Anschen Conradie skryf oor Dianne Du Toit Albertze se bottelnekbreekbek

WAARSKUWING: NIE GESKIK VIR SENSITIEWE LESERS NIE

‘My mom used to say that God started making me before lunch and when he came back he had forgotten whether he was making a boy or a girl’ – Beverley Palesa Ditsie (13)

Daantjie Boonzaier van die Noord-Kaap word Dora van Camissa. Saam met soul sister, Washiela, vind hulle ‘n holte vir die voet by Ma Helen in Woodstock. Maar ‘n tragedie op die Bellville-stasie dryf Washiela terug na Kayamandi en vir Dora eers na die witpyp en, uiteindelik terug na Pa- en Ma-goed.

‘… unaccepted deurie mainstream

loved and hated dearly

beautiful in al ons brokenness

en brave in al ons foute… ‘ (22)

Daantjie/Dora se soektog na identiteit (treffend geïllustreer deur die voorbladfoto wat effens uit fokus lyk); na huis; na behoort en na haarself word in hierdie roman gestalte gegee deur middel van verskeie eerste persoon-vertellings (Daantjie, Dora, Washielia, Pa-goed, Ma-goed, Grootma, Ma Helen en Boeta) met spronge in tyd (kleintyd, teenage nightmares, varsity, daai tyd en nou) en ruimte (Noord- en Wes-Kaap).

Washiela is haar leermeester; ‘It’s moffietaal, my skat. You better start learning.’ (36) en beskermer; ‘Ek… whip die bottle in stukke oor sy kop. Hy val stadig but steady soos die Twin Towers.’ (73). Ma Helen ‘…knik net asof haar tong op silent is…’ (86) het haar eie stukkende drome ‘Ek kniel voorie gebreekte piano… Die stukkene note voo my lyk soes my career, behalwe die piano staa nog.’ (29) maar verskaf tog ‘n veilige plek aan mense vir wie die wêreld andersins slegs sou wees: ‘Die evidence of life lê al ommie plek: skoene, komberse, kartonne, swart as, uitgebrande beloftes, leftovers.’ (151)

Boeta vertel kleurvol van sy en Daantjie se kinderdae: ‘Daantjie vloek al soos ‘n matroos van ek kan onthou. Ons albei is actually uit Sondagskool geskop. Hy oor hy die seunskjeeners poese noem en ek wat weer die tiendegeld steel. Hardcore, I mean.’ (155) Dora se deernisvolle verhouding met haar Grootma en die gevolglike verlies en ontnugtering na haar dood, word hartverskeurend-eenvoudig deur haar Ma-goed verwoord: ‘Alles staan stil. Alles is yskoud. Alles is moertoe sonner my ma.’ (139)

Die roman is ‘n brutaal-eerlike lees oor pynlike onderwerpe wat al te lank vermy en ontken is en die taal is dié uniek aan die queer-gemeenskap (die meerderheid uitdrukkings is selfverduidelikend, maar ‘n alfabetiese woordelys is wel ingesluit). Dis terselfdertyd tragies, traumaties en selfs skokkend, maar deurentyd eerlik, opreg en geloofwaardig, deurspek met tragi-humor: ‘Toe Ma- en Pa-goed probeer het vir nog ‘n baby, het ek al meer by Grootma beginte sleepover. Ma-hulle het glo alleentyd norig om ‘n nuwe een te maak. Ek het dit maar so aanvaar, al het ek gedink dit klink darem nie na moerse hare werk nie.’ (78) Dis ‘n óópskryf van die leefwêreld van transgender-persone en, met die lees van die laaste bladsy, noop dit die leser om saam met Fokofpolisiekar te sê/vra: ‘kan jy jou idee van normaal by jou gat opdruk?’ (102)

Dis ‘n kragtige debuut en ‘n vyf ster-leeservaring vir lesers met die moed om die wêreld in die oë te kyk.

#bottelnekbreekbek

Human & Rousseau

#Uitdieperdsebek

NB-Uitgewers/Publishers

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *