Vir ure, lê dink Kgotsafalang aan die dag se gebeure: aan sy laaste reis saam met die mans; aan die delwerye, en wat hy voor hom gesien het, terwyl hy daar gesit kyk het. Hy’t gesien hoe die werkers met koekepanne op staal-kabels ry, diep in die gat af, en weer boontoe kom, – die heel dag gaan dit so; reg rondom die werksplek. Die delwerye was net drie jaar aan die gang, en die werkers het al reeds diep onder grondvlak gewerk. Die diepte het hom nie bang gemaak nie. Maar waar hy sou begin, en met wie hy sou moes praat, was sy grootste bekommernis, terwyl hy die dag se dinge so sit bekyk het.
Dis totdat die man, Davies, met hom praat, hier vlak by hom. Hy’t gehou van hoe die man hom aangespreek het: met ‘n glimlag. Hy’t van die man se stem gehou, en hy was reg om met hom te praat. En kyk hoe’t dinge nie uitgedraai nie? Hier lê hy in die man se gereedskaps-hokkie! Hy weet die man vertrou hom, sommer net so, anders sal hy hom mos nie in die hokkie laat slaap nie.
Kgotsafalang se probleem is egter nie die vertroue van Davies nie; dis die vertroue van die manne met wie hy heeldag gaan saam werk – die swart plaaswerkers wie, net soos hy, van hul woonplekke af weg gelok is, deur die belofte van werk, en geld, en wie op die delwerye, net soos enige van die ander werkers, en wit base, daarna uitsien, om eendag weer huis toe te kan gaan, na familie toe, na wie hulle snags, voor die slaap kom, aan lê dink.
Sy werk, so na aan die wit baas, weg van húlle af, is wat die werkers op die eerste dag, na kyk. Hy kom die eerste dag daar aan; en hou hom van die begin af, afsydig van hulle af – hou hom meer op met die witman as met húlle.
Sy werk is boonop nog ‘n vertrouensposisie: hy werk by die sifbak – hy en ‘n jong werker. Hy en die jong, swart werker staan die hele dag oor mekaar, en hou aan die sif vas, maar maak nie een keer oogkontak nie. Hulle staan daar, en wieg die bak heen en weer, heen en weer, en wanneer net die klippies in die bak agter bly, dra hulle twee die sif na Davis toe, en keer dit om op die tafel, voor hom. Dan begin hy en die jong swartman, die een graafvol gesifte sand na die ander, in emmers gooi, en na die tafel toe dra. Agter Davies lê die hoop gesifte sand, reeds hoog. Dis op die hoop waarop Davis staan sodat hy ver heen oor almal kan kyk. Hierdie hoop grond word later ook weer deurgewerk om te sien of daar nie diamant-klippies deurgeval het nie. Davis se oë bly op die sif, want werkers mag nie hulle hande in die sifbak sit nie. Die werk is vir hom moeilik omdat hy alleen is, en hy orals moet kyk.
Na die eerste paar weke, staan Kgotsafalang langs Davis by die tafel, en word hy geleer waarna, en hoe, om te soek tussen die klippies op die tafel. Vir lank tel Davis moontlike klippies vóór Kgtsafalang op, maar namate die tyd verby gaan, raak Kgotsafalang so skerp, dat hy klippe, die een na die ander, eenkant toe skuif.
Saans, alleen in sy slaapplek, lê wonder Kgotsafalang waar hy moet begin soek na sy pa. Dis immers hoekom hy daar is. Hy weet as hy pal daar waar hy is, gaan bly, sal hy sekerlik nooit sy pa kry nie! Hy sal moet begin rondbeweeg waar die meeste mans na werk en naweke bymekaar kom – die drinkplekke. Dit sal ook dan moet beteken hy moet nader aan sy mede-werkers moet kom. Op die oomblik is daar ‘n koue, gevaarlike houding tussen hulle. Hy word net onderlangs aangegluur deur sommiges; andere kyk hom openlik minagtend en uitdagend aan. Kgotsafalang is bang. Hy weet wat met hom kan gebeur as hy in die plekke kom waar die meeste werkers in groot opslaanplekke saam bly; waar hulle in groot biersale drink, en waar daar ook vroumense te siene is. Nie dat dit hom verbaas nie. Hy’t al by Davies se tent ook, verskeie kere, in die nag, ‘n vrouestem gehoor, en hy weet hy’t hom nie verbeel nie!
So besluit hy om vir eers ver weg te bly van die blyplekke waar werkers in sale, en saam gepak bymekaar bly, soos die drywers op die pad hom van vertel het.
Tog besluit hy op ‘n naweeksdag om darem bietjie rond te stap daar op die delwerye, maar om liewers by die tente langs te hou. Hierdie uitstappie leer hom op die één dag baie van die delwerye, as al die ander dae saam. Hy beduie vir Davies waarlangs hy wil gaan. Hy’t ‘n klein bondeltjie by hom: ‘n groot, breë hand hoed, en sy Basoetoe-kierie. Toe stap hy. Die wit tente lyk so mooi van ver af; almal dieselfde grootte en kleur, maar van naby, soos mens verby hulle loop, is dit heel ‘n heel ander prentjie. Die plekke is vuil; die mans hou dronknes, ‘n hele vrag van hulle in een tent, of in die jaart van ‘n tent. Dan stap Kgotsafalang maar vinniger aan, soos iemand wat êrens heen op pad is. Soos hy loop, merk hy sekere items wat hy kan gebruik as landmerke om weer trug te kom: ‘n vlag hier, hoog bokant die tente; ‘n ander kleur tent, daar; hoë pale wat hoog bo die tente uitsteek; ‘n T in die pad waar hy regs, of links draai. Sy beste landmerk is ‘n klein winkeltjie wat onverwags voor hom verskyn. En binne-in die winkeltjie sien hy ‘n Indiër! Hy weet sommer dadelik dit moet ‘n Indiër wees. Hy was maar nog klein, so drie of vier, en het meestal op sy ma se wa gesit, as sy ma met die indiër, of die Jood, onderhandel. Hy stap nader, en wonder of dit nie dieselde man is wat nou ‘n winkeltjie hier het nie! Hy staan eers in die deur, en kyk na die goed wat op die rakke is: meestal kosgoed. Hy sien ook klere, tabak, wat hy goed ken, en ‘n paar keer al gebruik het. Die winkel-eienaar sien hom, kyk hom eers goed deur, en sien aan sy klere hy’s nie van hier rond nie – hy’s te skoon en netjies. Hy wink hom om in te kom. Dit ruik skerp in die winkel, wáárna kan Kgotsafalang nie dink nie. Hy sien lekkers op die rakke, en dink aan sy ma. Hulle sou nooit ‘n winkel op ‘n dorp verby gaan, dat sy nie ‘n voorraad lekkers vir die weke op die plaaspaaie koop nie! Hy wys na die lekkers. Die Indiër kyk weer na hom, haal toe ‘n pakkie van die rak af, en sit dit voor Kgotsafalalang neer.
Kgotsafalang se oë dwaal deur die winkeltjie, rak na rak, en wys later na ‘n sakkie mielie – meel op die grond. Daarna wys hy na ‘n groot sink emmer. Die Indiër kyk eers na hom, maar praat niks, en sit suurdeeg op die toonbank neer – als wat mens nodig het om brood te bak. Kgotsafalang sit die pakkie ook by sy goed neer. Hy koop twee groot pakke mielies. Sy hand vat aan elke ding wat hy wil koop, en dan staan hy kop onderstebo, met sy hand op sy ken, en dink wat nou nog. Intussen het die Indiër gesien dis baie goed wat die swartman koop, en dit gaan duur kos. Sy swaar slaanding staan sommer hier naby sy knie, agter die toonbankie. Hy wag. Dan wys Kgotsafalang hom dis al.
Die indiër vat ‘n item, kyk daarna, en sit dit eenkant neer, en skryf die prys neer. So maak hy met elke ding wat Kgotsafalang uitgewys het, totdat hy die papiertjie waarop hy die pryse neergeskryf het, oorskuif na Kgotsafalang toe. Kgotsafalang tel die papiertje op, bestudeer dit ‘n redelike tyd, voor hy sy hand voor by sy hemp insteek, en die pond-noot voor die Indiër neersit. Die indiër se oë rek toe hy die noot sien. Dis geld die, waarmee net die Engelse delwers somtyds kom koop! Hy hou die pond-noot teen die lug, en draai dit om en om , totdat Kgotsafalang nader staan, en ook van sy kant af, die noot staan bekyk. Die frons op sy voorkop sê hy verstaan nie. Toe die winkelbaas in sy geldkassie krap, kry hy die kleingeld, en stoot dit oor die toonbank na Kgotsafalang toe.
Die swartman vat eers nie aan sy kleingeld nie. Toe begin hy die groot muntstukke eenkant toe stoot, soos hy tel. Hy doen dieselfde met die kleiner munte. Hy staan trug, kyk na die kleingeld op die toonbank, tel weer, en stoot toe al die geld oor die toonbank, terug na die Indiër toe. Die winkelbaas staan trug, en kyk na die swartman, en dan na die geld. Sy een hand tel die geld eers stadig, voor hy met ‘n breë glimlag opkyk. Uit sy geldkassie uit, haal hy ’n hele tien sjielings! Kgotsafalang vat die geld, steek dit in sy sak, en pak die goed in die sy bondeltjie. Hy swaai die sakkie oor sy skouer, en stap by die winkel uit, sonder om te groet. By die deur, hoor hy die winkelier agterna roep, ‘Sorry!’ Hy stap net aan, want hy wil wegkom va die winkelier af, sodat die laggie wat uit sy maag uit kom, nie gehoor kan word nie. Die winkelier dink natuurlik Kgotsafalang kan reken – maar hy kán nie! Hy’t ‘n kans gevat met die Indiër, want hy’t nie gehou van die kyk in die man se oë nie! Die Indiër het vir sy bluf geval, en hom die regte kleingeld gegee! Die hele delwerye lyk of dit ‘n skelmse plek is!
Net ‘n entjie weg van die winkeltjie, hoor hy iemand roep – die Indiër staan buite die winkeltjie, met ‘n jong vrou by hom. Kgotsafalang draai om, en staan kyk na hulle. Hulle wink hom om trug te kom, maar hy staan, en kyk net na hulle, asof hy nie verstaan nie. Hy wonder of hulle hom wil beroof. Miskien dink hulle hy het ‘n kleim wat hy self bewerk. Toe draai Kgotsafalang stadig om, en stap verder aan, tent toe. Hy het kennis gemaak met mense, anders as Davis, hier op die delwerye. Miskien is daar nog baie ander soorte mense hier. Hy sal weer uitkom as dit nie werksdag is nie, en dan sal hy verder stap, en kyk wie bly op die delwerye. Hy weet nou watter soort mense bly hier rondom hulle- mense wat geraas maak, en dronk rondloop by hulle tente. Daarom het hy al die goed gekoop om vir hom en Davies ‘n lekker emmer Sqombothi te maak!
Naby die tente waar dit so woes gaan, maak Kgotsafalang ‘n fout: hy loop effens stadiger om mooi in die jaart te kyk, na die feesterye daar. Hy’t nog die bondeltjie op sy rug. Een van die mans wat kaal bolyf buite stap, gewaar vir Kgotsafalang, sit sy goed wat hy in sy hand het, op ‘n drommetjie neer, en kom na Kgotsafalang toe aangestap. Kgotsfalang sien hier gaan moeilikheid kom, en stap vinniger weg van die man af. Met vyf lang treë is die man met die woeste rooi hare, skielik by Kgotsafalang, en sonder om ‘n woord te sê, slaan hy Kgotsfalang teen die kant van sy gesig, dat sy sakkie eenkant toe val, en hy skuins anderkant toe, kierie en al. Kgotsafalang voel die bloed in sy mond, en hou die seer kant van sy kop vas. Die groot rooikop man staan wieg nog bo-oor Kgotsafalang, toe ander mans uit die jaart uit kom, en die voorste een na Kgotsafalang se kop skop. Kgotsafalang gryp die voet, spring op uit die sand uit, en skree,
‘No dammit, man’!
Die groep mans steier verskrik trug! Die swartman praat met ‘n Engelse aksent! Kgotsafalang sit die goed wat uit die bondeltjie geval het, trug, en terwyl die dronkes verslae staan kyk, swaai hy die bondel oor sy skouer, en stap aan. Toe hy so ‘n entjie weg is, hoor die dronk mans, die swartman sê, “Fuck!’
Dit is die eerste keer in die tyd dat hulle op die delwerye is, dat hulle ‘n swartman hoor Engels praat. Het hulle hulle dan misgis met hierdie mense? Hierdie swart man is eintlik bietjie netjieser aangetrek as hulle, as hulle netjies is! Kgotsafalang het met ‘n paar Engelse woorde, wat hy nou die dag maar eers geleer het, ‘n klein groepie baardmanne iets geleer wat hulle met ander oë na hulle werksmense sal laat kyk.
Die plan om ‘n blik Sqombothi te maak, is skoon uit Kgatsafalang se kop geslaan! Hy maak die bondeltjie met die goed, in die hoek staan, en gaan lê, met sy hande om sy kop. Niemand het hom nog so hard geslaan nie! Hy raak so aan die slaap. Die delwerye is ‘n gevaarlike plek – hier moet ‘n mens mooi trap!
————-KGOTSAFALANG 9 ——–
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.