In die eenvoud en skoonheid van die Kalahari kry Audrey ’n grootse verjaarsdaggeskenk
Dit was my verjaardag in November. Gewoonlik voel ek altyd so wees op my geboortedag. Belaglik, sê die kyk in my suster se oë toe ek haar eenkeer daarvan vertel.
“Nou wat is ons dan vir jou? Ons is jou bloedfamilie. Ons is mos lief vir jou!”
“Ek kan dit nie vir jou beskryf nie,” sê ek half moedeloos. “Dis asof ek net dwaal en dwaal deur hierdie lewe en ek kom nêrens uit nie.”
Hierdie jaar het ek ’n keuse gehad. Millie, my vriendin doer in Nederland wat net ’n dag ná my verjaar, soebat half: “Kom na my toe, ek gaan vir jou ’n Suid-Afrikaanse braai gooi net hier by my in die agterplaas, reën of te not.”
Ek dink dis meer ’n skuldgevoel wat vir my laat aansoek doen het vir die visa. Ek het wel geweet ek sal dit nooit betyds maak vir my verjaardag daardie kant nie. En sou ek dit wel maak, sou my hart nie daar wees nie.
Lees hier verder:
Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.