A place where stories unfold

Deel 7: Kgotsafalang

Agtergrond: Begin van die soek na diamante in Kimberley, rondom 1869 /70 en verder. Kgotsafalang kom so pas op die delwerye aan.

Kgotsafalang staan kyk oorbluf na die bedrywigheid voor en rondom hom; die groot masjinerie wat eenkant staan dreun oorverdowend; die werksmense; en die wat net staan. Voor hom is die grootste gat wat hy al mense sien grawe het, in die grond. Daar op die oorkantse wal kan hy rye en rye wit tentjies sien staan. Orals op die boonste rante van die werksplek, rondom die gat, sien hy rye en rye wit tentjies. Gaan hy hier werk kry? Moet hy nie maar huistoe gaan nie? Dan dink hy weer hy’s hier om sy pa te kry. Hy gaan eers ‘n werk kry, en dan gaan hy sy pa begin te soek. Hy moet hier iewers tussen die krioelende modder-miere wees. Hy kyk rond. Met wie moet hy begin praat?

Hy besluit om eenkant te sit, en net die wêreld te bekyk. Hy sal gou ‘n patroon in al die drywighede sien. Hy sien hoe die werkers onder in die gate werk, terwyl die base op die hope grond staan, en hulle dophou. Hy sien wit base en swart base. Hy hoor verskillende tale – tale wat hy nog nooit in sy lewe gehoor het nie. Hy’s verstom – hoe verstaan hierdie mense mekaar? Sy oë soek na waar die Indiërs, hulle kleims het . Sy ma, Kora, het met Indiërs handel gedryf toe hy maar nog as ‘n seuntjie, op sy ma se wa sit kyk het. Indiers lyk anders as hulle, en glimlag altyd as hulle by sy ma goed koop. Maar nêrens sien hy iemand wat soos die vriendelike Indier-man lyk. Teen die middag het hy nog niks gesien wat na Indiër, of Kaapnaar lyk, of klink nie. Hy kan homself darem help met bietjie Afrikaans praat, maar die hoor hy nog nie onder die lawaai nie.

Teen middag verskuif hy van plek  en kort nadat hy by sy nuwe rusplek aangekom he, sien hy ‘n Indier-man teen ‘n walletjie hier vlak by hom uitklim. Hy sien hom later weer af gaan, en volg hom met sy oë. Hulle is ‘n hele paar wat naby mekaar werk. Hy’s bly. Hy moet ‘n plan maak om by hulle uit te kom, maar nie terwyl hulle werk nie. Laat-middag begin hy wonder wanneer die werkery dan ophou. Hy wil hulle na hulle kamp toe volg, en daar probeer praat met een van hulle. Net voor ses die aand, sien hy, orals begin die werkery afneem. Sy oë soek na die Indiërs, en die Kaapnaars. Hy sal hulle gou uitken, want hulle lyk anders: hulle dra ’n ding op die kop, want dis hulle geloof, het sy ma hom kleintyd al uitgewys, as hulle naby mekaar kamp opslaan. Party van die Kaapnaars is dieselfde.

Toe skielik sien hy ’n waenjie, met mense in, uit die gat uit, gery kom. Die werkers sit op ‘n platform wat op ‘n spoor loop, en kom uit die gat uit, boontoe.  Nog ‘n waentjie kom uit, en nog een, en nog een! Hier moet seker dan baie sulke waentjies wees, want die kabels wat in die gat af gaan, kom van reg rondom die gat. Die waentjies ry heel dag op en af -soms met ‘n klomp mense op; soms met goed wat af gaan, of opkom. Natuurlik! Toe verstaan hy waarom die kabels van bo af , ondertoe span is. Dit kan nie toue wees nie. Daai waentjie lyk swaar. Die waentjie word met ‘n sterk katrol gelaat sak, en weer opgekatrol, verstaan hy later.

Met al die gedoente, dink hy, sal mens maklik hier verdwaal, en nie weer jou pad huistoe kry nie. Hy sien daar’s tente wat ver van die rand af staan, en daar’s tente wat sommer so hier naby die rant staan, so hier naby die waentjie en die ander goed. Ja, dink hy, hier moet ‘n mens versigtig wees waar jy jou goed neersit. As jy omdraai, is die ding weg!  Mense loop diékant toe, by jou verby, en dáái kant toe, verby jou! Jou goed kan weg raak! Jy sal hom nooit weer sien nie, want hier, in hierdie plek, is daar mens! En al die goed waarmee hulle werk, lyk dieselfde!.

So staan Kgotsafalang hom en verkyk aan die myn-werkerye. Hy’t lank staan kyk, en het ‘n goeie idee wat die werkery als behels. Maar waar sal hy nou die Indiers, of die Kaapenaars onder al hierdie mense kry? Hy weet nie eers mooi hoe lyk ‘n Indier, of hoe lyk ‘n Kaapenaar nie? Kan dit miskien hierdie man wees wat hier aankom? Hy sal kyk. Al wat hy kry, is ‘n vuil kyk, wat hom dadelik op die grond laat kyk. Hy besluit om maar nie meer in mense gesigte te kyk nie.

Terwyl hy hom nog so staan en verwonder, praat daar skielik iemand hier naby hom. Hy wip van die skrik, draai om, en terseldertyd pluk hy sommer sy hoed van sy kop af.

‘Looking for job?’ 

‘Job, yes!’ is sy onmiddellike reaksie.

‘You know English well?’

Die woorde is te veel vir Kgotsafalang. Hy kan darem die klank van ‘no’ uitmaak, en sê toe maar ook, ‘No’.

‘That’s OK!’ hoor hy die man toe weer sê, ‘That’s OK!’

Hierop anywoord hy in ‘n sagter stem, ‘OK’, want OK en ORAAIT is woorde wat sy ma baie gebruik het, om te wys iets is reg. Hy onthou dit nog goed deur die jare, en het dit so  nou en dan ook, op die werf gebruik, sodat andere by die huis dit ook later, baie gepas begin gebruik het, in geselskappe.

Die Engelse delwer is ‘n growwe man, wat vir hom en sy familie, op die delwery ‘n beter lewe en ‘n beter toekoms kom uitgrawe het. Hy het grof en sterk daar gekom, maar het gou gesien op die delwery moet jy onbeskof, soms barbaars ook, voorkom. Dit was nie net vir sy swart werkers nie; dit was vir die ander delwers wat hulle elkeen gehou het, of die hele delwery aan hulle behoort, en dat hulle die reg het om dwarsoor ‘n ander mens se kleim te kom grawe. Dit was dan dat hy sy vark-maniere moes uithaal om te wys wie hy was. By die delwerye was dit hond-vreet-hond. Hy’t elke dag gesien hoe van sy werkers al minder en minder doen, want hy kon nie by almal uitkom nie. Hy self het graaf gesteek, maar as daar gewas word, was hy self by die wasbak. Dis eintlik daar waar hy nog ‘n paar betroubare oë moes hê.

Daar voor hom staan ‘n jong man wie anders voorgekom het, as die werkers wat reeds by hom gewerk het. Hy lyk hoflik en slim, en hy verstaan ‘n woord of twee, terwyl die ander werkers wat al lankal vir hom werk, nog altyd net met dooie-vis oë na hom kyk, as hy praat. Dit maak sy werk baie moeilik. Baie tyd gaan so verlore, want terwyl hy sukkel om te verduidelik wat hy wil hê, lê die ander werkers so vooroor op hulle grawe, en wag hy moet  kom sê wat gedoen moet word, terwyl hy eintlik lankal gesê het wat hy wil hê. Ander delwers het vir hulle boss-boys opgelei, en deur hulle, met die werkers gepraat. So het hulle werk vinniger gegaan, as daar by hom. Elke week moes hy hoes, en die manne betaal, waarna hulle wegstap, al glimlaggend in hulle hande in. Dit, terwyl hy met sy delwery, amper nog net daar was, waar hy  vier maande gelede begin het. As hy net die ding met die taal kan regkry, dan sal sy delwery vinnig vorentoe gaan.

Waar hy vandaan kom, is al die manne mynwerkers – steenkoolmyn werkers. Hy ken die werk. Hy’s gebore in ‘n mynwerkershuis. Sy ma het hulle almal grootgemaak as mynwerkers-kinders wat respek vir werk gehad het, wat wou leer in die skool, om later beter mynwerkers te kon wees. In sy land staan mense reg om die groot masjiene te laat kom, maar dan moet hy darem al ‘n klippie of twee, uitgehaal het. Om hom, praat die delwers nie oor hulle werk nie. Jy sien net op ‘n dag, daar’s net werkers daar op daai kleims. Die base het geloop. Dan moet jy weet: hulle’t gekry. Nie ver van hom af nie, was dit so: die werkers bewerk nou die kleim. Of hulle kry, weet hy nie, want hulle gesigte bly geslote boeke. Saans droom hy maar net, waar hy alleen in sy tentjie lê.

Dit is met daardie gedagtes dat hy na die jong swartman, met die oop voorkop, kyk. Hy’s taamlik netjies aangtrek: goeie baadjie en skoene; beide baie onvanpas op die delwerye! Hy kyk na die jongman se twee bondels, en weet hy’s nuut op die delwerye; nog nie werk, of blyplek, gehad nie. Moet hy die kans vat? Hy voel hy kan. Die man voor hom is jonk – moontlik sy eerste werk. Hy wonder watter taal die jongman praat.

‘Zulu?

Kgotsafalang verstaan dadelik, kyk na die man voor hom, en wys na homself.

‘Soethoe!’

Die delwer kyk beïndruk na die jongman voor hom. Hy let op die jong man haal nooit sy oë van hom af, terwyl hulle praat nie. Hy kyk hom in die oë, en hy lyk kompleet soos iemand wat lippe-taal lees. Hy wil elke woord hoor, en probeer verstaan. Vir die delwer is dit ‘n goeie teken. Die jongman is reg om te leer.

Skielik praat die jongman weer, met ‘n verrassende sterk stem. Hy wys na homself.

‘Kgotsafalang!’ sê hy stadig en duidelik, en kyk stip na die witman.

Toe sê hy weer sy naam, hierdie keer stadiger: ‘Kgot- sa- fa- lang’, terwyl sy oë op die delwer bly. Gavin Davies is verplig om die naam agterna te probeer sê. Sommer met die eerste probeerslag spreek hy die naam reg uit.

‘Kgot-sa-fa-lang! – Kgotsafalang!’

Toe verras Kgotsafalang vir Davies met sy spontaanheid: hy gooi sy arms oop, en lag uit sy maag uit. Hy slaan sy hande saam, en kyk afwagtend na die Walliser.

‘Gavin Davies’ stel die Walliser homself aan die jongman voor.

‘Gavin Davies’ kom dit weer van Kgotsafalang af terug.

Davies is dié keer die een wat breed staan glimlag, terwyl hy na Kgotsafalang kyk.

‘Sit here! Wait’, sê hy vir Kgotsafalang, en wys na die plek waar hulle staan, sonder om na Kgotsafalang te kyk.

Toe hy sien Kgotsafalang verstaan nie, kyk hy na hom terwyl hy sê: ‘Wait’.

Onmiddellik het Kgotsafalang terug ge-antwoord, ‘wait’, waarop Davies gese het, ‘Yes’, en sy kop geskud het. Kgotsafalang het na die vinger wat wys, gekyk, en op een van sy bondel gaan sit.

Toe Davies sê, ‘Yes, thank you’, het Kgotsafalang hom weer verras deur te herhaal, ‘Thank you!’

Davies stap lag -lag weg, en hy weet hy gaan die jongman aanstel, nog voor Kgotsafalang sy sit reg gekry het.

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *