A place where stories unfold

SA Akademiepryse-kortlyste aangekondig: Baie geluk Kirby van der Merwe en Gaireyah Fredericks

Vanjaar is die tweede jaar dat die kortlyste van die SA Akademie se letterkundige pryse vooraf aangekondig word. Daar is vier kortlyste wat deel vorm van die SA Akademiepryse:

  • Hertzogprys
  • Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur
  • Scheepersprys vir jeugliteratuur
  • Eugène Maraisprys vir prosa

Die pryse dien as erkenning en aansporing vir Afrikaanse skrywers om gehalte werk in hul moedertaal te lewer. Vanjaar is 116 inskrywings vir die vier boekpryse ontvang, waarvan twee van ons skrywers, Kirby van der Merwe en Gaireyah Fredericks, onderskeie kortlyste van die SA Akademie se literêre pryse vir 2025 gehaal het.


Kirby van der Merwe

Kirby van der Merwe is ’n skrywer en joernalis. Hy was in 2019 ’n deelnemer aan die PEN dit neer program. In 2023 ontvang Van der Merwe die Eugène Maraisprys vir prosa vir sy roman, Eugene. Hierdie jaar haal Van der Merwe weer een van die SA Akademiepryse se kortlyste met sy roman, Eugene, as ’n finalis vir die Hertzogprys.

Eugene deur Kirby van der Merwe

Eugene deur Kirby van der Merwe

Eugene ken van skollies, gangsters en crooks. Hy is streetwise, al lyk hy nou soos iemand uit die upper-middle class. Hy kom immers uit die ghetto se killing fields van die 60’s, 70’s en 80’s. Maar nou is dit baie jare later. En die ou alliances met sy kindervriende Alan, Huey en Jenny ná alles destyds in Hillbrow tussen hulle skeefgeloop het, bestaan nie meer nie, en Eugene word aangekla van moord.  

’n Aangrypende roman oor vriendskap en verraad. 


Gaireyah Fredericks

Gaireyah Fredericks behaal ’n MA in Kreatiewe Skryfkuns (Rhodes Universiteit), nadat sy gegradueer het in Afrikaans en Nederlandse Letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy was ’n deelnemer aan die PEN dit neer program in 2023. Een voet innie kabr is haar eerste kortverhaalbundel waarmee sy die kortlyste vir die Eugène Maraisprys vir prosa behaal. 

Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks 

Een voet innie kabr is ’n Afrikaapse kortverhaalbundel, polsend met Kaaps-Maleise invloede. Jy hoor die klanke van dié gemeenskap, musky en soet soes ryke yt die Jannat. Gaireyah Fredericks se debuutbundel kry dit reg om gemarginaliseerde karakters en vertellers op die voorgrond te plaas. Die tailor-dokter met sy briefcase vol sample lappe, maatband en pen. Die pyn van ’n vrou wat haar pasgebore tweeling moet begrawe. Ennie stryd vannie pligsgetroue, prim en proper Marielda. En dan is daar is oek Ghoemeira wat tradisionele waardes met moderniteit moet versoen. 

Gaireyah Fredericks se bundel verryk die Afrikaanse letterkunde se skatkis. 


Die wenners sal op 25 April 2025 aangekondig word. 

Baie geluk en sterkte aan ons twee skrywers! 

Klik hier vir die volledige kortlyste van die verskeie Akademiepryse. 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *