My senuwees hang aan een lang flenter die dag toe ek in ’n besige stad ’n minibustaxi na die middestad moet neem.
Ek haal een wat driekwart van die reis op die hoofpad met ’n oop deur ry. Aan die einde van hierdie reis voel dit of my gesig kouer is as die Noordpool. Lank nadat ek by my stop afgelaai is, voel-voel ek nog aan my dooie gesig om vas te stel of die gevoel al besig is om terug te kom.
Hierdie land is gevaarlik vir ’n vrou wat alleen reis. En, soos altyd, lyk ek uitheems, maak nie saak waar ek my begewe nie. Ek kan sommer voel hoe die mense in die stadskern my ondersoekend bekyk.
In die middel van die vreemde stad loop ek teen ’n heuwel uit – een soos ek nog nooit vantevore teëgekom het nie. Heel bo aangekom kyk ek eers terug op die steil stuk pad om myself soort van te oortuig dat ek dit regtig tot hier gemaak het.
Lees verder hier
Jodie Groener werk tans as ontvangsdame in Humansdorp, maar ’n ietwat “ambisieuse streep” maak dat sy nog die wêreld vol wil reis en baie wil skryf. Sy het in die Oos-Kaap grootgeword en was vir ’n rukkie ’n nuusleser op Kouga FM. Jodie skryf kortverhale en geniet dit ook om haar hand aan historiese fiksie en rubrieke te waag. In 2015 het sy nasionale kleure in die uitvoerende kunste verwerf en kort daarna het sy skerm as ’n sportsoort opgeneem. Ook hierin het sy tot op internasionale vlak uitgeblink en, hoewel sy dit vir ’n wyle moes staak as gevolg van befondsing, getuig haar prestasie van deursettingsvermoë in alles wat sy aanpak.
Jodie sê dat sy haar voorgeneem het om gemaklik te voel met wat ook al die uitkoms van haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool sou wees. “Maar toe die tyd aanbreek dat die organiseerders moes besluit wie vanjaar gekies sou word, was ek ’n senu-bol.”
Sy glo dat die slypskool nie net haar skryfwerk na ’n volgende vlak gaan neem nie, maar dat dit ook haar denke oor skrywerskap gaan verruim. “Woorde kan nie beskryf hoeveel die geleentheid vir my beteken nie. Dit gee my geweldige hoop.”