“In Hoofstuk 20 ontmoet Lea vir Sam wat haar ook gebruik vir sy eie voordeel en bykans haar ondergang beteken. Van al die mans in Lea se lewe is Boet Tang en Emmanuel die enigstes wat haar beskerm. Hulle kan myns insiens beskou word as aardse verteenwoordigers van die engele Amakhoeb en Mâbasen (wat ook in die roman uitgebeeld word). Tesame met die tema van geweld teen vroue en kinders speel die onderwerp van godsdiens ook ’n belangrike rol in die verhaal en word Christenskap en Nama-godsdiens dikwels vermeng. Die Nama-godsdiens glo soos Christenskap ook in aartsengele (Amakhoeb en Mâbasen) wat op aarde geplaas is om mense te beskerm en te lei. Al het die mense van Galberg min en al is hulle uitdagings baie, glo hulle steeds dat hulle geloof hulle sal deurdra.
Ander tematiese aspekte soos rassisme, seksuele mishandeling en die kontras tussen die plaaslewe en die stadslewe word ook ondersoek in die roman. Dat die roman sterk feministies is, is reeds vanaf die eerste hoofstuk duidelik. Die vrou se onderdrukte posisie in ’n samelewing wat deur mans gedomineer word, word ondersoek en uitgedaag. Lea se sterk matriargale voorgangers (ant Kôtjie en ma Dientjie) is ten spyte van hul onmagtige posisie op ekonomiese, politieke en kulturele terreine steeds sterk karakters wat die weg baan vir Lea.” Kidelo
Kry die PDF hier:
https://letterkunde.africa/article/view/14243
