Haar jongste teaterprojek saam met Lynthia Julius en Tinarie van Wyk-Loots
Ek, ’n jong Bruin Afrikaanse vrou, kan trots sê dat Bruin kunstenaars soos Veronique Jephtas, Lynthia Julius, Ronelda Kamfer en Crystal-Donna Roberts vir my en ander Bruin Afrikaanse jong vroumense inspireer om te weet dat onse identiteit verder gaan as al die jare se marginalisering en liegtery oor die kleur van onse velle, die tekstuur van onse hare en hoe ons kamma nie reg Afrikaans met sy groot woorde kan praat nie.
Nou scroll ek op die KKNK-program en ’n groot bos hare groet vir my trots in Kaaps Afrikaans, dis mos hoe dit moet wees, hoe meen julle da! Veronique Jephtas is ’n skrywer, aktivis, digter, protespoësiekunstenaar, dramaturg, regisseur en aktrise van die Paarl. Sy het in 2019 in kreatiewe skryf gespesialiseer toe sy haar honneursgraad in drama en teaterstudies voltooi het. Veronique het haar debuut as dramaturg by die 2020-Toyota US Woordfees gemaak met die teks Hoe change hulle, waar die eenmanstuk deur Marlo Minnaar uitgebeeld is. ’n Jaar daarna is haar debuutdigbundel Soe rond ommie bos gepubliseer.
Haar nuutste projek is ’n toneelstuk, My kroon se krank, wat sy saam met Lynthia Julius geskryf het. Tinarie van Wyk-Loots is betrokke as regisseur en Lee-ann Van Rooi as produksiebestuurder. In hierdie produksie is Veronique self op die verhoog en sy beeld nie net een nie, maar drie uiteenlopende karakters uit. Hierdie karakters is al drie vroue van kleur uit verskillende generasies wat some type of way voel oor identiteit en die politiek. Elzanne Coetzee beskryf die stuk as ’n wordingsreis; ’n “herinnering om raakpunte te vier en verskille te respekteer”.
Ek gesels met Veronique oor die skryfproses van My kroon se krank, wat onlangs ook by the Vrystaat Kunstefees gewys het.
EDWINA: Vertel ons meer oor die skryfproses van My kroon se krank. Hoe het die teks ontstaan en hoe het dit gekom dat Lynthia betrokke geraak het?
VERONIQUE: Die skryfproses was ’n long ass one. Vanaf 2019 na Teksmark krap ek al hieraan. Ek het middel 2019 begin skryf hieraan en is begin 2020 klaar mettie eeste draft. Daarna het ek altyd gekrap en geskaaf, oorie vroue konstant groei en ek ’n bieter vestandhouding met hulle en bieter understanding van hul omstandighede het. Innie begin hettie teks timely references gemaak na veskeie political events of figures, soe met daai moesie teks oek altyd byhou mettie times, maa dis toe later uit. Ek isse moerse fan van Lynthia se skryfwêk en ôs twie losbekke het immediately geclick iewers in 2020. Ek wou nog altyd iets saam met haa doen, maa dit moes baie spesifiek wies. En ek hettie gewiet wannee ek wee soe ’n befokte konsep gan uitdink nie. LOL! Temagewys pas dit by beide van ôs se wêk en toe vra ek haa of sy kans sien om saam met my te krap aan die teks wat reeds bestaan. Toe is sy bang, want sy sê die teks is reeds soe goed, toe sê ek haa moer, dissie nou die tyd vi flattery nie. En toe skryf ôs. Al issit ’n sinnetjie insit hie en ’n paragraaf byvoeg daa. Dit was baie easy, ’n timely en blessed collaboration. Ek vetrou Lynthia met my woorde ennie geskommel en geskrap daarvan. So ook sy vi my. Ek is bang vi Lynthia se woorde, dit slaan aanhoudend my wind uit my maag.
Lees verder hier: