Jaylin knip-knip haar oë om van die wasigheid ontslae te raak. Die spierwit lig verblind haar. Sy kyk om haar rond. Wit mure. Wit lakens. Die masjien bokant haar kop tiet-tiet. Wat maak ek hier? Haar asem jaag. Hoe het ek hier gekom? Elke spier trek styf. Sy probeer asem haal, maar die steekpyn op haar bors vererger.
Dan sien sy die vrou langs die bed. Sy lê op haar arms en slaap. Versigtig raak sy aan die vrou. “Mammie?”
Christelle ruk haar kop op. Sy skiet na Jaylin en druk haar styf vas. Sy het so lank gewag vir hierdie dag.
Dokter Vos stap in en groet haar. “Welkom terug.” Hy glimlag. “Hoe gaan dit vanoggend?”
Sy knik. Haar oë is op haar pa, Brayton. Sy koue hand steel haar hitte, maar dit pla haar glad nie. Hulle glimlag vir mekaar.
“Wat is jou naam, Juffrou?” Dokter Vos luister na haar bors.
“Jaylin.”
Die dokter knik tevrede en pen alles neer. Hy los hulle in vrede. Brayton soen haar en omhels haar. Hy vat sy vrou se hand en glimlag.
“Hoekom is ek hier, Daddy?”
Brayton se vinger streel deur haar bruin krulle. Christelle omhels hulle. Haar dogter is uiteindelik wakker.
“Liefiekind, jy was vir ’n jaar lank in ’n koma,” antwoord hy.
“Jy en Darren was al oorlewendes,” sê Christelle.
“’n Koma? Hoe?” Sy skud haar kop. “Hoe het dit gebeur? Hoe het ek hier gekom?”
’n Jaar terug
Jaylin kan nie wag vir die skooldag om te eindig nie. Sy kyk op haar armhorlosie: 13:46. Haar pa se vlug het sestien minute terug geland. Sy het hom ’n week laas gesien. Sy weet dis deel van sy werk, maar soms wens sy hy het nie sy eie besigheid nie.
Darren, die wulpse blondekop, gooi haar met ’n uitvieër. Sy verkies steeds die steenkool haarkleur. Sy gooi hom met haar potloodsakkie agter sy rug. Vir ’n sewentien-jarige is hy té kinderlik. Hy draai na haar, maar sê niks. Hy maak sy potlood verder, agter die deur, skerp. Sy sal dit geniet om hom te wurg.
“Jy is ’n vark!” Sy wens sy het superpowers gehad om hom met die skoolbank te gooi.
Haar hart ruk toe sy ’n klipharde geluid hoor. ’n Geluid van tires wat in die pad skreeu. Sy kyk by die venster uit. Die Coca Cola trok stoot die skoolheining plat. Die bestuurder draai die stuurwiel dié kant en daai kant toe, maar die trok storm na die klas se deur. Jaylin spring op en hardloop. “Darren!” Sy duik hom om.
Jaylin se rugsak val uit haar hand uit toe sy die huis binne stap. Elke meubelstuk is op ’n ander plek. Die mure is vaal ge-paint. Wat het geword van die helderblou wat sy gekies het? Op die muur hang foto’s wat nooit voorheen daar was nie. Sy maak haar oë ’n oomblik toe en haal diep asem. Dit is nie so erg nie, sê sy vir haarself.
Sy bars by haar kamerdeur in. Sy staan stil. Weereens is haar helderblou mure vervang. Die donkerblou en swart kleure swem tussen mekaar met duisende wit sterre teen die plafon. Die verskillende planete is ook daar.
Sy spring hulle amper om. “Dankie!”
Brayton hou haar langer vas. Daar was ’n tyd waar hy gedink het hy sal nooit weer sy dogter kan vashou nie. Maar Christelle het aanhou glo. Hy weet nie waar het al haar geloof vandaan gekom nie, maar dit het gewerk. Christelle wys met haar oë na Jaylin.
“Liefiekind, sit gou,” sê hy vir Jaylin. “Ek weet jy kan nog nie alles onthou nie, maar ons het daaraan gedink om die driver te sue vir sy nalatigheid.”
Jaylin kry hoendervleis. “Hoekom?” Hulle kyk vraend na haar. “Hoekom hom sue?”
“Hy het dronkbestuur, skat,” sê Christelle.
“John het klaar sy vrou en kinders verloor. Hoekom wil Mammie-hulle sy laaste wegvat? Ek weet nie eers of die guy geld het nie.”
“Hoe weet jy dit?” wil Brayton weet.
Sy glimlag. “Daddy, ek onthou die ongeluk. Daar is net ’n paar goed wat nie sin maak nie. Ek het dit gaan Google vir meer information. Dit was in elke nuusblad wat jy kan kry.”
Sy sien haar lewenswetenskappeboek en tel dit op. Sy streel daaroor.
Twee dae voor die ongeluk.
Jaylin maak haar lewenswetenskappeboek toe. Die vergadering waarin hulle onderwyser is, duur onnodig lank. Die leerders se geraas, wek die vuur binne haar op. ’n Pen vlieg teen haar agterkop. Sy kyk in Darren vas. Haar boek klap in sy gesig. Hy kyk woordeloos na haar.
Nicha stap stadig nader en sit haar wiskundeboek op Jaylin se tafel neer. Jaylin weet waarnatoe dit gaan. Sy het regtig nie tyd vir vertraagdheid nie. Alles moet vinnig gebeur voor die wêreld eindig, maar met Nicha is daar geen hoop nie.
“Kan… jy my… asseblief help met… trigonometrie…?” vra Nicha saggies.
Jaylin rol haar oë. “Dis só maklik!” Sy sug. “O ja, vergeet jy is mos nie honderd daarbo nie, maar ek verstaan waar jy vandaan kom. Pappie en Mammie is ook mos nie honderd nie.”
“Nicha, ek sal jou help, al verstaan ek nie baie nie.” Darren swaai na Jaylin. “En jy praat van my wat ’n vark is, maar jy is ’n wrede teef. Ek wens jy gaan dood en skrik weer wakker sodat jy kan besef wat jy aan al dié mense doen!” Hy wys na sy klasmaats.
Jaylin staar na die skitterende sterre. Die maan is rond en groot. Dit verlig die heelal. Sy sien nie kans om nóg ’n paar dae van haar lewe te mors nie. Die slapelose nagte sal haar help om op te vang. Sy het haar ma en pa se verjaarsdae gemis, selfs haar eie. Sy kan nie glo sy is nie meer sewentien nie. Jaylin weier om nóg ’n kersfees en nóg ’n nuwe jaar met haar familie te mis.
Sy sien ’n figuur stadig verby loop. Sy erken die blondekop dadelik. Vinnig skiet sy by die voordeur uit. Hy staan stil toe hy haar erken en glimlag. Sy besef hy is langer as sy, maar sy haarkleur…
“Hei!” Hy maak sy arms oop om haar te druk. “Gehoor jy het wakker geskrik.”
Sy klap hom. “Is deur jou, jou vark!” Sy stoot hom voor die bors. “Jy het my verwens, jou useless teef!”
Darren haal diep asem. “So jy het nie jou les geleer nie?” Hy trek sy broekpyp op en wys na sy ysterbeen. “Dit het my been gekos om jou iets te wys, maar ai. Dieselfde ou Jaylin.” Hy glimlag. “Welkom terug.”
“Dis deur my wat jy nog lewe! Maar ek gaan jou vrek maak! Dit belowe ek jou!” Sy verdwyn in die huis.
Jaylin gooi die kamerdeur kliphard toe. Haar hart klop vinnig. Die knop haar keel steel haar suurstof. Sy gryp die asmapompie.
“Jaylin! Maak oop die deur!” skree Brayton terwyl die tafel dek.
Christelle staan agter die stoof. Sy roep ook na Jaylin wat nog steeds nie opgedaag het nie. Jaylin storm by die trappe af en ruk die deur oop. Sy het nog haar beauty sleep geniet.
Darren druk haar skouer en stap in. Sy het hom nie eers ingenooi nie. Jaylin wil weet wat hy daar maak, maar hy weier om antwoord te gee.
“Het Darren gesê hy was elke dag tussen twee-uur en vier-uur by jou bed? Bietjie kitaar gespeel en so,” sê-vra Christelle.
Jaylin rol haar oë. Hy voel net skuldig oor die vloek wat hy oor haar lewe gespreek het.
Darren neem die bak by Christelle en nooi vir Jaylin eetkamer toe. Wie is hy om haar in haar eie huis te nooi? Sy sal gaan as sy wil.
“Ek gaan liewers in die shower spring.” Sy wil wegloop.
“Nee,” keer Brayton. “Ek weet ek is altyd streng oor slaapklere by ontbytstafel, maar vandag sien ek jou oor.”
Sy staan steeds stil. Hoe kan haar ouers die persoon, wie die rede is vir die ongeluk, in hulle huis toelaat? Sy wil niks met hom te doen hê nie.
“Kom nou, Jaylin!” Brayton wink haar nader. “Dis ons eerste oggend saam.”
Sy val in die stoel neer. Sy het gedink dit gaan net hulle drie wees, maar nee, Varkkop moet orals in wees.
Na ete forseer Darren haar om saam hom dorp toe te stap. Daar is glo duisende nuwe veranderinge, maar sy stel nie belang nie. Sy wil in haar asemrowende kamer lê en die sterre tel.
Hulle loop verby ’n Ackerman’s en Clicks. Sy kan nie glo wat sy sien nie: KFC. Sy dring daarop aan om ’n Oreo Crusher te koop.
Sy sien ’n ou oom agter Spar se muur sit. Sy klere het ou koffie vlekke en donker kolle op. Hy gebruik sy hoed om te bedel. Sy stap nader en gooi haar laaste geld in die hoed. Hy bedank haar.
“Oom Paulie?”
“Ken julle mekaar?” wil Darren weet.
“Dis goed om jou te sien, kinta.” Oom Paulie lag.
Sy omhels hom. “Ja! Oom Paulie was die skoonmaker by die weeshuis. Maureen het na ons gekyk. Sy was ’n nare buffel! Oom Paulie het ons een aand gehelp ontsnap, maar toe word ons gevang. Ons het hom nie weer daarna gesien nie! Geglo die heks het sy liggaam op die ashoop gegooi.”
Darren staar ’n oomblik lank na haar. “Jy was in die weeshuis?”
Sy trek haar skouers op. “Ja, Darren, ek is adopted.” Sy kyk na die grond en weer na hom. “Darren, ek is jammer oor my maniere. Maureen het ons gereeld onnodig bygekom en ons kon vir niemand sê nie. Met my eerste dag toe my ouers besluit het om tik te kies, was sy die beste ooit, maar daarna…” Sy laat sak haar kop. “Ek het net die keuse gemaak om nooit weer toe te laat dat enige een oor my loop nie, dus was ek so onmanierlik. Ek moet my regtig skaam.”
Darren vee oor sy gesig en glimlag. “Ek het geweet jy is ’n ordentlike meisie. Kom ons stap begrafplaas toe.”
Sy draai na oom Paulie. “Ek sal by my pa luister vir ’n werkie.”
Die twee figure kyk na die 32 grafstene. Sy plant ’n plastiekroos op elke graf, behalwe Nicha. Sy verdien meer. Jaylin besef skielik sy het haar hele klas aan die dood afgestaan. Iets wat sy nooit kon aan dink nie. Sy sit die bos rose op Nicha se graf neer.
“Nicha, ek is jammer ek het jou vertraag genoem. Ek hoop jy kan dit eendag in jou hart kry om my te vergewe.” Sy knip-knip haar oë en kyk weg toe Darren nader stap.
Hy klap haar agter haar kop. “Jis, meisie! Dis hoe ons dit doen.”
Haar vuis tref sy maag. “Stupid kind!”
Hy lag en omhels haar terwyl hy haar hare deurmekaar maak. “Jou gemis hoor!”
Sy stoot hom weg. “Kom ons kyk wie is eerste by die huis. As jy wen, kry jy al my kos, maar as ek wen, dye ek jou hare swart.” Jaylin hardloop vooruit.
“Skryf is die masjien wat my aan die lewe hou,” sê Daylen Tobias, ’n negentienjarige inwoner van Gansbaai. “My passie vir skryf het reeds in my kinderjare begin toe ek oor my vakansies moes skryf.”
Daylen is tans besig om Wiskunde en Fisiese Wetenskappe aan te durf met die oog daarop om tydens vanjaar se eindeksamen beter punte daarin te behaal. Vir ontspanning skryf sy kortverhale en gedigte. Die tydskrif Kuier het al van Daylen se kortverhale gepubliseer. “Ek is ook fanaties lief vir speurverhale, jeugromans en grillerige stories wat jou hare laat rys! Skrywers neem jou op reis en die wêreld bestaan nie meer as jy ontvlug in fiksie nie.” Sy beskryf haar reaksie op die e-pos oor haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool so: “Toe ek sien daar is ’n boodskap van Theo Kemp af, het my hart kliphard teen my ribbes gestamp. My oë het lank na die email gestaar; ek was té onseker om dit oop te maak.” Maar toe sy uiteindelik die moed bymekaarskraap om die boodskap te lees, was haar vriend Jakob daar om die vreugde te deel: “Ek kon nie help om kliphard te skree en op te spring nie. Jakob het ook ingeval, alhoewel hy nie geweet het wat aangaan nie. Ek moes twee keer seker maak ek is nie in droomland nie. En nou sit ek met onnodig stompgekoude naels.”
