A place where stories unfold

Deel 8: Kgotsafalang

So sit kyk Kgotsafalang, wat gedoen word teen tjaila-tyd: gereedskap, klein en swaar, word skoongemaak, opgedra na ‘n waentjie toe, en daar wag van die werkers om die waentjie kampie toe te stoot. Toe Davies op gestap kom, en so oor die goed kyk, kyk hy na Kgotsafalang, en wys met sy kop, ‘Kom’. Kgotsafalang staan dadelik op, swaai die een bondel op sy rug, en sit die ander een onder sy een arm. Toe stap hy agter die prosessie aan. ‘n Ent verder kyk Davies om, om te sien of hy aankom, en groot is sy verbasing toe hy sien die jongman het plek gekry op die waentjie vir sy bondels, en is aan’t help stoot aan die waentjie, kampie toe.

By die kampie gekom, staan kyk Kgotsafalang hoe en waar die gereedskap weggebêre word. Die werkers hou hom dop, en een praat in Zulu, sonder om na hom te kyk. Hy vra waarvandaan hy kom, of hy werk soek daar. Hy sê hy kom uit Brandfort uit, en die werker vra hom waar hy gaan bly. As hy nie plek het nie, kan hy by hulle kom bly in die kampong. Net toe praat Davies met hom, en die werker stap vinnig agter die ander werkers aan.

Davies vra hom, met gepaste gebare daarby, ‘You work for me?’.

Toe, met dieselfde gepaste gebare, soos vir werk, sê Kgotsafalang met ‘n bree glimlag, ‘Work!’  

Gareth Davies gooi vir die eerste keer in ‘n lang tyd sy kop agteroor, en lag uit sy keelgat uit. Die hele middag al, draai sy gedagtes om die vreemdeling wat daar aangekom het. Van al die kleims, en al die mense wat heen en weer daar op die delwerye rond loop, moes die kêrel daar naby sy kleim kom staan! Dis asof hy daarna toe gestuur is. Hy het mos ‘n werker wat kan opgelei word, dringend nodig. Die man is jonk; hy lyk skerp en gretig, maar beste van alles is, hy’s vriendelik. Hy sal maklik en gou leer. So, hy sal die jong man by hom hou sodat hy hom vinnig kan leer en oplei.

Slaapplek is die eerste ding. Die bergplek vir gereedskap is op die oomblik die enigste plek waar mens plek kan maak vir iemand om te slaap. Hy moet dit eers met die man bespreek, en vir hom gaan wys waar hy hom solank kan inrig. Later sal hy aan ‘n beter plek dink. Toe raak dit aand, en Davies begin kos maak. Hy maak ‘n vuurtjie buite, soos al die ander delwers. Hy gooi water uit ‘n kan en sit dit op vir koffie. Kgotsfalang ken vuurmaak. Hy ken van buite kosmaak. Dis soos hy groot gemaak is. Gogo het al die groter kinders, waaronder Kgotsafalang, ook geleer, pap maak, groente skil vir groente-kos, terwyl sy net gesit oversien het hoe die groot kinders met die kos werk. Hy ken vleis goed ook. Hoenders, by hulle, loop op die werf rond. Hoender-slag; vere-pluk en veertjies afbrand, is hulle werk as kinders. Die ouma sit, en berei die hoender voor vir ete.  Kruie en sterk blaartjies van plante uit die veld, gee die geur, en die smaak. Groente uit hulle tuintjie langs die huis uit, maak die bord vol. Kgotsafalang is gewoond daaraan. Hy sien hoe Gareth Davis die vleis opsny en aartappels skil,  en alles in die pot gooi, en wonder hoe die kos gaan smaak wat uit die pot gaan kom. Hy sien nie uie in die pot ingaan nie. Hy sit so entjie weg, en wil nie help nie, tensy hy gevra word. Later kom die brood, in dun snye gesny, en met iets gesmeer. Toe die kos in blikborde geskep word, word daar vir twee geskep. 

Food!’ Davies, en hou die kos na Kgotsfalang uit.

‘Food!’kom die eggo van Kgotsafalang se kant af.

Met ‘n bree glimlag op sy gesig, sê die Walliese mynwerker, ‘Eat!’en wys na sy mond. Weer is hy verras toe Kgotsafalang die woorde herhaal, en begin te eet, Kgotsafalang is so honger soos ‘n wolf. Die kossies op die blik-bord lyk maar skraal. Kgotsafalang se bord is leeg met net ‘n paar trekke van die sny brood. Sy koffie kry hy by die vuurtjie, en dis daar waar die twee weer aan’t gesels gaan.

Skielik kyk hy op, en daar is ‘n diep frons op sy gesig. Hy dink duidelik aan iets. Sy mond prewel iets. Sy een hand se vingers trommel liggies teen die kant van sy kop, terwyl hy toe oë aan’t prewel is. Davies wonder wat met hom aangaan, en of hy miskien bid, maar toe skielik weet hy waarmee die jongman sukkel. Daar is ‘n woord wat hy vroeër gehoor het, wat hy wil gebruik, maar nie kan onthou nie. 

‘Thank you!’ sê Davies sag. Kgotsafalang se gesig vertek ,en hy lag. ‘Thank you’ lag hy, ‘Thank you’. Davies lag net so lekker saam. Vir vier maande het hy alleen in die vreemde gebly, ver van sy huis af, met geen geselskap nie, behalwe die gesukkel met die swart mans om hom te verstaan, op die delwerye.  Die man by hom is heel anders as die mans wat elke dag by hom kom werk. Hoeveel keer het hy nie al probeer om ‘n enkele Engelse woord te gebruik nie, sodat hulle darem mekaar kan begin verstaan. Elke keer was hy verleë omdat hulle hom net aangestaar het, en later weg gedraai het, en onder mekaar begin gesels het. Hy’t maar met gebare en kreun-geluide voortgegaan om hom verstaanbaar te maak. En dit was aanvaarbaar vir sy werksmense.

 Hy sal moet baie strategies te werk gaan om Kgotsafalang se teenwoordigheid in die wit kamp te regverdig. Die enigste ding wat die deurslag sal gee, is Kgotsafalang moet Engels leer praat. En gou ook. So begin Kgotsafalang se taal aanleer later die aand. 

‘I am Gareth Davies’ en ‘My name is Gareth Davies’ is opgevolg met ‘I am Kgotsfalang Tsepane’ en ‘ My name is Kgotsafalang Tsepane’ na die vraag, ‘Who are you?’ of ‘What is your name?’     

Die algemene groetvorme leer Kgotsafalang sommer daardie eerste aand al. Davies se voorneme is om ook Kgotsafalang se taal aan te leer, soos die tyd sal verloop. Dit is vir hom, niks minder reg nie. maar eers moes Kgotsafalang die Engelse taal gou leer. Hy sal sommer so in die loop van die dag, elke dag, ‘n woord, of ‘n groep woorde, herhaaldelik gebruik soos hulle werk met die gereedskap, sodat Kgotsafalang die soort werk met die name van gereedskap kan assosieer.

Vir Kgotsfalang is alles nuut. Hy’s soos ‘n seuntjie in ‘n vreemde plek, kyk rond, en maak seker hy sal die wit tentjie van Davies tussen al die ander wit tentjies weer kan kry. Langs die wit tentjie is die sinkhuisie. met ‘n slot aan. Daarin word die gereedskap gebêre. Hy’t besef as hy die werk wil behou, hy alles sal moet uithaal. Die werk is nuut en onbekend aan hom. Hy sal van vooraf moet leer. Davies neem hom die aand na die gereedskaps-huis toe, en wys hom waar hy vir hom ‘n slaapplek kan maak. Kgotsafalang is bly, want dit het hom die hele dag bekommer, na die ander werker hom na sy blyplek gevra het, waar hy sou bly. Davies los hom alleen, om ‘n plekkie vir hom reg te maak. Kgotsfalang bekyk eers die ruimte, en sien die gereedskap is net ingestoot, en ingedra, en gelos om die volgende oggend weer maklik uit te kry. Wat hy toe doen, is om die greedskap nader na mekaar te stoot, en party bo-op die ander, te plaas. Die twee kruiwaens het baie pakplek bo-op hulle gehad. So pak hy die gereedskap reg, sodat dit steeds die oggend net uitgestoot, en afgepak kan word. Agter die gereedskap, teen die agterste muur, het hy sy bondels losgemaak, en sy goed uitgepak. As mens die deur  oopmaak, sal jy nie sommer sy slaapplek raak sien nie. Dit vind Davis toe hy later die deur oopstoot, en tot sy ontsteltenis Kgotsafalang nêrens sien nie! Hy’t wragtag weggeloop! is sy eerste gedagte. Sy bondels, wat hy by hom het, is ook nie in die hokkie nie. Hy’s weg!

‘No, dammit, man!’  sê hy hardop, en slaan die deur weer toe.

 Terwyl hy toe nog voor die deur staan, met sy hand teen sy voorkop, hoor hy ‘n gedempte, ‘No, dammit, man!’ van binne af. Hy ruk die deur weer oop, en soek met sy oë tussen die gereedskap deur, tot hy vir Kgotsafalang op sy knieë, daar agter, voor sy bondels, sien sit. Dié kyk hom baie verbaas, en verskrik, aan. ‘n Vraag is op sy gesig. Vir Davis is die verligting so groot hy kon Kgotsafalang om die nek gryp as hy naby genoeg by hom was.

‘OK?’ is Kgotsafalang se vraag aan Davies. Sy ma het hom baie jare gelede, toe hy nog kind by haar op die wa was, sulke woorde geleer. Davies het toe ook onmiddellik geweet dit was nie per ongeluk dat Kgotsafalang die woord so gepas gebruik nie. Hy het dit reeds geken. Davies wou hom nie vra nie – hy sou later uitvind waar, en by wie. 

‘Five o’clock wake up’; wash; eat; go’, is van die belangrikste woorde wat hy Kgotsafalang wil leer vir die aand. Die res van die leerwerk sal vinnig gebeur sodra hulle op die delwery kom. Kgotsafalang hou Davis dop toe hy die woorde uitspreek, en met gebare dit vir hom leer. Toe hy die woord ‘wash’ verduidelik, is Kgotsafalang dadelik geïnteresseerd. Hy herhaal later die woord ‘wash’, en maak was-bewegings met sy hande, oor sy lyf. Davies verstaan. Hy wys hom op sy horlosie hy sal hom later sê. Weer is hy be-indruk, en die  idee wat hy van swart-mense het, staan lelik bevraagteken in sy kop. Na die les wys hy met sy hande gevou teen die kant van sy kop, vir Kgotsafalang: dis tyd om te slaap. Kgotsafalang, het dieselfde idee, want sy dag was vermoeiend en lank. Hy herhaal die woord, ‘sleep”, tel sy hand op in ‘n groet, en draai om na sy slaap-plek toe.

Sy slaap kom nie onmiddellik nie. Hy lê dink aan die die dag, en die gebeure van die dag. Hy’t ver gekom, ‘n paar nagte in die veld moes slaap, maar daarna was hy gelukkig om met tansport-ryers saam te ry. Hulle’t sy ma geken. Toe het die deur vir hom oopgegaan.

Hy voel hy is na Davies toe gestuur.

                                                                        ——————————-Kgotsafalang 8——-

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *