai. “My passie vir skryf het reeds in my kinderjare begin toe ek oor my vakansies moes skryf.”
Daylen is tans besig om Wiskunde en Fisiese Wetenskappe aan te durf met die oog daarop om tydens vanjaar se eindeksamen beter punte daarin te behaal. Vir ontspanning skryf sy kortverhale en gedigte. Die tydskrif Kuier het al van Daylen se kortverhale gepubliseer. “Ek is ook fanaties lief vir speurverhale, jeugromans en grillerige stories wat jou hare laat rys! Skrywers neem jou op reis en die wêreld bestaan nie meer as jy ontvlug in fiksie nie.” Sy beskryf haar reaksie op die e-pos oor haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool so: “Toe ek sien daar is ’n boodskap van Theo Kemp af, het my hart kliphard teen my ribbes gestamp. My oë het lank na die email gestaar; ek was té onseker om dit oop te maak.” Maar toe sy uiteindelik die moed bymekaarskraap om die boodskap te lees, was haar vriend Jakob daar om die vreugde te deel: “Ek kon nie help om kliphard te skree en op te spring nie. Jakob het ook ingeval, alhoewel hy nie geweet het wat aangaan nie. Ek moes twee keer seker maak ek is nie in droomland nie. En nou sit ek met onnodig stompgekoude naels.”