A place where stories unfold

DIE KONKUBINAATSKAP VAN SARA VAN DIE GORINGHAIKONA 

Met ‘n kabaaiband om haar nek aan die dwaarsbalk van ‘n skaapstal omstrengel terwyl ‘n Kaapse bergwind ‘n sarong teen haar naakheid vertroetel, was Sara seker in die somer van 1671 vir die vryswartin Angela van Bengale ‘n wrede ontnugtering. Hier voor haar hang die vier-en-twintig jaar oud Sara van die Goringhaikona. Dié het net soos dié ouer Angela, verwester deur hul eers lotsverbonde konkubinaatskap, hulle oorlewering aan die genade van hul beskermduiwels van Kompanjie oorgelaat. Angela s’n meer voordelig want sy het na haar troue met die vryburger en suksesvolle sakeman Arnoldus Basson in 1669, een van die rykste vroue in die Kolonie geword.

Hulle sê Angela het daardie dag nadat haar kneg Franscious Champelaar vir Sara van die dwarsbalk afgehaal het sielsdiep geween. Nie eers die stal se muwwe skaapmis stank en pisvog walms kon haar stuit nie. Daar het sy bly sit met Sara se kop op haar skoot, en haar geesgenoot se ontluikende swanger boeb gestreel totdat die Kompanjie se soldate hulle ontknoop het.

Sara is nog dieselfde dag deur die Kompanjie se Raad van Justisie aan selfmoord skuldig bevind en vanaf die skaapstal deur die dorp se strate gesleep tot by ‘n galgpaal waar sy gehang was. Daar het sy voor almal vir ‘n paar weke onder haar sarong in die Kaapse bergwindsommer van 1671 vergaan. 

Maar nie al Van Riebeeck se amptenare en vryburgers het met die Raad van Justisie se vooroordele oor Sara se lewe as kneg in die Hendrik Lacus huis saamgestem nie. Alhoewel hy ten tye ook skuldig bevind is aan diefstal van Kompanjie eiendom, geldverduistering, en voor die Sara insident uit Kompanjie diens geskors is, het die Raad van Justisie steeds gevoel sy wellustigheid was haar skuld. Nie eers die feit dat Lacus se vrou hom hier gelos het en vir wyle by haar pa in Indië gaan woon het, was as verdaagd beskou nie.

Dis net spyt dat een van daardie simpatieke amptenare eers veels te laat oor Sara in sy dagboek erken het dat sy selfmoord gepleeg het –  “in wanhoop omdat ‘n losbandige man van ons eie nasie, om sy wellus te bevorder, belowe het om haar te trou, maar nie woord behou het nie.” 

Hendrik Lacus se vrou het hom vergewe en hy het saam met sy gesin in Batavia gaan aftree. 

En Sara? As jy op ‘n sommersdag êrens in Houtstraat na die bergwind met jou gewete luister, sal jy haar voel. Miskien kan jy haar dan help om haar suigeling nader aan haar bors bring, want dié bly verwewig honger vir antwoorde. 

Dit nou tot ons aanvaar wie ons eintlik, ongeag ons kunsmatig geflansde diversiteit, regtig is. Eers dan sal ons jou pyn verstaan Sara, en jou ongebore kind in ons voed.

+ posts

Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *