Die een oomblik lewe almal vrylik.
2020 was hulle jaar!
Met ñ oogknip word ons lewens deur Covid-19 beheer.
*
Jy word verhoed om sonlig op te vang.
Kommunikasiedrade word afgeknip.
Die hele Suid-Afrika kry tronkstraf van 21 dae, maar toe dit naby die laaste dae kom, trek President Cyril Ramaphosa die parool terug.
*
Deure se sleutels word ruimte toe gestuur.
Mondmaskers word deel van ons asemhaling.
Sonder dit kry jy sommer gratis boete.
Vir 20 sekondes moet ons hande was én boonop water spaar.
*
Ontsmettingsmiddels beskerm ons hande.
Die Departement van Gesondheid lê die gevare voor,
maar Suid-Afrika gooi dowwe ore.
*
Covid-19 steel werkers se salarisse.
By dié tyd besit hy seker al die wêreld se duurste motors.
Pryse styg, maar petrolpryse daal.
*
Suid-Afrikaners is woedend vir oom Cyril wat toelaat dat Covid-19 die drankwinkels ook oorneem.
Maar ons as Suid-Afrikaners het ñ plan B.
Pynappelbier is sy naam.
*
Misdadigers weier om toe te laat dat Covid-19 hulle voor sê.
Onderwysers gaan ook steeds voort op WhatsApp, alhoewel skole se sleutels ook in die ruimte rond dwaal.
*
Covid-19 word by elke uur kwaaier en besmet meer en meer.
Selfs ESKOM vermy om besmet te word.
Covid-19 bekruip ons in die donker.
*
Dokters neem die voorhand.
Hulle vee Covid-19 se familie weg met hulle wit baadjies.
Wetenskaplikes is dringend opsoek na ñ teenmiddel.
Sweetdruppels drip-drip, maar ñ vaksine is ñ moet.
*
Saam-saam gaan ons deur hierdie pandemie kom.
Drankwinkels sal oopmaak.
Kommunikasiedrade sal weer verleng word.
Deure se sleutels sal weer deur gravitasiekrag terug getrek word.
Covid-19 gaan sy dag kry waar hy agter geslote deure sit.
Hiérdie sleutel sal in ñ ander heelal beland.
“Skryf is die masjien wat my aan die lewe hou,” sê Daylen Tobias, ’n negentienjarige inwoner van Gansbaai. “My passie vir skryf het reeds in my kinderjare begin toe ek oor my vakansies moes skryf.”
Daylen is tans besig om Wiskunde en Fisiese Wetenskappe aan te durf met die oog daarop om tydens vanjaar se eindeksamen beter punte daarin te behaal. Vir ontspanning skryf sy kortverhale en gedigte. Die tydskrif Kuier het al van Daylen se kortverhale gepubliseer. “Ek is ook fanaties lief vir speurverhale, jeugromans en grillerige stories wat jou hare laat rys! Skrywers neem jou op reis en die wêreld bestaan nie meer as jy ontvlug in fiksie nie.” Sy beskryf haar reaksie op die e-pos oor haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool so: “Toe ek sien daar is ’n boodskap van Theo Kemp af, het my hart kliphard teen my ribbes gestamp. My oë het lank na die email gestaar; ek was té onseker om dit oop te maak.” Maar toe sy uiteindelik die moed bymekaarskraap om die boodskap te lees, was haar vriend Jakob daar om die vreugde te deel: “Ek kon nie help om kliphard te skree en op te spring nie. Jakob het ook ingeval, alhoewel hy nie geweet het wat aangaan nie. Ek moes twee keer seker maak ek is nie in droomland nie. En nou sit ek met onnodig stompgekoude naels.”