A place where stories unfold

Die Jakes Gerwel Stigting, LitNet en ‘Huisgenoot’ kondig die kandidate vir die vyfde Kommadagga-slypskool aan 

Die Jakes Gerwel Stigting, LitNet en Huisgenoot maak met groot opgewondenheid hul verkose kandidate bekend vir die vyfde Kommadagga-slypskool wat hierdie jaar van 14 Oktober tot 3 November plaasvind.  

S’fundo W. Sosibo, Sibusiso Fihlani, Tenita Kidelo, Tiaan Booyens (La Grange) en Vuyokazi Ngemntu, vyf opkomende skrywers wat ons diverse tydgees in kort skryfstukke wil saamvat, is binnekort op pad na Paulet Huis, die Jakes Gerwel Stigting se bekoorlike “ander tuiste” vir skrywers in die oase-dorpie van KwaNojoli (Somerset-Oos) in die Oos-Kaap. 

Tydens die drie weke lange slypskool sal die kandidate ’n intensiewe mentorskap ondergaan in die skryf van kortverhale en ander kort skryfstukke. Die gesoute mentor, Fourie Botha, is ’n bekende in die uitgewersbedryf en het al menige Suid-Afrikaanse skrywer se skrywersboot suksesvol geloods, eers as uitgewer by Penguin Random House en nou as literêre agent. Fourie is self ’n bekende digter met twee bundels, Donkerkamer (benoem vir die Ingrid Jonker-prys) en Krap uit die see, op sy kerfstok. 

Waar die kandidate reeds met geesdrif uitsien na die publikasiegeleentheid wat LitNet en Huisgenoot na afloop van die slypskool aan hulle bied, kan hulle met hierdie mylpaal van ’n vyfde aanbieding van die Kommadagga-slypskool ook uitsien na die uitsonderlike geleentheid om Paulet Huis te deel met die ikoniese skrywer Zoë Wicomb, outeur van, onder meer, You can’t get lost in Cape Town, David’s story, Playing in the light, The one that got away, October en Still life

Ons stel die kandidate kortliks voor: 

S’fundo W. Sosibo 

S’fundo Sosibo, voorheen ’n lektor aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, skryf in die tradisie van absurde drama. Sy werke bou Afro-queer narratiewe uit en neem temas soos identiteit en tradisie onder die loep. S’fundo het reeds vir die Nasionale Kunstefees op Makhanda geskryf, deelgeneem aan die Almasi African Playwrights Conference en is genooi vir die eerste queer-skrywersimposium in Zimbabwe (Walking with Shadows) in 2022. Hy is ’n alumnus van die Johannesburg Institute for Advanced Study (JIAS) en sy kortverhale haal die kortlys van gesogte kompetisies. S’fundo wil graag ’n trilogie van verhale waaraan hy tans werk, voltooi en publiseer. 

Sibusiso Fihlani 

Sibusiso Fihlani is ’n skrywer en dramaterapeut wat daarin glo om sy talent te gebruik om ’n verskil te maak. Hy is die voorsitter van Art that Matters, direkteur van die Ezempilo-fees vir geestesgesondheid en het by die Rural Health Advocacy Project (RHAP) en Nkosi’s Haven gewerk. Hy is ’n genoot vir gesondheidsgelykheid van die Atlantic Institute en Tekano. Met sy teater- en gemeenskapswerk het Sibusiso reeds die Dr John Kani-prys, die Yvonne Banning-prys en die Regter Edwin Cameron-toekenning ingepalm. Sibusiso wil graag sy skryftalent verder ontwikkel om maatskaplike verandering teweeg te bring. 

Tenita Kidelo 

Tenita Kidelo beskryf haarself as ’n Bolander met ’n Karoo-agtergrond. Sy het haar haar meestersgraad in die letterkunde in 2020 voltooi en werk tans aan verskeie kortverhale wat sy graag wil afrond. Van die hoogtepunte in haar loopbaan is haar eerste verhaal wat in Kuier gepubliseer is en ook haar werk as radio-omroeper by RSG vir die programme Kompas en Kopkrap vir jonger gehore. Die Kommadagga-slypskool is vir haar ’n geleentheid om ’n beter skrywer te word en ’n gelukkige einde vir haar stories in ’n kortverhaalbundel te vind. 

Tiaan Booyens (La Grange) 

Tiaan Booyens eien vir hom die skrywersvan La Grange, sy ma se nooiensvan, toe. Vir hom verteenwoordig hierdie keuse al die sterk vroue en saggeaarde mans wat hom geïnspireer het om te begin skryf. Sy studies onder leiding van prof Sally-Ann Murray in kortskryfkuns tydens sy taal-en-kultuur-kursus was ’n hoogtepunt. Dié ervaring het hom ná sy honneurs in Frans na vryskutwerk vir en internskappe by uitgewers soos NB-Uitgewers, Penguin Random House en Mirari Press gelei. Skryf is vir Tiaan die medium waardeur die menslike gedeel kan word en hy droom daarvan om sy eie jeugverhale te publiseer. 

Vuyokazi Ngemntu 

Vuyokazi Ngemntu is ’n uitvoerende kunstenaar en skrywer van Kaapstad wat digkuns, sang, fisiese teater, stories en rituele kombineer om trauma afkomstig uit vorige geslagte te navigeer, ongelykheid te konfronteer en heling te bring. Haar kortkuns behaal reeds groot welslae met haar kortverhaal “Binnegoed” wat aangewys is as algehele wenner in ’n streekskompetisie van die Afrikatydskrif Ibua Journal en “The serpent’s handmaiden” wat die kortlys vir die Share Africa Climate Change-toekenning vir fiksie gehaal het. Sy werk tans aan ’n kortverhaalbundel met die werkstitel The book of shadows & triggers

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Die Jakes Gerwel Stigting, LitNet en ‘Huisgenoot’ kondig die kandidate vir die vyfde Kommadagga-slypskool aan ”