Lof vir Kinderlê:
“Kinderlê is ’n offer van teerheid. Julius besing, bely, breek en berou met dié bundel wat wys waarom sy so ’n belangrike stem is.” Ronelda Kamfer
“Hierdie moderne skroomlose blik op die harde lewe se skoonheid oorval jou onverwags soos skielik huil.” Gert Vlok Nel
“Lynthia Julius is een van my gunstelinge in Afrikaans. Haar stempels is: ’n streeksbewustheid, in taalgebruik en omgewingskennis; geskiedkundige sensitiwiteit, karaktertekening uit die boonste rakke; en bondige seggings of beelde.” Charl-Pierre Naudé

Kinderlê – Lynthia Julius
ISBN: 9780795802706
Uitgewer: Queillerie
Datum Vrygestel: 8 Maart 2024
Prys (incl. VAT): R 240,00
Formaat: Sagteband, 96pp
Oor hierdie boek:
In Kinderlê kom verse oor die kwesbaarheid van kinders, swangerskapsverlies, genderkwessies, erotiek, en geestesgesondheid aan die bod. Die titel is die naam van ’n monument by Steinkopf in die Noord-Kaap ter herinnering aan ’n kinderuitwissing wat daar plaasgevind het – ’n historiese gegewe wat nie wyd bekend is nie. Julius tree dikwels in gesprek met haar literêre voorgangers en betrek die huidige sosiopolitiek. Sy verruim Afrikaans met die gebruik van Gariepafrikaans en Nama-woordeskat.
Lynthia Julius is gebore op Springbok, het grootgeword in Kimberley en woon tans in Bloemfontein. Sy het ’n honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en is besig met haar meestersgraad. In 2018 is sy as wenner bekroon in die AVBOB-digkunskompetisie in die Afrikaanse taalkategorie. Uit die kroes is haar debuutdigbundel en sy het hieraan gewerk tydens die Jakes Gerwel Stigting / PEN Afrikaans Skrywersresidensie van 2019. Uit die kroes roep ’n Noord-Kaapse leefwêreld op met onder meer Namawoorde wat in van die verse geïnkorporeer word. Gedigte wissel tussen, aan die een kant, ’n baie persoonlike ruimte en fokus en, aan die ander kant, die historiese ruimte van vroue waarvan daar bykans in die hede nie meer enigiets onthou word nie. Deur Lynthia se vindingryke gebruik van woorde tree die verse ook in gesprek met werke van ander digters, sonder om in te boet op die bekoring van woorde wat uit die hart met gewone mense praat.