Ek staar na die grys muur deur die pikswart diefwering.
Bloedmerke stel hulself voor.
Die vrou met die rooi hemp is gedurig by.
Dan is daar die mes, pistool, die gesiggie wat na hulp streef.
*
Ek wil die buite wêreld insweef en met die wind dans.
Die koue lig wil ek teen my vel voel.
Ek wil voel hoe die atmosfeer op my neerval.
Die sonlig moet my vashou sodat my liggaam kan verhit.
*
Maar…
*
Maar hy…
Hy soen vir Rooi Hempie…
Hy besit my.
Hy weier om my vry te laat.
“Skryf is die masjien wat my aan die lewe hou,” sê Daylen Tobias, ’n negentienjarige inwoner van Gansbaai. “My passie vir skryf het reeds in my kinderjare begin toe ek oor my vakansies moes skryf.”
Daylen is tans besig om Wiskunde en Fisiese Wetenskappe aan te durf met die oog daarop om tydens vanjaar se eindeksamen beter punte daarin te behaal. Vir ontspanning skryf sy kortverhale en gedigte. Die tydskrif Kuier het al van Daylen se kortverhale gepubliseer. “Ek is ook fanaties lief vir speurverhale, jeugromans en grillerige stories wat jou hare laat rys! Skrywers neem jou op reis en die wêreld bestaan nie meer as jy ontvlug in fiksie nie.” Sy beskryf haar reaksie op die e-pos oor haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool so: “Toe ek sien daar is ’n boodskap van Theo Kemp af, het my hart kliphard teen my ribbes gestamp. My oë het lank na die email gestaar; ek was té onseker om dit oop te maak.” Maar toe sy uiteindelik die moed bymekaarskraap om die boodskap te lees, was haar vriend Jakob daar om die vreugde te deel: “Ek kon nie help om kliphard te skree en op te spring nie. Jakob het ook ingeval, alhoewel hy nie geweet het wat aangaan nie. Ek moes twee keer seker maak ek is nie in droomland nie. En nou sit ek met onnodig stompgekoude naels.”