A place where stories unfold

Ant Sarie se ingelegde kerrievis

As ek die woord Paasfees hoor, assosieer ek dit nie net met die opstanding van Jesus nie, maar ook met kwaliteittyd saam met familie en vriende, heerlike visgeregte en staaltjies om die tafel.

My pa het twee neefs gehad – die een was Kort Piet en die ander was Lang Piet. Dit was ’n jaarlikse instelling dat ons vir die twee Piete in St. Helenabaai gaan kuier het. Dis die enigste dorp langs die Suid-Afrikaanse Weskus waar die son oor die baai opkom weens sy unieke ligging, waar die dorpie noordoos, amper noord, front.

Ek en my oorlede oudste broer was altyd so opgewonde wanneer At (my pa) sy rooi Nissan-bakkie begin laai het vir die road trip. Ma Hessie het altyd gesorg vir padkos – lekker gebraaide snoek met jambroodjies.

Kort Piet was ’n sjef in die vloot en Lang Piet ’n sjef in die weermag. At was ook ’n boffin in die kombuis en het altyd die heerlikste bredies gemaak. My mond water nog steeds as ek aan sy waterblommetjiebredie dink. Kosmaak is maar in die Van Zyls se bloed.

Ek onthou ook nog goed hoe Kort Piet altyd vir ons gesit en wag het onder die afdak by sy pragtige vissershuisie, so ’n klipgooi weg van die turkoois water van die Atlantiese Oseaan, met ’n vuurtjie wat brand aan die een kant, stoele uitgepak vir die groot gesels, FM’pie wat blerts in die agtergrond en die bokkoms wat altyd soos muurbehangsels van die dak af gehang het.

Lang Piet was die grapmaker en storieverteller en het ons ure lank vermaak met sy staaltjies terwyl Ant Sarie en Ma Hessie die lang tafel buite stil-stil dek en versier met blomme wat Ant Sarie vars uit haar tuin gepluk het vir die groot fees. Dit was ook ’n instelling dat Ant Sarie deur gebed vir ons herinner waaroor Paasfees gaan voor sy ons bederf met haar heerlike ingelegde kerrievis, soetpatats en paraffienblikbrood wat met vars plaasbotter en appelkooskonfyt bedien is.

Ant Sarie se ingelegde kerrievis

Ant Sarie het gewoonlik stokvis of koningklip (kingklip) gebruik, maar enige ferm witvis is ideaal.

Bestanddele

2 kg vis, in 3 cm-blokkies gesny
olyfolie vir vlakbraai
3 groot uie, in ringe gesny
2 eetlepels mielieblom

Kerriesous

3 koppies bruinasyn
1 koppie bruinsuiker
1 koppie water
2 vars knoffelhuisies (fyngemaak)
2 teelepels vars gemmer (fyngemaak)
3 eetlepels kerriepoeier (Raja)
2 eetlepels borrie
1 eetlepel swartpeperkorrels
4 lourierblare

Metode

Braai die visblokkies in warm olie in ’n groot kastrol oor mediumhitte vir 3 minute aan elke kant. Haal die vis uit die kastrol sodra dit gaar is.

Roerbraai die uie tot sag (omtrent 10 minute) en skep die uie uit in ’n bord.

Meng die kerriesousbestanddele in ’n glasbeker.

Plaas die mielieblom in ’n maatbeker en meng met ’n klein bietjie koue kerriesousmengsel tot opgelos.

Giet die oorblywende kerriesous in ’n kastrol, bring tot kookpunt en roer dit totdat die suiker opgelos het. Voeg die koue kerriesousmengsel met die mielieblom by die warm sousmengsel en laat prut vir 10 minute totdat die sous verdik (nie te dik nie).

Pak die vis en uie in lae in ’n glasbak met ’n deksel.

Laat die kerriesous afkoel, gooi dit oor die vis en plaas die bak met sy deksel op in die yskas.

Laat staan vir ten minste drie dae voor bediening.

Foto van die ingelegde kerrievis: Gilbert van Zyl

Foto van sjef Gilbert: Lisa-Anne Julien

+ posts

Gilbert van Zyl is the chef who treats our writers with his love for food, in abundance. Gilbert hails from Velddrif on the West Coast, but worked for years at Queen’s College in Queenstown, before he moved to Somerset East. Except for his involvement with the Foundation, he owns his own catering business.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *