A place where stories unfold

Deel 4 – Uittreksel uit Kgotsafalang

Daarom is dit vir die gemeenskap so ’n harde slag toe hulle op ‘n môre verneem, daar word oral en wyd gesoek na die jong-vrou, Kinna, dogter van Oom Izak en Ant Kora. Sy’t kort gelede met Ant Maina Oktouber se Lang Hannes getrou. Sy’t glo spoorloos uit die dorp uit verdwyn. Sy’t die oggend gaan vars vleis soek  by een van die Oktouber-ooms wat somtyds oor naweke slag. Sy’t nooit by die oom se huis uitgekom nie! Tussen huis en oom. het sy spoorloos verdwyn! Daar was glo heel nag na haar gesoek, maar geen spoor kon van haar opgetel word nie. Die familie het eers die kanaal gefynkam – sy moes daar deur loop, op pad na die oom toe, en weer trug. Die soektog teen donker, het niks opgelewer nie, en sou ligdag weer begin. Intussen het mense op die Solders orals rond gevra of iemand haar dalk in die dorp gesien het.

Dis eers lig-dag die volgende môre dat Lang Hannes aan Baster dink. By Baster se huis het sy mense hom nog laas twee dae tevore, gesien. Hy is daar weg met ‘n perde-kar waarmee hy die vorige dag mee aangekom het, en by hulle oorgeslaap het. Hy is werksamig by die plaas van ou Bouwer, waar die boerklong. Wilhelm, wat partykeer saam met hom daar kom dronknes hou, mos nou bly. 

Lang Hannes moet aan die deurkosyn van Baster se mense se huis vashou, anders sak hy net daar inmekaar.

‘Moerskont! Moerskont!’ is al wat hy kan uitkry. ‘Hy’t vir Kinna gevat! Ek wéétdis hy! Ek wéét dis hy!’

Lang Hannes swaai om, en hardloop met lang hale huistoe, en nie lank nie, toe spat die kanaal-water soos die perdekar van Oom Izak, deur die driffie, plase toe jaag. Agter-op, sit vasklou, die grootvrou Kora. Sy wou nie bly nie. Sy’t op die laaste oomblik op die kar geklim – ‘n toegedraaide streepsak onder haar vas geklem.  

Op die werf van Wilhelm se plasie is dit stil, toe hulle in ‘n stofwolk voor die plaashuisie se deur, stilhou. Lang Hannes is af, en bars by die deur in. Hy ken die plek. Hy’t daai jare nog naweke saam met Wilhelm en Baster daar gedrink. Hulle het ‘n digte vriendskap opgebou na hulle daai klompie maande saam in die berge deurgebring het, met die beeste. Die laaste aand toe hulle nog saam was, in Lang Hannes se kamertjie, langsaan sy ma-hulle se huis, het Wilhelm sy hart oopgemaak teeenoor hulle, en sy liefde vir Kinna aan hulle openbaar gemaak. Hy en Baster het altwee Wilhelm se liefwees vir die Khoi-vrou, as malligheid afgemaak, om verskillende redes. Baster se rede was Wilhelm se pa, en sy mense, as witmense, sou so nooit as te nimmer Wilhelm toelaat om met ‘n Khoi-vrou daar aan te kom nie. 

Sy, Lang Hannes, se rede was om Kinna teen die boerklong te beskerm, omdat hy self, heimlik, al die jare, ‘n groot liefde vir Kinna, in sy hart bewaar het. Eendag! eendag, het hy altyd in sy hart gebid, sal daar ‘n týd kom, en daar sal ‘n plék kom, dan sal Kinna self die ding in sy hart sien, en sy sal dit herkén, en sy sal sélf kann besluit, om dit te antwoord, met wat sy in haar hartvoel. Hy sal wág, en as die tyd kom, sal hy haar wys, wat in sy hart staan! 

‘Niemand nie!’ is sy antwoord toe hy uit die uit storm. ‘Ek’t al die kamers deur gekyk!’

Dan begin hy weer te hardloop.

‘Skuur!’ roep hy oor sy skouer, en nael skuur toe. Oom Izak ry maar agterna.  

Hulle kom dieselfde tyd by die skuur aan, as toe Lang Hannes uitkom, met Baster wat hy aan die voete uitsleep. Baster se hande is agter sy rug vasgemaak, en lappe is om sy mond gestop. Sy voete is met dun draad vasgedraai. Hy’s onder bloed. Sy gesig en sy kop is rond opgeswel, en sy kaal bo-lyf, wys lelike oop hale soos hy met iets, soos ‘n sambok, geslaan is. Dit lyk of hy vir dood daar gelos is. Lang Hannes kry vir Baster by, en kry stukkie-stukkie inligting uit hom uit: Wilhelm het hom beeste ge-belowe, en die plaas, om-die-helfte, as hy net vir Kinna tot by hóm kon kry. Wilhelm het hom gesmeek om net die kans te kry om met haar te praat, sodat sy by hóm kon hoor, hoe hy, wat Wilhelm is, oor haar voel. Sy’s al wat hy in sy kop gehad het – dag en nag. Hy was desperaat toe hy die aanbod aan Baster maak. Sy moes net na hom luister, was al wat hy wou hê. En Baster, die’t hom gegló.

Baster’t daai oggend, Kinna alleen deur die kanaal sien stap. Dit was stil. Hy’t stilgehou, en met haar gepraat. Skielik het hy haar gegryp, haar mond toegedruk, en haar soos ‘n sak koring, op die wa gegooi, en haar mond toe gebind. Hy’t bietjie gesukkel, en haar skoppende hande en bene vasgebind, ‘n half-sak gars, oor haar bene gegooi, en vinnig met haar weg gery. Niemand het hom gesien nie. Alles het in sowat twee minute gebeur. Sy was op die wa, vasgebind aan hand en  voet, en onder die sakke toegegooi, en hy’t gery met haar: deur die lae bosssies, op plaas toe. In die skuur het hy haar met sakke toegegooi, en Wilhelm gaan roep.

Toe Wilhelm vir Kinna onder die sakke sien lê, verloor hy skielik sy kop! Hy gooi sy arms triomfantlik, oop, en met sy kop agteroor, lag hy  – die lag van ‘n mal mens! Baster skrik! Die boerklong is mos van sy kop af! Hy kan dit in sy oë sien! Hy  word verskriklik bang! Hy’t ‘n verkeerde ding gedoen! Wat wil die klong met Kinna aanvang? Hy gaan haar seermaak, dink hy benoud! Dis nie wat hy gesê het nie! Toe hy met Wilhelm begin praat, en stoei, het …

‘Waar’s my kind?’ wil Kora, hier by Baster se gesig, weet. ‘Waar’s daai donner met my kind? Hy vrek vandag!’ 

Baster ken die vrou. Sy ma-hulle het altyd van ‘Wilde Kora’ gepraat. Hy hoor die dood in haar stem.

‘Weg’ kry Baster uit. ‘Weg! Berg toe … v’oggend. Grot … toe! Hannes …’

Dit is genoeg vir Lang Hannes.                                    

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *