‘Jy’t mos hier gekom om te werk, het jy nie?’
Kgotsafalang sien die opening:
‘Nee, ek het nie! Ek het my vader gekom soek, hierso! Sy naam is Tshepane! Ken julle hom?’
Daar’s ‘n beroering onder die leiers voor hom. Maar sy oë is op die leier. Hy’t die vraag aan die leier gestel. Hy sien die koppe draai na ‘n ouerige man, in ‘n Basoetoe-kombers, toegedraai met ‘n warm wolmus op. Die ou man voel die skielike koue om die vuur, wat na hom toe waai. Hy lê stadig vorentoe, en kyk Kgotsafalang stip aan. Toe strek hy sy nek vorentoe, en spoeg op die grond, voor Kgotsafalang.
Sy pa erken hom nie! Kgotsafalang herken die ou man met die maer gesiggie, nie dadelik nie. Hy kyk hom lank aan, en sien die bekende trekke van sy familie by die man. Toe kyk hy na die leier.
‘Ek’t altyd gewonder wat se soort mens my pa is! Nou weet ek: hy’s die soort wie ek nooit eendag wil wees nie!’
Kgotsafalang staan stadig op, gee een tree nader na die ou man toe, en sit sy hand op sy pa se skouer, en sê, ‘Kea u bona, Ntate. Kea tsamaea joale!’ ( ‘Ek sien jou, my vader. Ek loop nou!’ )
Toe draai hy na die leier toe, groet die leierskap baie beleefd, volgens Sotho tradisie, en vra om verskoon te word. Toe hy in die eerste gangetjie af draai, sit die leierskap nog net so – verslae oor een van hulle wat nie sy seun wil erken nie, en oor die uitdagende gedrag van die jongman wie duidelik sy pa herken het. Toe hy in die eerste gangetjie in draai, staan sy ‘impi’ steeds daar, en maak toe rondom hom, soos hulle verder stap. Hulle’t alles gehoor.
Skielik is Kgotsafalang se soektog oor! Die doel waarvoor hy delwerye toe gekom het, bestaan nie meer nie. Hy voel snaaks verlig van iets wat oor die jare, swaar op hom gerus het. Hy’t nie meer dieselfde doel voor oë nie. Sy pa het hom ontken, omdat die geld wat hy verdien om swart werkers vir die wit eienaars, in toom te hou, vir hom meer beteken as sy seun wie hy laas gesien het toe hy nog maar vier jaar our was.
Kgotsafalang voel ‘n diep seer binne hom, ‘n droefheid. ‘n Mens se pa ontken nie sy eie kind nie, maak nie saak onder watter omstandighede die kind gebore is nie. As die kind daar is, is die kind daar! As jy die kind ontken, sny jy ‘n stuk van jou af, en daarvoor sal jy duur betaal vir die res van jou lewe. So glo hy. Wat hy daardie aand ondervind het, het hom bitter seer gemaak.
Hy maak ‘n besluit: hy moet by die mense uitkom wat diamante oor die tafel koop – sý mense. Hy’t geen benul van pryse nie, maar is deeglik bewus van wat is groot, en wat is kleiner, en wat is klein. Sy probleem word op ‘n onverwagse manier vir hom opgelos. Van Davies se werksmense het vir dae aanhou delf op Davies se kleim, en het op twee diamante afgekom – ‘n kleintjie en ‘n grote. Hulle’t dit met groot opgewondenheid, en in groot geheimsinnigheid, aan hom kom rapporteer. Hulle weet waar om dit te gaan verkoop, sê hulle. Dis hulle mense. Baie van die werkers wat ‘n klippie met die toon optel, en aanstap, verkoop aan hulle. Kgotsafalang is dadelik geïnteresseerd, en wil saamgaan.
Dit was ‘n goeie saamgaan. Die transaksie was gou afgehandel. Dit was billik. Geen name, en sulke besonderhede nie. Kontant was onmiddellik beskikbaar. Dit was vir Kgotsafalang ‘n openbaring: ons mense is tot alles in staat! Tog het hy kop gehou, en net ‘n paar klippies verkoop. Die ander lê styf vasgedruk tussen die note om sy lyf. Met groot kontant in sy besit, stap hy trug kampong toe. Sy besluit toe hy daar kom, is reeds gemaak: hy moet uit die plek uit verdwyn.
Diep in die nag, dink hy weer aan die gebeure by die kampong leiers. Hy was so vasbeslote om sy pa te kom soek hier, en dat hulle twee saam sou werk. Nou is sy pa deel van die verdrukking wat swartmense op die delwerye ervaar. Hy maak van sy getrouste manne wakker. Hy verduidelik dat hy nie meer veilig voel in die kampong nie. Hy moedig hulle aan om voort te gaan met die vergaderings waar hulle die swartman se posisie in die land bespreek. Dit moet geskied onder ‘n leier, maar iemand wat nie uitgewys kan word as die een wat moeilikheid onder die manne maak nie. Sy eerste vertroueling, wat onderkant hom slaap, word hartlik bedank, en aangemoedig om die manne bymekaaar te hou, nie op grond dat hulle Sotho’s is nie, maar almal werkers is, wat swaarkry op die delwerye.
In die middel van die nag, voel umSotho, die groot man op die slaapplek onder Kgotsafalang, ‘n ligte drukkie op sy skouer. Hy lê kyk hoe KgotsafalAng vinnig deur toe stap, ‘n bondeltjie styf oor die een skouer, op sy rug vasgemaak, hoe hy die deur saggies oop maak, en hoe hy in die nag verdwyn.
Kgotsafalang 14 – Einde Deel 1
Deel 2 sal binnekort verskyn.
Kgotsafalang gaan soek sy ma: Kora Alexander, uit die geslag Alsanners, uit die stam Hessequa in die dorpie, Heidelberg.
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.
