Beste Wemar
Dis ’n Woensdagaand in Westdene naby die befaamde brug neffens die UJ-stadion en die kersvlam skitter in sy oë. “Liaak jy die plek?” vra ek prontuit. ’n Knip in die oog en sy vingers gly oor my hand soos sy dimpel sigbaar word. Fok ek is lucky, dink ek in my kop.
Ek en die Boetie met die Bybel in die hand sien mekaar nou al ’n paar maande en elke keer as ons saam is voel dit soos daardie eerste aand langs Hendrik Potgieter-hoofweg. Daardie aand toe ek hom vir die eerste keer ontmoet het en later sommer warm gevry het in my allesbehalwe knap Suzuki Swift. Daar was geen oordeel in ons oë nie, geen skaamte in ons hande se vat-en-voel nie, net die vurige belustiging wat kom as jy iemand ontmoet wat uiteindelik jou sien vir wie en wat jy regtig is. Dis hoe ek gevoel het dan en nou, vanaand, nog meer met meer kennis oor hoekom hy is wie hy is.
“Dis ’n oulike spot. My tipe vibe,” kap hy terug na ’n sluk van sy Belinda Louw*. Ek verdwaal elke keer so tussen sy grou oë en diep lyne op sy voorkop. Hier’s niks onperfek nie, net die rouheid in elke deel van sy gesig en wese, nes ek daarvan hou. “So, wil jy daaroor praat?” vra ek saggies. “Ek dink nie ek wil dit deel van ons aandjie maak nie,” huiwer hy. “Dis juis hoekom ek jou hiernatoe gebring het. Sodat ons kan chat daaroor. Ek liaak nie om jou so in ’n toestand te sien nie. Wat het jou ma-hulle gemaak?” spring die vraag uit my. Eers gly sy oë na al die verste dakhoeke van die vibey spot en dan kyk hy my stip aan: “Ag, dit voel net soms asof hulle nie eers compassion vir my het nie. Dis so fokken dom want ek gee en gee en gee die hele tyd vir ander, maar as ek bietjie terug verwag… jy weet, ’n bietjie verstaan… kan hulle nie.”
Die Boetie met die Bybel in die hand dink al ’n geruime tyd aan trek na ’n ander woonstel. Tans bly hy in ’n okei-erige solder op die kerkgronde van die kerkbediening waaraan hy hoort. Ek het hom so gekry en dit pla my glad nie. Inteendeel, die eerste keer aan’t huis by hom het ons soos tieners gegiggel oor al die “sonde wat ons op die kerkgronde pleeg”. Dit het die adrenalien eers laat pomp met elke soen en elke byt aan die lyf. Hy bly al amper ses jaar daar en die min huurkoste het hom vir lank gelukkig gehou, al was hy gevra of soms dietjies en daitjies te doen op die perseel. Maar nou voel die Boetie met die Bybel aan die hand dat hy’s nie meer net ’n huurder nie, hy’s sommer die “fokken koester” van die kerk. “Koster,” het ek hom eenkeer reggewys maar hy het dit vergeet.
Lees verder hier:
https://knaap.substack.com/p/die-boetie-met-die-bybel-in-die-hand
- knaap.brief is die eerste weeklikse queer nuusbrief, met Wemar Strydom (@bookishcub) aan die stuur /the first weekly queer newsletter in Afrikaans, sent out by Wemar Strydom (@bookishcub) /
- knaap.brief is op: https://knaap.substack.com/ en https://www.instagram.com/knaap.brief.
Herschelle Benjamin is ’n dramaturg, kunsjoernalis, rubriekskrywer, akteur, regisseur, digter, publisiteit spesialis en digitale bemarker. In 2018 is hy deel van die Kunstekaap se Nuwe Stemme-program, wen die Elizabeth MacLennan Internasionale beurs vir Teater van die Universiteit van Edinburg asook ’n Teksmark Skrywersbeurs en voltooi ‘n kunsjoernalistiek internskap by Die Burger. In 2019 debutteer hy met sy teks, In Slavenhuis 39, by die Toyota US Woordfees, waarvoor dit met die ‘Beste Opkomende Kunstenaar(s)’-prys bekroon is en ’n kykNET Fiesta-nominasie vir Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Teks inpalm.
Sy eerste opdrag-radiodrama vir die ATKV en Tienertoneel, Drosters, speel ook in 2019 op RSG. Hy was ook gekies vir die Jakes Gerwel Skrywersresidensie vir Jong Dramaturge te Somerset-Oos onder mentorskap van Amy Jeptha. Sy ander dramatekste tot dusver sluit in Dooie Drome, Aas Poetica, Korreltjie Kop Klong is my Dood en Agulhasvlakte.
As digter word hy verskeie kere in die jaarlikse universiteitsdigbundel, Penseel, gepubliseer tydens sy studentjare. Sy debuutbundel, In Slavenhuis 39, is in 2021 deur Protea Boekhuis uitgegee.