
Wenner: Eunice Visser vir Die Kaapse slawe 1652–1838 (Protea Boekhuis)
Commendatio: Jeremy Vearey
Eunice Visser se kultuurhistoriese perspektief op die Kaapse slawe van 1652 tot 1838 is ’n rare werk van geskiedskrywing oor ’n onderwerp wat soms eensydig belig word. Dis ’n boek wat sy plek kan volstaan as ’n inklusiewe komvandaanstorie van die groter ons in Suid Afrika, met al sy uiteenlopende, maar tog saamvloeiende kwaste en greine. Sy vermag dit in toeganklike Afrikaans met die nodige diepgang sonder om in intellektuele hoogdrawendheid of anakronismes te verval.
Deur die prisma van haar besonder vars kulturele invalshoek belig die skrywer die lewenswêreld van die slawe met seminale pitkos oor wat ons in Kaaps bedoel met die uitdrukking “alles-en-wat-wat”. Dit beteken nie dat sy lukraak veralgemeen en versamel het nie. Sy het forensies tot op die hibriede substraat van die slawewêreld gedelf.
Hierdie boek se alles-en-wat-wat strek van outentieke resepte en eiesoortige argitektuur en boukuns tot onderlinge verskille in arbeidspraktyke en subkultuur – iets wat generiese geskiedskrywing soms ahistories oorveralgemeen. Die besonderhede van verskille in taalgebruik, woordbou, geskiedenis en hibridiese geestelikheid onder Kaapse slawe word genuanseerd hanteer. Dit skryf nuwe ruimtes oop vir navorsing en geskiedskrywing oor dié onderwerp. Om aan ons slawevoorouers te ontleen: boenting met vars insigte vir die sekolah van die toekoms.
Lees verder hier:
Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.
