A place where stories unfold

UJ-pryse vir Afrikaans-kortlyste aangekondig: Baie geluk Gaireyah Fredericks en Danie Marais

Die UJ-pryse word toegeken aan uitnemende tekste in enige genre wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is en in die vorige kalenderjaar verskyn het. Die pryse is vir die eerste keer in 2001 toegeken, toe dit as die RAU-Mardene Marais-pryse bekend gestaan het. Sedert 2005, by die stigting van die Universiteit van Johannesburg, staan die pryse bekend as die UJ-pryse vir Afrikaans.

Vanjaar is 47 inskrywings ontvang van boeke wat in 2024 gepubliseer is, waarvan twee van ons skrywers, Gaireyah Fredericks en Danie Marais, onderskeie kortlyste van die UJ-pryse vir Afrikaans gehaal het.


Gaireyah Fredericks, deelnemer aan die PEN dit neer program in 2023, is op die kortlys vir die UJ-Debuutprys vir Afrikaans, vir haar eerste kortverhaalbunde, Een voet innie kabr, waaraan sy gewerk het gedurende haar tyd by Paulet Huis.

Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks

Een voet innie kabr is ’n Afrikaapse kortverhaalbundel, polsend met Kaaps-Maleise invloede. Jy hoor die klanke van dié gemeenskap, musky en soet soes ryke yt die Jannat. Gaireyah Fredericks se debuutbundel kry dit reg om gemarginaliseerde karakters en vertellers op die voorgrond te plaas. Die tailor-dokter met sy briefcase vol sample lappe, maatband en pen. Die pyn van ’n vrou wat haar pasgebore tweeling moet begrawe. Ennie stryd vannie pligsgetroue, prim en proper Marielda. En dan is daar is oek Ghoemeira wat tradisionele waardes met moderniteit moet versoen.

Gaireyah Fredericks se bundel verryk die Afrikaanse letterkunde se skatkis.


Danie Marais, deelnemer aan die Brussel tot Karoo-residensie in 2023, is op die kortlys vir die UJ-Prys vir Afrikaans, vir sy digbundel Ek en jy bestaan nie. Marais het aan sy digbundel gewerk tydens sy residensie by Paulet Huis.

Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais

Soos in sy vorige bundels bevat Ek en jy bestaan nie gedigte wat openhartige, intieme gesprekke met die leser aanknoop. Hierdie keer gaan dit egter nie oor persoonlike verhoudings en morsige liefde nie, maar oor die ongemakke van ras en klas, en die maniere waarop die verlede die hede beïnvloed binne die eie huis en gemoed in ’n era van toenemende politieke ongeduld, paranoia en polarisering.

Dis ’n bundel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly in die voorstede van Stellenbosch waar ’n koue burgeroorlog stil in die boomryke strate woed.


Baie geluk en sterkte aan ons twee skrywers!

Klik hier vir die volledige kortlyste.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *