A place where stories unfold

Aletta Steenkamp skryf oor Kirby van der Merwe en Eugene – ontvangers van die Eugène Marais-prys vir 2023

Die titel van hierdie roman, het ’n interessante verbintenis met ’n liedjie van Pink Floyd waarin die lirieke voorkom: “Careful with that axe, Eugene.” Dit vertel die verhaal van die grootword van die hoofkarakter, soos een resensent na hom verwys, ʼn ‘gentleman-skollie’. Hy is ’n geleerde en gesofistikeerde man, maar die rowwe buurt waarin hy grootgeword het, en die gewelddadigheid wat hom altyd omring het, het ’n merk op hom gelaat.

Kirby gee toe dat daar besonder baie outobiografiese gegewe in die boek is, maar daar is netsoveel fiksie in Eugene. Karakters wat beslis nooit bestaan het nie. Terwyl hy die boek geskryf het, was hy soms bang dat iemand hulleself gaan raaklees daarin.

“Jy weet, ek het eenmaal met ’n ander skrywer gesels. Sy vertel my toe ’n vrou het haar tromp-op op die trein gevra hoe durf sy haar storie steel. Die skrywer was heeltemal oorbluf, want haar verhaal was heeltemal fiktief. Ek dink dit is die kenmerk van ’n goeie verhaal: wanneer mense hulself daarin kan raaklees,” sê Kirby.

Die boek begin met ’n aanhaling uit ’n gedig wat die Duitser Bertold Brecht in 1922 geskryf het  – Van arme B. B. Dié gedig is ʼn opsomming van die hoofkarakter se lewe, interessant genoeg het daar 100 jaar verloop sedert die gedig geskryf is en die publikasie van Eugene. Kirby sê hy het meer as 20 jaar geloop met die idee van die boek, maar hy het aanvanklik nie geweet hoe om dit aan te pak nie. Hy wou nie ʼn Struggle-boek skryf nie, maar tog kan hy nie die wêreld waarin hy grootgeword het, ontken nie. Hy is wel dankbaar dat die karakter Eugene hom aangemeld het as die instrument om hierdie storie te vertel.

Hy is tans besig om skilderye te verf. Dit noem hy Eugene se trauma-skilderye. Kirby is nie van plan om die skilderye te verkoop nie, maar wil dit uiteindelik deel van die boek maak. Hopelik kan daar dan vorentoe ʼn uitgawe van die boek wees waarin lesers sal kan sien hoe Eugene sy trauma met sy skilderkuns verwerk het.

“Ek is reeds weer besig met ʼn manuskrip. Die enigste probleem is nou moet ek ʼn haas uit ʼn hoed trek, of van rat verwissel sodat die nuwe boek nog beter kan wees,” sê Kirby. Hy lag weer. “Maar aan die ander kant is ek dankbaar dat Eugene se storie nou vertel is. Ek is nou amper bevry om te skryf wat ek wil.”

+ posts

Kirby van der Merwe is 'n skrywer en joernalis. Sy jongste roman, Eugene, het pas verskyn.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *