Taboe, was dit eers om van ’n persoon se fisiese voorkoms ghai te maak. Veral as dit jou en jou nageslag raak.
Vir dekades heen, was my voorhoof die topic of discussion. By familie do’s, vir die skool boelie. Totdat ek my kop nie langer daaroor gebreek het nie.
Ek meen, wat kan ek nou doen. Gedaande sake het g’n salf te smeer. En ek sal beslis ’n hele potjie moet gebruik. Extra strength.
Ek het n vriendin wat met dieselfde petalje sit. Wanne’ons saam kuier, kan onsie onse lag hou nie. Om te dink daar’s oorloë, dodelike siektes en pestelensies (dink Donald Trump en daai Russiese president met die dooie oë) en ons worry oorie size van ons voorhoofdes. Kan jy dit oorvertel!
Vereenigde Voorkoppe. Forum vir Voorhoofdes. Fororo-gang. Eindelik was dit besluit op Afri-Voorkop. Ons twee se naam.
En ek kan vir jou ook noem hoe trots ek is op hierie kop van my. Dit is immers die hoof wat my toelaat om hoofberekeninge te doen, my stories uit te dink en elke dan en wan ’n klein-voorhoof-draende, wat dink die son skyn net op hom/haar met die min voorkop, met die kop te skiet. Hehehe.
Punt is, elke persoon het ’n personality trait, ’n oog wat skeef trek of ’n lyf wat doen net wat dit wil. Wat maak ons omtrent dit? Net mooi niks.
Sien en laat staan daai bak-ore, want hie sit ek met my voorkop. Blink verskriklik as die son die dag hoog sit.
Next time as jy voel alles raak te veel en jou lag klink hol, dink aan jou ‘probleem’ en just don’t give a flying voorkop.
Jodie Groener werk tans as ontvangsdame in Humansdorp, maar ’n ietwat “ambisieuse streep” maak dat sy nog die wêreld vol wil reis en baie wil skryf. Sy het in die Oos-Kaap grootgeword en was vir ’n rukkie ’n nuusleser op Kouga FM. Jodie skryf kortverhale en geniet dit ook om haar hand aan historiese fiksie en rubrieke te waag. In 2015 het sy nasionale kleure in die uitvoerende kunste verwerf en kort daarna het sy skerm as ’n sportsoort opgeneem. Ook hierin het sy tot op internasionale vlak uitgeblink en, hoewel sy dit vir ’n wyle moes staak as gevolg van befondsing, getuig haar prestasie van deursettingsvermoë in alles wat sy aanpak.
Jodie sê dat sy haar voorgeneem het om gemaklik te voel met wat ook al die uitkoms van haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool sou wees. “Maar toe die tyd aanbreek dat die organiseerders moes besluit wie vanjaar gekies sou word, was ek ’n senu-bol.”
Sy glo dat die slypskool nie net haar skryfwerk na ’n volgende vlak gaan neem nie, maar dat dit ook haar denke oor skrywerskap gaan verruim. “Woorde kan nie beskryf hoeveel die geleentheid vir my beteken nie. Dit gee my geweldige hoop.”