A place where stories unfold

’n Appelfees in Molteno?

Nash (my laaitie) het so ’n paar weke terug vir my genoem dat hy deur tannie Lindy Bartlett Haggard gevra is om musiek te maak by die Appelfees op haar plaas Onverwacht. Verbaas vra ek toe: “’n Appelfees in Molteno?”

Molteno is ’n klein plaasdorpie geleë op die Stormberg-reeks van die Klein Karoo-sisteem in die Oos-Kaap en is bekend vir skaapboerdery en vir Ouma Greyvenstein se alombekende Ouma-beskuit. Die fabriek lê aan die regterkant van die pad net buite die dorp, dit is nou as jy Steynsburg se kant toe ry.

So krap ek toe kop oor die appelplaas in Molteno. Ek was al baie in Molteno, maar het nog nooit gehoor van ’n appelplaas daar nie. Heel nuuskierig oor die appelplaas nooi ek toe myself na die fees.

Appelfees op die plaas Onverwacht

Ek en Lindy ken mekaar al jare. Ek en haar oorle man, Ettiene Haggard, was groot vriende en het mekaar as “Broer” aangespreek. Saam het ons gelag, gehuil, gesels en lekker vet skaaptjops en dik steaks op die kole gebraai. Hul het daai tyd in Sterkstroom gebly, nie vêr van Molteno af nie.

In elk geval, so kom ek en Nash vroeg Vrydagaand op die plaas Onverwacht aan, waar ons met ope arms ontvang is deur Lindy en Casey, die jongste van Lindy se drie dogters. Ouma Denise was ook daar, maar kon nie veel beweeg nie weens ’n gebreekte heupbeen.

Na ’n heerlike spaghetti bolognese en slaai vir aandete gaan sit ons op die stoep met ’n koppie boeretroos en ’n lang sigaret en begin gesels oor die goeie ou dae en hoe die Appelfees ontstaan het. 

Stalletjies met kuns en kunsvlyt, en kosstalletjies met heerlike varsgebraaide roosterbrood met verskeie vulsels

Ek moes van nature eers herinner word aan die slag toe ek een van die kinders se fietse gerol het na ’n paar lelike brandewyne wat Ettiene vir my geskink het; dit was nog in Sterkstroom. Gelukkig het ek met fiets en al in hul swembad beland.

Lindy vertel toe verder hoe Casey na hul eerste appel-oesjaar met die blink idee van ’n Appelfees vorendag gekom het. Casey het gereken dat appels oes arbeidsintensief is en so reël hulle toe die Appelfees op hul plaas Onverwacht.

In 2024 het hulle ’n tweede fees gehou en kom ek vertel julle wat ’n heerlike fees dit was. Bo en behalwe die warmhartigheid van die plaaslike inwoners was daar stalletjies met kuns en kunsvlyt, en kosstalletjies met heerlike varsgebraaide roosterbrood met verskeie vulsels. Dirkie se steak roll stand was ook ’n groot treffer en ek het ook lekker gesmul aan maki en california rolls wat so ’n ander antie van die dorp gemaak het. 

‘n Heerlike fees

Daar was ook stalletjies met ingelegde vrugte, tuisgemaakte marinades, konfyt, fudge en tuisgemaakte gemmerbier.

Die fees bied ook verskeie aktiwiteite aan, soos perdry en ’n 5 km-pretdraf, en die kinders is vermaak deur deel te neem aan driebeenresies, sakresies, toutrek en eierlepelresies. 

Die hoofaktiwiteit was natuurlik appels pluk; met die toegangsfooi het elkeen ’n “grand shopping bag” gekry om appels te pluk in die boorde.

Daar was ook ’n kontantkroeg en musiek om almal geeslewend te maak. 

Nash van Zyl, musikant

Na ’n heerlike dag se gekuier saam met ou vriende en nuwe kennisse is ek en Nash daardie oggend weg met twee sakke appels en ’n paar potjies van Ouma Denise se appelkonfyt.

Ouma Denise se appelkonfyt

Bestanddele:

1 kg geskilde appels, sonder stronke
1 kg suiker
1/2 suurlemoen, versap
15 ml botter

Metode:

Smeer botter aan die binnekant van die pot se rant om te verhoed dat die konfyt oorkook.

Rasper die appels, plaas dit in ’n pot en voeg die suiker en suurlemoensap by.

Kook op mediumhitte tot die konfytmengsel ’n temperatuur van 110 °C bereik.

Haal die pot van die stoof af, laat effens afkoel en verdeel die konfyt in glasbottels.

Stalletjies met ingelegde vrugte, tuisgemaakte marinades, konfyt, fudge en tuisgemaakte gemmerbier

Foto’s: Gilbert van Zyl en Apple Festival 2024, Molteno

+ posts

Gilbert van Zyl is the chef who treats our writers with his love for food, in abundance. Gilbert hails from Velddrif on the West Coast, but worked for years at Queen’s College in Queenstown, before he moved to Somerset East. Except for his involvement with the Foundation, he owns his own catering business.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *