‘Ek het ‘n kínd hier groot gemaak! Sy naam is Kgotsafalang!’
Kora onthou nou nog hoe haar woorde vir Kinna na haar asem laat snak; en hoe verskrik Kinna na haar pa kyk. Izak Barlow sit kop onderste bo, en hy kyk op die grond voor hom. Lang Hannes kyk na Kinna, maar Kinna se oë is op haar pa. ‘n Groot jammerte kom in Kinna op. Haar pa het met soveel liefde en respek altyd gepraat van hierdie vrou, hier langs haar. Hy’t op sy ouderdom op ‘n wa geklim, en twee keer die lange pad aangevat om by sy kind te wees as hulle haar ma sou kry. Dan sou die gesin saam wees – pa, ma en kind. Dan sou hulle almal saam huistoe kon gaan. So’t sy altyd daaraan gedink. Nou kom daar die onverwagse, wrede kinkel.
Kinna kry haar stem terug:
‘En wáár is die man – die kind se pa? Is hy ma se mán?
Kora sluk voor sy praat. Haar gesig is weggedraai. Sy wil nie sien wat op haar kind se gesig staan nie.
‘Ek het dertien jaar trug, hier aangekom – vrou-alleen. Disnie hoe dit hoort, hier rond nie. Dis nie in die kultuur hierso, nie. Ek het die werk van ‘n man gedoen. Die heel eerste plaaswerker wat saam met my gereis het, het ek my man gemaak – ek moes myself beskerm – en ek het ‘n kind van hom gekry. Die kind het op dieselfde kar gebly – vir vier jaarso met ons saam gery. So’t ons bekend geraak hier rond. Op vier, het ek die kind by die ouma gaan los. Dit was makliker vir ons twee om die plase sote werk.’
Kinna dink aan haar eie lewe. ‘Net soos Ma met mý gemaak het. Ma het weggegaan toe ek vier was, en ek sien haar nou weer – na amper sestien jaar!’
Sy is nie eens bewus dat sy opstaan nie. Toe haar ma weer praat, sit Kinna langs haar pa.
‘Ek het tyd gemaak om my kind elke twee weke te sien, terwyl ons die plase begin werk het, hier. Ek het al die jare net hier rond gewerk. Dis oor die kind. My plan moes werk. Ek het ‘n droom in my kop gehad, ‘n droom wat kon werk, en ek was bereid om op te offer vir my droom. My liggaam was sterk genoeg om dit wat ek wou doen, gedoene te kry. Ek het baiedeurgemaak onder die man, maar het deurentyd geweet wat ek wou hê …’
‘Wat wou ma nou eintlik hê? Waar het ek, Kinna, ingepas in Ma se droom?’
Kinna praat met bittere teleurstelling in haar stem – naby huil.
‘Ek kón nie weg nie, kind! Vir jare lank het ek niks geld gesien nie. Niksnie! Hy’t meeste van die geld vir hom gevat. Toe raak hy moeg, en hy vat sy goed. Hy’t die spaargeld gevat, als, en geloop – diamant-myne toe. Ek het hom in 8 jaar nie gesien, of van hom gehoor nie.’
Dit is stil in die skuur. Net Kora praat. Sy wil haar storie klaar praat.
‘Toe, sonderdie man, het die lewe verander vir my. Met die kort-wa en perd, waarmee ek hier gekom het, begin ek toe later sien waarvoor ek plase werk. Almal’t vir my geken – met, of sonder man. Swart boere hier rond, werk nét met my. Ek koop goed aan, en ry dit hier na die skuur toe. Die Jood wat goed van my aankoop, gee my toe ‘n groter wa, en ‘n span ses muile. Ek betaal die wa af binne twee jaar. Die werkers wat vandag op die wa is, is van dieselfde werkers deur al die jare. Hulle is my familie. Hulle werk soms self die plase. Hulle gaan uit plase toe, en sit uitwat ons oor twee weke wil hê. As hulle die plase werk, gaan ek Brandfort toe, ‘n oggend se ry hiervandaan. Die kind en sy ouma bly daar. Ek ry dan met die kort-wa en die perd. Die wa is nou gemaak net vir een perd.’
Kora draai om, en wys na die verste hoek van die skuur, half agter die bale ingetrek – die kort-wa waarmee sy jare gelede uit Heidelberg weg is; toe uit Gou-Kou weg is mee; en hier mee aangekom het.
‘Wanneer laas het Ma vir Ma se kind gesien?’
‘ ‘n Paar jaar gelede, toe hy man geword het. Hy’t so mooi gelyk in sy grootman-klere, sy Basoetoe-hoed, sy kombers, en sy kierie. Ek was strots op hom. Ek het twee weke by hulle gebly. Hy kom toe eendag, ‘n paar maande daarna, hier by die skuur aan, en hy wag hier vir my. Hy’t besluit, sê hy toe, hy gaan vir sy pa soek by die myne; daar werk kry; sy lewe daar maak. Dis die storie in meeste van die huise hier rond: myne toe vir werk, en dis die laaste sien van man en kind vir die meeste families.’
‘Wat is Ma se plan dan nou, nog hier bly? Vir nog geldmaak? Vir wat?’
Kora maak of sy nie die venyn in Kinnie se vraag hoor nie. Sy kyk op na Kinna.
‘My kind, toe ek vir jou los by Sus Lydia, was ek siek – sommer baie siek. Ek moes weg, of ek sterf daar. Ek moesvir jou, my kind, agter los. Dit het vir my hier binne-kant, soos die tering, net so, opgevreet,deur die jare. Nou’t ek ‘n kind hier. Nie weer nie, Kinna, … Izak! Nie weernie! Hierdie keer is ek gesond – ek makeer niks! Ek moet hier wees as hy trug kom!’
Lang Hannes sien die grootvrou is vasberade.
Toe kom Kinna voor haar ma staan. Met haar hande op haar knieë, kyk sy haar ma in die oë, waar haar ma op die lae bankie sit.
‘Ma, ek is ver van my huis af! Ek het vir my ma gekom soek! Ek het vir my Ma gekry! Ek gaannie sonder haar trug nie! Ma se ander kind, Kgotsafalang, as hy ooiteendag trug kom, en hy kry nie sy ma meer hier rond nie, dan moet hy vir hom ‘n wá kry, soos ek, en hy moet vir hom ‘n pérd kry, en soos ek, moet hy in die pád val, en vir haar gaan sóék! Hy’s mos ‘n mán, sê Ma. Hy moet vir haar gaan sóék! En na vele dae … sálhy vir haar kry!
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.