Tussen deur die millie geit van weer innie stad wees kon ek weer teater my! Die beeldskone Agulhasvlakte geskryf deur Herschelle John Benjamin, regie deur Kanya Viljoen en met spelers René Cloete, Kay Smith en Wilhelm van der Walt.
Dis ‘n storie wat fyn en deurdag geryg is soos n riethoed. Die “bietji sturvy bietji gham” influencer Amy kom terug na die familie plaas waar ons die koddige en hardekwas Millie ontmoet. Die verlede hang soos n miskombers oor die twee. Hulle rafel aan mekaar maar vind tog n eendersheid met hulle wortels in dieselfde formasie geplant.
Kosie die boer van langsaan hou die hele storie noukeurig dop. Mens voel amper hy kon maar voetsek van die verhoog af totdat die slot jou soos ‘n klip teen die kop tref.
Veelvlakkige teks met uiters speelbare karakters wat die plaas narratief op sy kop keer amper soos wat Ronelda met “Kompoun” doen en soos Prof Anastacia Dr Vries dit verwoord as “plaas feminisme”.
Die regisseur se stem is ook kristalhelder sonder om ooit die storie te belemmer. En een ding is verseker dat Kanya weet hoe om n misleidend eenvoudige inkleding in n visuele skouspel te verander.
Die aktrises het my eers onkant gevang met wat op eerste oogopslag voorkom as twee verskillende style in spel tot ek toe besef dat die karakters twee uiterstes moet wees. René ground haar karakter geleidelik soos sy oppie plaas insettle. Kay se profiel spel versag ook geleidelik en wanneer sy so maak klim haar karakter Millie tot in jou gees.
Ek verwerk nogsteeds alles, maar damn- julle kan rerig trots wees. My wind is nou nog hit!
* Skrywer Herschelle John Benjamin, regisseur Kanya Viljoen en Dianne Du Toit Albertze was saam deel van Jakes Gerwel Foundation/NATi Jong Sterre projek 2019
Dianne Du Toit Albertze is ’n skrywer, toneelspeler en regisseur van Springbok in Namakwaland. Sy het aan die Universiteit Stellenbosch drama studeer, en het in 2018 haar honneursgraad in regie voltooi. Sy ontvang in 2017 die Beste Nuweling toekenningby die Toyota US Woordfees, 2018 die Kanna vir Beste opkomende kunstenaar, 2019 ’n Fleur du Cap nominasie vir Mees Belowende Student en in 2020 wen sy Beste Produksie by Suidoosterfees Nati-jong sterre. Bottelnek breek bekis haar debuutroman.