Titel: Seeperde
Skrywer: Naomi Meyer
ISBN: 9781776252978
Uitgewer: Pan Macmillan
Naomi Meyer se splinternuwe Seeperde, met twee grootoogmeisies op die voorblad, is ’n lekkerlees-skoolstorie wat jong lesers tevrede en gelukkig sal neersit. Hoewel daar duidelik negatiewe gebeure en onderstrominge teenwoordig is, bring Seeperde ’n algemeen positiewe gevoel sonder te veel wroeg en baklei.
Onrealisties en naïef is die verhaal egter nie. Heelwat tipiese kwessies en emosies waarmee daar tydens grootwordjare geworstel word, word geïmpliseer of liggies uitgespeel. Ons hoofkarakter, die twaalfjarige Stella, en haar vriendin Mira het ’n krisis op hande en soek oplossings daarvoor te midde van alledaagse onsekerhede en suggesties van selfs boeliery. En soos die flapteks skimp, is daar ook ’n spesiale band, byna magiese kommunikasie, tussen Stella en haar gunstelingperd, Billy.
Seeperde skop af met Stella en Mira op die perdeplaas waar hulle gereeld gaan perdry. Wanneer Stella op Billy se rug sit, vergeet sy van alles wat haar pla – dinge soos die “koel-soos-komkommer-meisies” by die skool of huiswerk wat nog gedoen moet word. Dis egter hier by haar gelukkige plek waar sy per ongeluk iets skokkends hoor en die ratte in haar kop begin draai om die situasie, nog voor sy veel daarvan weet, te probeer beredder.