“Wat my aantrek, is styl en stem, eerder as storie. Wanneer jy aan ’n manuskrip begin lees, weet jy nog nie waarheen die skrywer jou gaan neem nie, dus is die taal die krummels wat my die woud inlei, op soek na die lekkergoedhuis. Al smullend aan die taal volg jy die spoor. In Johan Vlok Louw se roman Eric the brave was daar in die eerste paragrawe ’n beeld van ’n landskap soos ’n strook film wat aan die brand slaan. Tóé reeds het ek geweet ek gaan die boek wil uitgee. In Karin Brynard se Tuisland bekyk ’n skoonmaker ’n kolletjie geel oorwas op ’n handdoek in die badkamer van ’n gastehuis en onmiddellik weet jy jy werk nie sommer met enige boek nie. Alastair Bruce se Wall of days begin met “It’s been raining for ten years”. Hoe kan jy só ’n eerste sin weerstaan? Of ’n hoofkarakter wat uit ’n goue eier klim, soos in Siphiwe Gloria Ndlovu se Theory of flight. Die bekommernis oor wie presies die gepubliseerde boek gaan koop, is ’n ander saak, en dit laat jy maar aan die slimmes in die bestuursposte oor. “
Lees verder hier: