Huisgenoot se kortverhaal: “Die belofte” deur Tenita Kidelo

Tenita Kidelo, deelnemer aan die Kommadagga Slypskool in 2024, beskryf haarself as ’n Bolander met ’n Karoo-agtergrond. Sy het haar meestersgraad in die letterkunde in 2020 voltooi en werk tans aan verskeie kortverhale wat sy graag wil afrond. Van die hoogtepunte in haar loopbaan is haar eerste verhaal wat in Kuier gepubliseer is en ook haar werk as radio-omroeper by RSG vir die programme Kompas en Kopkrap vir jonger gehore. Die Kommadagga-slypskool was vir haar ’n geleentheid om ’n beter skrywer te word en ’n gelukkige einde vir haar stories in ’n kortverhaalbundel te vind.

Tenita Kidelo se kortverhaal, “Die belofte” , wat sy tydens die Kommadagga Slypskool op Somerset-Oos geskryf het, is nou op Huisgenoot se webtuiste beskikbaar:

Die belofte

Stefaans was haar eerste groot liefde, maar verwag hy regtig sy gaan hom sommer net terugvat nadat hy sy woord verbreek het?

“Ek belowe.” Dis ongemaklik verstommend hoe net twee woorde jou hele bestaan kan word en hoe een mens jou lewe kan verander, dink Cornelia terwyl die gebeure soos e.tv se Anaconda in haar kop afspeel. Stefaans was haar eerste groot liefde.

Hulle was van hoërskool al onafskeibaar, met die belofte dat hulle eendag ewige trou aan mekaar sou verklaar. Dit is nou al die hoeveelste keer dat sy na hul trouvideo op haar foon kyk. Dit kan nie ’n gesonde obsessie wees nie, besluit sy en stap na die venster.

Buite oor die blou skyn Mosselbaai se son op sy helderste, en teen die kus langs dans die wind. Dis goed dat sy hier is. Sy kyk uit op die kalm branders wat ritmies oor die rotse breek. Die soort breek wat alles laat stilstaan en jou aan die mooiheid van weer begin laat glo.

Sy word bewus van die radio wat in die agtergrond speel. “Dit dan jou twaalfuurhooftrekke, net hier op Middag op RSG, saam met my, Sue Pyler, en Ettienne Ludick. Net hierna gesels ons oor die idiom ‘belofte maak skuld’, maar eers ’n vinnige musiekbreek. Hier is Lianie May en Jy met ‘Pleister vir my hart’.”

Snaaks hoe die noodlot jou hart tart wanneer jy dit die minste verwag. Sy haal nog ’n bottle rooiwyn uit die kas terwyl haar oog die drie leë bottels op die toonbank vang. Haar ma sal nie beïndruk wees nie. Sy kon nog nooit ’n vuil huis duld nie. Volgens haar is dronkverdiet ook nooit die antwoord nie, maar soms is ’n mens juis nie opsoek na antwoorde nie.

Net tydelike pynverdowing. Sy kan nie hierdie soort musiek verdra nie. Altans, nie meer nie. Dis doodstil in die huis toe sy die radio afskakel.

Klik hier om die hele kortverhaal op Huisgenoot se platform te lees.

Tenita Kidelo
Tenita Kidelo

Tenita Kidelo beskryf haarself as ’n Bolander met ’n Karoo-agtergrond. Sy het haar haar meestersgraad in die letterkunde in 2020 voltooi en werk tans aan verskeie kortverhale wat sy graag wil afrond. Van die hoogtepunte in haar loopbaan is haar eerste verhaal wat in Kuier gepubliseer is en ook haar werk as radio-omroeper by RSG vir die programme Kompas en Kopkrap vir jonger gehore. Die Kommadagga-slypskool is vir haar ’n geleentheid om ’n beter skrywer te word en ’n gelukkige einde vir haar stories in ’n kortverhaalbundel te vind.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *