Aangebied deur die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV
Die Jakes Gerwel-gesprekreeks word ondersteun deur NB-Uitgewers, Jonathan Ball, Penguin Random House SA, Bookstorm, die Afrikaanse Taalraad en die Vriende van Afrikaans.
Alle gesprekke is gratis, maar bespreek jou sitplek by Theo Kemp: theo@jgf.org.za. Boeke van die betrokke skrywers sal deur Wordsworth by die venue verkoop word.
“Ek wou ’n karakter skep wat soos ek lyk,” sê Crystal-Donna Roberts oor haar debuut-jeugroman, Speurder Sammi. Op haar beurt teken Deidré Jantjies in Stories in die wind die verhale op van die mense van die Richtersveld, Namakwaland en die Kalahari. Beide skrywers was deelnemers aan die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir opkomende skrywers. Hulle teken die verhale op van mense wat vir té lank in kinderboeke afwesig was.
Oor hierdie boek: Sammi is 13 en bly saam met haar tannie Valerie, ‘n kunstenaar. Hulle gaan kuier vir die vakansie by Oumie en Dedda in die Noord-Kaap. Sammi gaan haar vriendinne April en Lerato mis, maar die klein dorpie gaan ‘n goeie change of scene vir haar wees. Dit sal haar gedagtes afvat van Richfire Arts Academy, die kunsteskool waar sy so graag wil inkom. Maar die platteland is vol verrassings. En kansvatters. Sal sy vir Dedda en Oumie kan help as die slymerige George sy flikkers kom gooi?
Oor hierdie boek: Tien verhale wat die minder bekende stories van die mense van die Richtersveld, Namakwaland en Kalahari vertel. Die karakters is diere, mense, die son, maan en sterre. Skilpad en Volstruis sê mekaar die stryd aan. Sal Jakkals en Leeu kan saamwerk om te jag? Die mense van Hoerikwaggo trek //Hui !Gaeb toe. Daar is die Gariep se watergees in die vorm van ‘n vrou. Pragtig vertel om lesers se verbeelding aan te wakker.
Crystal-Donna Roberts was 'n Suid Afrikaanse aktrise wat haar kinderjare deels in Bonteheuwel, Kensington en Factreton in Kaapstad deurgebring het en toe haar hoërskoolopleiding in Bloemfontein voltooi het. Sy het haar BA-graad in drama en teater aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Crystal-Donna was bekend vir teaterwerk soos Rondomskrik met Hennie van Greunen as regisseur, Kanna hy kô hystoe onder regie van Gerben Kamper en Bidsprinkaan met Janice Honeyman as regisseur. In die film- en televisiebedryf was sy betrokke by produksies soos The Endless River, Krotoa, Arendsvlei en Swartwater. Roberts is op 6 Maart 2025 oorlede.
Ons neem met groot hartseer afskeid van Crystal-Donna Roberts. Sy was nie net ’n uitstekende aktrise nie, maar ook ’n talentvolle skrywer. Ons het die borrelende Crystal leer ken toe sy haar boek, "Speurder Sammi: die blou steen" in 2021 as deel van die Bosberg-boekskryfprogram geskryf het. Sy was ’n besonderse deel van die Jakes Gerwel Stigting se skrywersfamilie, en ons sal haar nooit vergeet nie.
Deidré Jantjies is ’n professionele flamenco danseres en ook ’n kultuuraktivis wat passievol is oor die stories van historiese vroue. Sy is die stigter van Na Aap Produksies wat tot nog toe onvertelde stories en die geskiedenis van Suider-Afrika na die silwerdoek bring. Na ’n lang betrokkenheid by verhoogoptredes, spits Jantjies nou haar al haar energie toe op die skryf van haar eie stories vir kort- en speelfilms.
Suzette Kotzé-Myburgh werk sedert 1990 in die uitgewersbedryf en vir die laaste een-en-twintig jaar is dit op ’n vryskutbasis. Sy het haar BA-graad met lof behaal aan die Universiteit Stellenbosch, gevolg deur ’n honneursgraad in joernalistiek. Suzette is ’n vaardige taalgebruiker en, benewens die teksredigering wat sy doen, het sy ook die volgende op haar kerfstok: manuskripkeuring en -ontwikkeling, vertaal- en proefleeswerk, projekbestuur en selfpublikasies, boek- en filmresensies (LitNet, Die Burger, kykNET se Dagbreek) asook skrywersonderhoude (RSG se Skrywers en Boeke). Sy tree verder op as mentor vir teksredakteurs en as aanbieder van redigeringslypskole. Sy is die medesamesteller van Nuwe Kinderverseboek, Rympies vir Pikkies en Peuters, Rympies vir Kleintjies en Kleuters,Nuwe Stories 1, 2 & 3 en die US Woordfeesbundels vanaf 2016 tot 2019.
Die Jakes Gerwel Stigting se navorsingsprojek oor die naamsverandering van Somerset-Oos in die Oos-Kaap na KwaNojoli in 2023 is op Donderdagaand, 22 […]