’n halwe vrou-vis is sexy ’n halwe man-vis
is ’n freak
– Ronelda Kamfer, “onder water”
Ek maak die hek toe voor ons huis en gat klim weer in die Isuzu. Ek sit my kussing op my skoot. Die bakkie idle net. Ma-goed en ek staar albei na die afgedopte huis met onkruid en siering omring.
“Wanneer gat jy maats maak met . . .”
Haar vingers omsluit die handbriek. Haar naels is pynlik presies gepaint.
Rooi, altyd. Haar soet parfuum versprei die bakkie vol.
“Maar Grootma is . . .”
“Jou eie ouderdom?”
My keel jeuk en ek druk my ken in die kussing. Sleepover-goed is kla reg. Grootma sit seker al op die stoep en wag.
“Daantjie?”
Ek maak asof dit nie my naam is nie en dat ek nie bestaan nie. Beginte trek dan die donsvere uit ’n gaatjie in die sloop. Ma-goed sug net en ry verder. Sy swaai uit Carolusberg en vat die lang teerpad dorp se kant toe. Springbok noem ons dorp, want in die plekke om dit het ons skaars winkels. Net huise en leë skole. Pa-goed sê die meeste mense het getrek toe die myne om ons beginte toemaak. Hy sê Carolusberg is darem amper so wit soos Springbok. Al lyk ons bure soos Grootma. Soos die veld en vygieblom wat weerskant van die teer lê. Ons ry sonner woorde. Ma hou nie daarvan as ek so stil raak nie. Haar nek trek rooi. Kan my altyd verkyk an hoe die make-up dan al meer soos ’n masker beginte lyk. Dalk is dit hoekom die kjeeners my vir ’n gat vat by die skool. Ons is narre. Onse stilte voel asof dit ’n laugh track kort, so asof Liewe Jesus vergeet het om dit in te sit. Ook sekere goed uit te sny. Ma-goed wat Pa se gebranne wors en eiers oor sy kop uitgooi toe sy moeg raak van Boeta wat moet opdaag vir sy birthday party. Boeta is afgelaai en lê uitgepaas onner die kokerboom. Ek blaas sy sestien kerse uit, al is ek eintlik net veertien.
Grootma-goed se huis sit op ’n koppie annie rand van die dorp. Daar is doringdraad wat om die spierwit huis vou. ’n Township met die naam Matjieskloof se indraai is langs die huis en Grootpa wag soms aande vir inbrekers, so op sy eie met ’n .22 tussen die hanne.
“Ek sal die ape se velle afskeer wat by Anton Botha die derde wil inbreek,” sê Grootpa.
Grootma-goed draai haar dan net weg en wag dat hy kla skel.
Ek klim uit en swaai die hek oop. Reuke van gesnyde gras en swart tee kraak met die hek oop. Ek waai halfhartig vir Ma-goed. Sy draai haar ruit af. “Kyk ees of Grootma hier is.”
Days se intro beginte speel.
“Hoor da,” wys ek na die woorde wat van die geblurde TV huppel tot op die borselkop-grasperk: Like sands through the hourglass, so are the days of our lives.
Ma-goed draai die kar se ruit toe en smile groot, ek sien ook vir die eeste keer die dik rooi lipstick op haar tanne. Ek trek die hek toe en probeer my lag inhou. Toe Ma-goed en die bakkie verdwyn, bars ek uit van die lag. My ken val teen my bors en ek ruk van lekkerkry.
My oog vang iemand. ’n Vrou kyk na my van annerkant die doringdraad op die muur. Sy knip vir my oog en trek haar kopdoek reg. My tanne smile terug. Plastic kreukel soos sy verder stap met haar grocery-sakke. Ek tel my kussing en die tas ook op en trippel by die trappe op na die huis. Ek sien nog die dik stuk lipstick op Ma-goed se tanne en besluit om eendag as ek groot is altyd ees my tanne te kyk as ek my lippe rooi maak.
Grootma se hoë hoesie groet my binne.
“Sit, kjeend! Onse wolf en jakkals het nou net beginte.”
Haar hand klap langs haar op die groen fluweelbank. Die stof trek deur die lig. Ek val met my kop op haar skouer. Sy soen my voorkop en skree dan weer, “Hou op lieg!”
So skel Grootma-goed vir Sami wat die perfekte couple, Austin en Carrie, wil opbreek. Ek lag en Grootma gee nog ’n hoesie. Hulle mure is vol skilderye van pêre, Grootpa s’n. Alles ruik na Zam-Buk en alles klink na pillehouers.
“Die klein kak,” prewel sy deur haar hoes.
Sy is al lekker oud. Grootma is oor die sewentig en sukkel met suikersiekte, maar sy bêre nog altyd haar soetgoed onner die kooi.
Ek hou nie eintlik daarvan as Grootma so met Sami praat nie, sy is my favourite op Days. Samantha Brady is die cool dogter van die mooiste en malste Dr Marlena Evans. Haar ma verstaan haar nie. Eintlik verstaan niemand haar soos ek nie. Almal sien haar net altyd as ’n teef of hanteer haar soos ’n baby. Haar pa gee te min om en Stefano drug alewig vir Marlena.
“Sami, Sami . . .”
Grootma klap haar tong.
“Jy sal ôk enige ding doen om jou sin te kry!”
Ek druk my kop teen Grootma se bors en verkyk my annie banggeit in Carrie se oë soos sy beginte die stront glo wat Sami haar vertel. Ek druk my gesig al dieper in Grootma se pram en Sami draai starig na die kamera. Haar gesig is vuur, sy smile fyntjies en lig dan haar eyebrow. Daai memorable look.
Dit slat oor na advertensies toe Grootpa-goed binnestap. Ons ruik hom, daai arm reuk van hom. Die maergat grootvreter. Die klein bangmaker. ’n Alewige ironie, soos my juffrou altyd sê.
“Watse vroumensgoed kyk jy?”
Ek antwoord nie, skuif weg van Grootma en verskoon myself.
“Kyk hoe tsirrie maak jy die kjeend,” kla Grootma.
Die knip kraak toe. Ek lig die toilet-seat op en spits my ore. Grootpa mompel in verdediging vir Grootma. Hy is mos altyd onskuldig. Die gewonde soldaat. Ek draai die koue kraan starig oop. Hou my hand daar onner oop. My oog is bloedrooi geaar toe ek in die spieël voor my staar. Vryf water oor my kop. Ek verbeel my ek is op evil Stefano se secret eiland. Die soet see spoel oor my. Dalk as ek lank genoeg in die spieël staar, sal ekke in Sami veranner. Austin kom kaal bolyf aangedraf. Agter hom is Carrie besig om opgevreet te word deur ’n walvis. Sami se blonde hare blur om my kop.
Grootpa klop annie deur, “Maak klaar!”
Ek probeer my eyebrow lig soos hare, maar die haartjies spring net waar hulle wil. Die kjeeners by die skool sê ek het kroes hare. Ek het vir Pa-goed vertel. Hy het so kwaad geraak dat ek nooit weer gepraat het oor die name wat hulle my noem nie.
“Tos jy?”
Ek sien nie meer vir Sami nie. Ook nie vir my nie. Eerder die gesig deur die doringdraad en die oog wat bly knip. Ek draai die kraan toe en trek die toilet. Knyp die deurknip oop. Ek sal later weer probeer.
Die Kook & Geniet is oop en ons maak Grootma se twist op Maleise breyani. Sy skep borre vol daarvan. Hoenner deurdrenk met lentils en geelrys. Grootma vra ek moet die borre in die microwave warm maak. Die ding is al bruin gebrand binne. Dit klink na ’n trekker terwyl dit in die rondte spin. Ek kyk hoe elke bord draai, dan sien ek alles om my daarin. Die eindelose perdportrette van Grootpa, blou mure en die basterbrak wat op en af snuffel.
Ek wonner skielik wat tos is? Is dit Sami-speel? Dan is Ma-goed se make-up opsit en Grootma se pêrels dra ook tos.
“Haal uit!” skrou Grootma my uit die microwave uit.
My kop droom weer te veel. Blokkies aartappel lê ewe dooielam oor die droë hoenner. Hittewalms slat op teen my wange. My vingers begin weer skroei.
“Soe!” sit ek die borre op die plastic oor die kombuistafel.
Grootma-goed mors alewig soos sy skep. Ek sê maar niks nie. Haar oë is hoeka nie te goed nie. Hulle brakkie vreet die evidence om ons voete weg. Die swart ogies staar na my. Ek probeer my eyebrow lig en soos Sami grin, maar die brak knor steeds my kant toe. Ek knor terug en die hond hol buitetoe. Ek tel skelm een van die korrels rys van die vloer af op en druk dit in my mond.
As Grootpa-goed inkom, moet die kos reg wees en ons moet al sit. Ons vat hanne en bid oor 7de Laan wat raas op die TV. Verder eet ons in stilte. Die kanttafeldoek lê in stilte. Die advertensies in stilte. Die werkers wat oortyd werk en nou ees huis toe stap in stilte. Grootpa-goed wat begin Klippies drink in stilte. Verskoon onsself in stilte. Krap bene vir brakkie uit in stilte. Ná ete kyk Grootpa nuus in stilte. Grootma snork in stilte terwyl sy slaap. Ek houvas haar pêrels teen my bors en bid in stilte.
Jirre, maak dat alles eendag raas. Maak nie saak wat nie. Net enige iets behalwe hierdie niks wat nooit ophou nie.
Uittreksel uit Dianne Du Toit Albertze se debuutroman bottelnekbreekbek
Dianne Du Toit Albertze is ’n skrywer, toneelspeler en regisseur van Springbok in Namakwaland. Sy het aan die Universiteit Stellenbosch drama studeer, en het in 2018 haar honneursgraad in regie voltooi. Sy ontvang in 2017 die Beste Nuweling toekenningby die Toyota US Woordfees, 2018 die Kanna vir Beste opkomende kunstenaar, 2019 ’n Fleur du Cap nominasie vir Mees Belowende Student en in 2020 wen sy Beste Produksie by Suidoosterfees Nati-jong sterre. Bottelnek breek bekis haar debuutroman.