A place where stories unfold

Persverklaring: Belgiese en Suid-Afrikaanse skrywers deel in opwindende Brussel tot Karoo-residensie in KwaNojoli in die Oos-Kaap

Die Jakes Gerwel Stigting (JGS) en Passa Porta, ’n internasionale letterkundehuis in Brussel, sien daarna uit om twee Belgiese en vier Suid-Afrikaanse skrywers te verwelkom by hul twee weke lange Brussel tot Karoo-residensie by Paulet Huis in KwaNojoli in die Oos-Kaap.

Die Belge Nele Van den Broeck en Gerda Dendooven en Suid-Afrikaners Sibuyiselo Sbuja Dywili, Shireen Mall, Charl-Pierre Naudé en Ayanda Xaba sal die residensie bywoon. Hierdie residensie vorm deel van professor Jakes Gerwel se nalatenskap – hy het in 1979 sy doktorsgraad in letterkunde en filosofie (magna cum laude) aan die Vrije Universiteit Brussel verwerf. Sy lewenslange liefde vir die Vlaamse letterkunde het posgevat gedurende sy tyd daar.

Hierdie gesamentlike projek van JGS en Passa Porta, ondersteun deur die Vlaamse regering in Suid Afrika, bied aan skrywers ononderbroke skryftyd en skep ’n geleentheid vir die kruisbestuiwing van idees en kennis tussen skrywers van verskillende agtergronde, en verryk sodoende die plaaslike en internasionale letterkunde.

Nele hoop dat die residensie die ink sal laat vloei, aangesien sy tuis voortdurend in die versoeking is om haar werkruimte op te ruim eerder as om te skryf. Toe sy aansoek gedoen het vir ’n residensie in die buiteland, het sy ’n plek gekies waar sy die taal kan praat sodat sy haar internasionale netwerk kan verbreed en die vertaling van haar eerste roman kan fasiliteer.

“Ek wil werk aan my tweede roman, The Aphid (werkstitel), wat handel oor ’n klassieke pianis wat ophou speel,” sê Nele.

Ayanda het onlangs haar suster aan die dood afgestaan en haar kinders onder haar vlerk geneem. “Noudat ons stabiliteit gevind het, is ek gereed om terug te keer na my skryfwerk en klaar te maak met ’n roman wat ek in 2022 laat vaar het toe my suster siek geword het. Ek sien uit na die kans om aan my projek te werk en om die ander skrywers te ontmoet wat deel van die program sal wees. Dit sal ook my eerste besoek aan Gqeberha en Somerset-Oos wees, so ek sien uit daarna om geïnspireer te word deur die nuwe plekke wat ek gaan sien,” verduidelik sy.

Vir Charl-Pierre sal die residensie hopelik ’n bietjie afstand van sy alledaagse lewe bied om die verswelgde dele van sy verbeelding aan te wakker. Hy werk tans aan twee nuwe romans, een in Afrikaans en die ander in Engels.

Sbuja is van plan om aan sy debuutdrama, The Salt Lesson, te werk terwyl hy by Paulet Huis is. As die broodwinner in sy huishouding kry hy nie altyd tyd om te skryf nie. Hy sê: “Ek het aansoek gedoen vir die Brussel tot Karoo-residensie omdat ek geweet het dat dit vir my kosbare tyd sou gee om aan niks anders as my toneelstuk te dink nie en dit te skryf en klaar te maak. Ek hoop om betekenisvolle verhoudings te smee terwyl ek daar is. Ek beoog om my toneelstuk klaar te maak en met my gedagtes en idees tot ander skrywers se projekte by te dra.”

Shireen beoog om haar roman Moy te skaaf. “Die feit dat ek hierdie geleentheid gegun is, bewys dat ek ernstig opgeneem word as skrywer en dit gee my die selfvertroue om nog hoër te mik. Die luuksheid van ononderbroke skryftyd in die geselskap van ander eendersdenkende mense in ’n pragtige, rustige omgewing soos Somerset-Oos is nie iets wat aldag gebeur nie. Ek wil graag nuwe verhoudings smee wat uiteindelik deure sal oopmaak en my die geleentheid sal gee om te deel,” voeg sy by.

Skrywersbiografieë

Gerda Dendooven

Gerda Dendooven (1962) is in Kortrijk, België, gebore. Sy het grafiese ontwerp aan die Royal Academy of Fine Arts in Gent studeer. Aan die begin van haar loopbaan het sy vir etlike jare toesig gehou by kinderkunsateljees in museums. Sy doseer tans Illustrasie by die LUCA School of Arts in Gent. Sy doen illustrasies vir ander skrywers, maar ook vir haar eie stories. Baie van haar verhale is as teaterstukke verwerk en sy is soms self op die verhoog. Sy skep gereeld lewendige beelde by konserte of literêre optredes. In 2020 het sy lewendige beelde vir die Brussels Filharmoniese Orkes gemaak tydens die volledige uitvoering van Peer Gynt, en saam met Mauro Pawlowski en Fikry El Azzouzi vorm sy deel van Trio El Azzouzi. In 2007 is sy namens die Belgian Reading Foundation as die eerste (en enigste) kinderkonsul aangestel. Hulle fokus op kuns, kultuur en veral letterkunde.

Nele Van den Broeck

Foto: Kaat Pype

Nele Van den Broeck (1985) is ’n teatermaker, musikant, voorsanger van die groep Nele Needs a Holiday en is die afgelope agt jaar ’n gereelde rubriekskrywer vir De Standaard. Nele het musiekproduksie aan die London College of Contemporary Music studeer. Voorheen het sy gelyktydig Drama aan die Royal Academy of Fine Arts in Gent en Duits en Spaans aan die Vrije Universiteit Brussel studeer. Sy woon in Brussel. Nele se werk handel oor temas soos sielkundige kwesbaarheid, groot drome, skreeusnaakse mislukkings en filosofiese alledaagsheid. Haar werk beeld ’n voortdurende soeke na die handleiding van die lewe uit. Sy het ’n ongewone pad geloop wat haar deur teater en musiek geneem het tot by skryf en weer terug. In 2019 is ’n bloemlesing van Nele se rubrieke, Halfvolwassen, deur Uitgeverij Horizon uitgegee. Haar debuutroman, Iemand Anders, is in 2023 gepubliseer.

Sibuyiselo Sbuja Dywili

Sibuyiselo Sbuja Dywili (2000) is ’n gepubliseerde dramaturg sowel as ’n bekroonde uitvoerende kunstenaar op die skerm en verhoog. In 2021 het hy self in sy toneelstuk Ganga Nyoko! Inzima Nyoko, uitgegee deur Junkets Press, gespeel en die Zabalaza-toneelfees se toekennings vir beste produksie en beste akteur gewen. Hy is ook genomineer vir drie Fleur du Cap-teatertoekennings, en wen die prys vir beste nuwe regisseur. In 2021 is hy deur Lara Foot van die Baxter-teater genooi om aan die Masambe Writing Residency deel te neem, waartydens hy sy tweede toneelstuk, Ngxi!, geskryf het. Hy het ’n gevorderde diploma in filmvervaardiging met hoofvakke in regie, draaiboekskryf en vervaardiging. Sbuja het die voorreg gehad om by die Baxter-teater onder leiding van David Kramer onderrig oor musiekteater te ontvang.

Shireen Mall

Shireen Mall kom uit ’n gesin van agt seuns en drie dogters, almal gebore en getoë in ’n vervalle skakelhuis in Athlone op die Kaapse Vlakte. Shireen is die enigste een wat verder studeer het en het ’n BA Hons in Engelse letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland en ’n MA in kreatiewe skryfkuns aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad verwerf. Shireen het nog altyd ’n stille ambisie gekoester om eendag ’n groot skrywer te wees wat lank na haar dood nog erken word vir haar bydrae. Sy wens dieselfde toe vir enigeen wat dit begeer.

Charl-Pierre Naudé

Foto: Alet Pretorius

Charl-Pierre Naudé (1958) is ’n Suid-Afrikaanse digter en romansier. Hy is ook ’n opgeleide en gepubliseerde filosoof met spesifieke belangstelling in hoe ons die geskiedenis onthou en die manier waarop samelewings ontwikkel. Hy het verskeie boeke en bloemlesings agter sy naam. Hy het aan verskeie literêre feeste en residensies in Europa, Suid-Afrika en Indonesië deelgeneem, en vertalings van sy poësie het in literêre tydskrifte en bloemlesings in Nederland, België, Duitsland, Noorweë, Frankryk, Indonesië, Brittanje en die VSA verskyn. Hy is in Kokstad aan die voorheuwels van die Drakensberge gebore en het die grootste deel van sy kinder- en grootwordjare in Oos-Londen, omring deur plat bome en klein riviertjies, deurgebring. Hy het aan die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat studeer en woon en werk in Johannesburg.

Ayanda Xaba

Ayanda Xaba (1990) is oorspronklik van Ladysmith in KwaZulu-Natal. Haar passie vir skryf het op 10-jarige ouderdom posgevat en tydens hoërskool ontluik toe sy deel was van ’n skrywersgroep, Dancing Pencils, wat gelei het tot die publikasie van haar werk in talle bloemlesings. Sy het haar eerste roman, The EZ Gang (umSinsi Press), op 16-jarige ouderdom gepubliseer, gevolg deur vyf selfgepubliseerde hardekopieë: Ulala: The Journey of Discovery, die bekroonde Through Her Eyes, The Maiden & The Bear, SCARRED en DAMNED; en ’n e-boek, No One’s Hero, op Amazon. Ayanda is ’n bydraer vir FunDza Literacy Trust en haar werk is ook op Reader’s Café Africa, Kalahari Review en Gamaphile en in Drum-tydskrif gepubliseer. Sy het ’n sertifikaat in kreatiewe skryfkunde van INTEC College en ’n joernalistiekdiploma van ICESA Education verwerf. Sy verbeter voortdurend haar skryfvaardighede deur werkswinkels by te woon. In Februarie 2024 was sy die koördineerder van die eerste iLembe-boekfees wat by die Luthuli-museum in KwaDukuza (Stanger) in KwaZulu-Natal plaasgevind het. Tydens die residensie gaan sy aan die derde boek in haar SCARRED-reeks, Triggered, werk.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *