Die Jakes Gerwel Stigting, in medewerking met NATi, die Suidoosterfees en Kunstekaap, nooi toneelskrywers uit om aansoek te doen vir die vyfde jaarlikse Jong Sterre-program. In die woorde van die produksie-mentor, Rafiek Mammon, hierdie program is “’n 100%-belegging in aspirant-toneelskrywers se toekoms, vanaf bladsy na daar’s hy en verder!”
Hierdie unieke geleentheid vir toneelskrywers skop af met drie weke se mentorskap in toneelskryf, gevolg deur produksie-ontwikkeling en uitvoering tydens die Suidoosterfees van 2024.
Aansoeke vir die program moet per e-pos gestuur word aan die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za teen 26 Mei 2023.
Aansoeke moet die volgende insluit:
- ’n Vars, nuwe toneelstuk of ’n uittreksel uit ’n nuwe toneelstuk in Afrikaans of Engels
- ’n Kort CV van die kandidaat
- ’n Motiveringsbrief vir die aansoek vir deelname aan die program
Let asseblief op: Geen toneelstuk wat reeds voorheen opgevoer is, of wat reeds deur die proses van teksontwikkeling of mentorskap is, sal oorweeg word nie.
Die name van die vyf suksesvolle kandidate sal op 23 Junie 2023 bekend gemaak word waarna die program soos volg uitgerol sal word.
Drie weke se mentorskap:
Mentorskap vind plaas vanaf 31 Julie tot 20 Augustus in die vorm van ’n residensie in Paulet Huis, die Stigting se skrywershuis wat geleë is in die sjarmante dorp Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Die bekroonde teatermaker Lee–Ann van Rooi sal vyf opkomende toneelskrywers mentor in die fynere punte van die skryf van hul toneelstukke.
Die residensie in die 200-jaar-oue Paulet Huis met sy lowerryke tuine en die bonus van die geselskap van medekunstenaars sluit in:
- Nasionale retoerkaartjies na Gqeberha (Port Elizabeth), indien nodig
- Vervoer tussen die lughawe en Somerset-Oos
- ʼn Gerieflike, eie “kamer-met-ʼn-uitsig”
- Die Stigting se inwonende sjef se heerlike maaltye
- Skoonmaakdienste
- Onbeperkte toegang tot die Internet
- Genoeg spasie vir skryf
- Tyd om sonder die onderbreking van beurtkrag te ontwikkel en te skryf
Produksie-ontwikkeling, opvoerings en verder:
- Produksie-ontwikkeling deur die Suidoosterfees met die finansiële ondersteuning van die Stigting en NATi vir opvoering by die Suidoosterfees in 2024
- Repetisielokale, dekor, rekwisiete, kostuums en tegniese hulp beskikbaar gestel deur Kunstekaap
- Projekbestuur onderneem deur die produksie-mentor Rafiek Mammon
Oor die vennote:
Die Jakes Gerwel Stigting bou voort op die beduidende nalatenskap van die ontslape professor Jakes Gerwel tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. Die Stigting het ten doel om die Suid-Afrikaanse letterkunde in die algemeen, en die Afrikaanse letterkunde, professor Gerwel se veld van kundigheid, in die besonder te bevorder. Lees meer oor die Stigting op jgf.org.za.
NATi is ’n organisasie sonder winsbejag wat fokus op die bevordering van inklusiewe Afrikaanse teater tot die voordeel van die breër Suid-Afrikaanse kunsgemeenskap. Besoek nati.org.za vir meer inligting.
Die Kunstekaap-teatersentrum is geleë in die Kaapstadse Strandgebied en dit is die kreatiewe middelpunt van die uitvoerende kunste in die Wes-Kaap. Lees meer op artscape.co.za.
Die missie van die Suidoosterfees is die onlosmaaklike verbintenis daartoe om die kuns van plaaslike kunstenaars te bevorder op die basis van inklusiwiteit soos beaam word deur die slagspreuk: “’n Fees vir almal!” Lees meer op suidoosterfees.com.