A place where stories unfold

Deel 11: Kgotsafalang

Davies het by die dag meer bekommerd begin lyk. Hy is deel van die duisende uitlanders op die ‘diggings’, en terwyl enkeles hulle vrouens daar in die tente gehad het, is Davies alleen, en het nie vriende daar nie. Dis net soggens vroeg werk toe, en laatmiddag huis toe. Dis hoekom hy so gretig gegryp het toe ’n aanneemlike en vriendlike swartman eendag daar by sy kleim kom rondstaan, en heel verlore gelyk het.

Hy self koop ook Vrydae, sy goedjies wat hy nodig kry, by die Indiër verder op , om die draai. Hy weet die Indiërs het hulle vrouens by hulle. Maar daar is ook ander vrouens wat vir hulle werk, wat nie Indiër is nie. So wanneer hy daar gaan koop, knoop hy altyd ‘n lang geselsie met die Indiër aan, maar sy oë bly heeltyd op die opening wat agtertoe deur die winkeltjie loop. Hy weet daar is meer as een vrou wat vir die Indiër werk. Die Indiër het al Davies se belangstelling opgemerk, en op dié Vrydag, help hy die Walliser, met groot deernis, om tot die punt te kom.

Toe dit reeds sterk donker is, word daar by Davies se tentdeur saggies geroep. Dis mos al tent met ‘n vlag op – die rooi draak van Wallis, alhoewel die Indiër dit toe nie so mooi kan sien nie. Hy sien net ‘n groot enamel-emmer voor die ingang van die tent staan. Dan moet dít die tent wees. Binne-in word vinnig gereël watter tyd die Sondagnag, die Indiër die vrou weer sal kom haal. Buite gekom, stap die Indiër vinnig verder met die straatjie af. Hy sal met ‘n ompad weer by sy winkeltjie uitkom. Hy ken die wêreld rondom hom. Hy verskaf hierdie diens net aan uitsoek-kliënte wat daar by hom koop, teen ‘n redelike vergoeding natuurlik. En so word die naweke vir Davies glad nie meer so vervelig nie. 

Op die kleim word daar bedags naarstiglik gewerk. Daar word pik gekap, grond geskep en weg gery met ‘n kruiwa; gesif; weer gesif, en die sifbak omgekeer word, op die tafel waar Davies, en somyds ook, Kgotsafalang sit. Dit gaan gou deur die werkspan dat Kgotsafalang ook in ‘n kampong bly, en daar kom net ‘n effense verslapping in die struwe houding van sy mede-werkers. So in die werk, word ‘n vuurtjie aan geslaan op ‘n plekkie, so uit die pad uit. Pap word gemaak, en prut solank, sodat dit teen etenstyd net reg is. Kgotsafalang word met die kop nader gewink om ook sy hand in die pot te steek, vier vingers vol pap uit te haal, en te eet. Skielik voel Kgotsafalang hy’s tuis. Dis sý mense díe. Hy, Kgotsafalang, moet nooit weer dink hy’s beter as hulle nie. Hy’s ‘n swartman net soos hulle. Almal van hulle kom uit dieselfde soort huise uit. Hulle’t almal sukkel-sukkel groot geword. Nou’t die werk gekom. Met die werk het ook geleentheid gekom om goed te koop wat hulle nooit by hulle huise sou kon koop nie. Sy lewe is hier- by hierdie mense, eet uit een pot uit, maak water warm om die beurt elke dag, eet pap saam, eet brood saam, as daar is. Hy weet ook sy kanse om sy pa daar êrens te kry, aansienlik verbeter het, dog hy sal hom eers in-wikkel by die werkers sodat almal hom later sal ken, en hy nie meer trug hoef te hou wat sy eintlike doel daar op die delwerye is nie.

Sy kans om beter geleer ken te word onder die werkers in die kampong, het gouer gekom as wat hy gedink het.

Toe hy een laat-middag, moeg van die werk af kom, en sy werks-sakkie, en kierie, op die boonste bed gooi, hoor hy net ‘n skuurgeluid. Sy hart ruk binne-in hom. Hy klim vinnig teen die reling uit. Sy goed is alles weg! Net die kale sementblad lê daar! Hy kyk op na die sement rakke, maar sy goed is  nie daar nie. Sy hart sak in sy werks-skoene. Hy is besteel terwyl hy by die werk was!

‘No, damnit, man!’ bulder hy.

Hy sit met sy kop in sy hande bo-op die kale sementblad. Die werkers stroom in van die verskillende kleims af. Hy voel lus om te huil. Hy was net besig om vriende te maak. Hy’t baie Sotho-mans, oud, en heelparty sy ouderdom, ontmoet, en baie gou vriende met hulle gemaak. Die groot man onderkant hom was toe al die tyd ook Sotho, en hulle twee het lang geselse gesels, meestal oor die werk, hoe lank hulle nog wil werk voor hulle wil huistoe gaan; en oor hulle families by die huis. Dié was net so ontsteld soos Kgotsafalang.

Wat moet hy maak? Niks? Dan gaan dit elk keer gebeur! Sy laaste besluit is, hy moet seker maak dit gebeur nooit weer nie. Hierdie kan miskien net ‘n sein na hom toe wees, om te sê, ‘Ons hou jou dop!’ Hy moet wys wie hy is – Kgotsafalang Tshepane, seun van  Dithole Tsepane en Kora Alexander! Dis wie hy is!

Hy spring regop, en kyk ver oor die beddens in die kampong uit, maar sien net enkelinge op hulle slaapplekke besig. Hy gryp sy kierie, en spring af. Hy loop met lang, gemete hale in die gang af tot voor by die oopte waar ‘n groot groep werkers om die vuur-oonde rondstaan om te begin kos maak.

‘Luister na my, my vriende!’ roep Kgotsafalang met ‘n sterk stem. Rondom hom bedaar stemme onmiddellik. In die res van die kampong gaan die geraas voort.

Kgotsafalang roep weer uit, in die gange van die kampong af:

‘Luister, na my, my vriende!

Die geruis van stemme raaak stiller. Iemand roep.

‘My naam is Kgotsafalang! Ek is ‘n Sotho-man! Ek is die seun van Dithole Tshepane, en Kora Alexander! Ek werk hier op die myne by Davies, die delwer! Ek bly nou twee weke hier by julle! Nou kom ek vanmiddag by my plek, en ek sien al my goed is weg!  Ek het niks! Al my goed is gesteel!’

Kgotsafalang is nog nie eers klaar gepraat nie, toe word daar al klaar onder die omstanders gegiggel. Kgotsafalang let dit op, en sy humeur vlam op, en hou sy kierie hoog in die lug, en staan dreigend rond.

‘Wie is dit wat soos ‘n hond by my kom steel, as ek gaan werk? Wie se ma het hom geleer om te steel, plaas om te werk? Wie is die vuil hond? Kom uit! Hier staan ek! Fuck! God dammit, man! Kom uit!’

Toe’s dit stil rondom hom. Hy roep luid vir die skelm om uit te kom as hy durf. Hy wil weet of die Sotho-man dan nie respek het onder die werkers nie? Is die Sotho-man dan net daar om op getrap te word? Uit die hoek van sy oog sien hy die groot man wat op die onderste plek slaap, staan ook daar, met sy kierie in sy hand. Sy hart swel.

‘Ek kom nou my goed soek! Ek kom loop nou deur die kampong! Ek soek my goed! Sit my goed in die gang neer! Ek sal dit daar kry! Kgotsafalang soek nie moeilikheid nie!’

En Kgotsafalang begin te stap. Sy kierie lê oor sy skouer, en hy stap. Hy stap regop, sy kaal skouers breed en gespierd. Hy begin in die naaste gang af stap.

‘Kgotsafalang laat nie met hom mors nie! Kom uit!’

Hy’s nie eers halfpad in die gang af nie, toe word daar van agter af geroep. Toe Kgotsafalang omspring om hom daarnatoe te haas, is hy verbaas om ‘n tiental mans, met kieries oor hulle skouers, agter hom te sien! Die Sotho-mans, maak tonnel sodat hy kan deur kom.

Agter in die gang, waar sy slaapplek is, lê sy slaapgoed, en sy bondeltjie met kos en klere, in die middel van die vloer, met niemand in sig nie. Toe hy sy goed sien, is Kgotsafalang nie verder geïntereseerd in die hele affêre nie. Hy tel sy goed op, en stap met sy gevolg terug na die opening waar die vuuroonde is. Daar staan hy en die mans stil.

‘Ek het nou my goed trug gekry!’ skree hy hard in die gange af. ‘Kgotsafalang sê dankie aan die man wat sy goed vir hom trug gegee het! Jy’s nie ‘n slegte mens nie! Dankie!’ sê hy, en stap met sy gevolg oor na sy slaapplek toe.

Eers daar, by sy slaapbank, verlaat sy gevolg hom een vir een, maar nie sonder om sy hand te vat in ‘n manne-groet nie. Met die groet word ook die naam, en plek van herkoms, by gesê. Toe dit stil is rondom hom, lê bewe hy so liggies daar, soos die opwinding, en die vrees vir wat kon gebeur het, stadigies uit hom trek. Hy’t so onder als opgelet die Sotho-mans bly eintlik almal hier by hom rond. Kgotsafalang het met sy bravado vir hom naam gemaak onder die manne in die kampong. Sotho-werkers, wat vir jare in vrees geleef het, voel sterker in hulle harte. Daar het iemand in die kampong gekom, wat sterk kom praat het, namens hulle.

Maar nie almal, voor by die vuur-oonde, was beindruk met Kgotsafalang, die Sotho-man, se vertoning van roekelose aggressie, nie.

                                                                    ————————–

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *