Twee dae later, middel-oggend, stuur Joanie ‘n boodskap Adam moet daarnatoe kom, as hy vry is. Hulle’t laatnag, die vorige nag, eers by die huis gekom. Sy‘t baie om te vertel. Joani is sprankelend, en borrel oor van opgewondenheid, toe Adam daar kom. Sy’t nooit kon droom dat ‘n universiteit so groot, en imposant kon wees, en sulke pragtige ou geboue kon hê nie. Sy babbel opgewonde, aaneen, met hande, kop en oë wat ook saam gesels. Adam luister met ‘n glimlag na haar. Die universiteit was vir Joani soos ‘n feetjie-wêreld wat sy betree het.
‘Ek het geregistreer, Adam! Registrasie-vorms ingevul – alles! Kry sommer ‘n beurs van die fakulteit, by registrasie. Nog ‘n beurs, as ek ‘n toets slaag. Adam, ek moet weer ‘n toets skryf! Wie’t nou nog lus vir toetse skryf! Wat weet jy van ‘n NBT? Dis die toets! Sê maar ek …’
‘Luister, calm down, ee’ste! Dj wiet te min van die test. Ek wiet oek’ie! Google ee’s wat is die test vir entry vi’ actuarial science. Once djy die test se naam wiet, google djy die website van daai test. Dan sit hulle vir jou binne-in die picture! Dan wiet djy, okay? Doen ‘it net so …’ en die twee raak versonke in die soek na inligting op Joani se foontjie.
Na ‘n rukkie verskoon Adam hom, ‘Okay! Djy’t nou al die info wat djy moet het om te ve’staan. Ek spat ee’ste! Moet nog iets gaan uitsort. My lewe moet oek aangat. Of hoe sê ek, sweet cheeks?’
Hulle staan gelyk op. Die opgewondenheid is dadelik uit Joani uit. Joani se oë raak groot, met ‘n vraag in. ‘Sweet cheeks?’ Hulle staan naby mekaar in die klein voorhuisie. Adam vat aan haar hand. Hulle voel die chemistry gelyk: hier gaan nou iets gebeur! Maar dis Ant Margie wat uit die kombuis uit, verskyn.
‘En wat gaan jý nou doen, Mr Big Brains?’ maar sy verdwyn dadelik weer, toe Joani se panga-kyk haar vol tref.
Adam tree ‘n halwe treetjie nader, en fluister in Joani se oor, ‘Stiek uit daa’ by my – latere. Ek’s dan seker klaar ge-google. Dan discuss o’s bietjie jou test. Nuh?’ Joani skud haar kop liggies, en Adam groet opgewek in die kmbuis in:
‘Bye, Ant Margie! Congratulations m’n Joani se achievements! Ek is netso proud van haar!’
Voor Ant Margie nog kan antwoord, is Adam al weer buite. Joani staan in die deur tot hy om die hoek is. Die bloed borrel in haar are! Haar ma moet tog nie nou met haar praat nie! Daar gaan oorlog wees – en dit oor Adam!
Toe Joani die middag by Adam kom, het hy reeds sy brief aan die Regsfakulteit voltooi om in die regte te studeer deur UNISA. Hy’t gesien die aansoeke het reeds maande gelede gesluit, maar hy doen nogtans aansoek, en hoop op grond van sy goeie finale uitslae, om ten minste ‘n alternatief van die universiteit te ontvang. Hy’t ‘n afdruk van sy September-uitslae beskikbaar, wat hy wil aanheg. Sy finale uitslae kan hy by die skool se onderhoof kry. Hiermee kan Joani hom help.
Mev Willemse is verbaas om die heldin van Buffelsfontein ook by Adam te sien. Hulle word ingenooi, en terwyl Adam sy puntelys bestudeer, tjommel Joani en die onder-hoof, land en sand aanmekaar. Joani vertel van haar besoek aan die universiteit, en haar kanse om wel daar in te kom. Alles hang van die NBT af, die National Benchmark Test.
Adam sluit by hulle aan, en verwonder hom hoe Joani so maklik kan verduidelik wat haar studie-rigting eintlik behels. Sy’t duidelik baie opgelees.Sy klink so confident, dink hy! Sy blom skoons daa’ op‘ie leather coach! Sy kan mos op dai gewone stoel gesi’rit! Sy’s reg vi ‘ie big time, dié meisie! Niks gat vir haar overwhelm’ie!’
Toe draai Mev Willemse na Adam toe. ‘Weet jy, Adam, ek sal darem graag jou skrifte onder oë wil
hê, om te sien, presies waar jy verkeerd gegaan het. Ek verstaan dit nie! Niemand verstaan dit nie!
‘Juffrou, ek’s net bly een van o’s het dit gemaak. Ek is uit my ha’t uit, bly, Joani is tops! Sy deserve’ it! Sy deserve ienage accolade wat na haa’ kante toe kom!’
Toe hulle trug stap na Joani se huis toe stap, loer sy so onderlangs na Adam. Sy gesig wys niks. Hy loop dink aan iets.
‘Ek moet gou nog ‘n paar goedjies uitsort, Joani. Da’ ko’ haal ek vi’ jou, okay?’ groet hy by haar hekkie, en wag tot sy ingaan.
Joani en Adam het heel gemaklik geraak met mekaar vandat daar ‘n vertrouensverhouding tussen die twee gekom het. Daar was baie nagte van min slaap vir Joani, na die intieme gesprek tussen haar en Adam. Sy’t snags gelê dink aan hoe maklik dit was vir jong kinders om te verval, in veral groot plekke soos stede. ‘n Mens se kind kon verdwyn, en dan was hy maar net ‘n paar strate weg van sy ma se huis – vir jare! Sy’t gelê dink aan ouers wie so maklik hulle kinders vernalatig, deur hulle selfsugtige optredes – soos hulle eie plesier najaag.
Op Buffelsfontein het sy al die jare, die kindertjies in die strate, gesien, en dan het haar hart gebloei. Wat kon sý nou doen? Sy was net ‘n skoolkind. Op skool het sy die behoefte van leerders wat sukkel, raak gesien, en sy kon iets daaraan doen. Sy’t uit haar eie diepte geput, en die hulp van haar klasmaats ingeroep om ‘n program in plek te stel, wat hopelik ‘n ommekeer in die skool se benadering tot leerders se behoeftes, sou meebring. Sy kon haar uitleef in haar naskoolse werk – haar vriende aanmoedig; help met skoolwerk; en met huisprobleme. Sommige kinders was dankbaar vir haar hulp, en het dit waardeer. Andere was nie bereid om Joani na aan hulle te laat kom nie. Haar manier van werk; haar leiding in die klas, en haar omgang met haar skoolmaats, het stadigaan die vooroordele so weg gewerk dat leerders haar opregtheid raak gesien het, en dan self nader gekom het. Haar ma het haar so groot gemaak.
Sy’t goed geweet wat dit was om in ‘n gebroke huis groot te word. Sy was daar deur. Sy’t gesien hoe haar pa haar ma slaan, en skop. Sy’t agterna gehelp bloed opvee van die vloer af. Snags het sy, as klein dogtertjie, in haar ma se arms gelê. By haar ma was sy nie bang nie. Sy wou altyd maar net vorentoe beur, vorentoe beur; die beste wees, haar hele skoolloopbaan deur – amper asof sy wou kompenseer vir iets – iets wat sy self nie kon verstaan nie. Mense moes ‘n ander Joani sien – nie die Joani van Margie Williams in wie se huis daar snags so ge-rumoer word nie. As sy bo uitkom elke kwartaal; elke jaar; jaar na jaar, sou mense anders begin dink van haar, en haar ma.
Dis daarom dat hulle so kop-omhoog in die straat kon af stap. Haar naam het vooruit gegaan, uit die skool uit, in elke huis in, waar daar skoolkinders was, en die ouers het kennis geneem van Joani van Margie Williams. Goed-doen-aan-ander, het haar lewe geword. En haar ma het bankvas agter haar gestaan.
Nou is sy klaar met skool, en in ‘n mate, klaar met Buffelsfontein. Sy verdien waar sy is – in een van die mees gesogte studierigtings wat enige universiteit aanbied. Sy’s in die room-afdeling van die provinsie, en die land se matriekleerders van 2020. Sy kan kies en keur, en sy kan instap by enige universiteit. So’t Joani tot laatnag gesit-lê, en by haar venster uit gekyk. Sy was dit alles werd, en sy wou so graag haar ma gelukkig maak. Nou het sy!
Dan was daar weer tye dat Joani weer diep onseker geraak het: haar gekose studie-rigting, aktuarieële studies, gaan haar geheel en al ‘n ander mens maak. Sy gaan heeldag met syfers sit, en kyk hoe om die maatskappye se winste te laat verbeter; met ander maatskappye se pensioenfondse sit werk, maar altyd deur moet sorg dat daar winste gewys word, of waarde toegevoeg word vir groot assuransie-maatskappye se kliënte. Jaar na jaar. Daardie winste kan baie probleme oplos, in plekke soos Buffelsfontein, en die ander Buffelsfonteine, en die mense wat daar woon. Haar werk gaan koud en klinies wees. Wat maak so ‘n werk aan ‘n mens, soos sy, se siel, oor ‘n paar jaar?
Sal sy vir die res van haar lewe gelukkig kan wees in so ‘n beroep? Sal sy kan trugkom Buffelsfontein toe, en hier onder mense kan kom werk, om hulle bietjie te help, soos sy altyd gedoen het? Nee! Haar wêreld gaan nie meer die wêreld van Buffelsfontein wees nie. Sal nie meer Ma Margie insluit, op ‘n daaglikse basis nie. Ook nie Adam nie! Niemand hier rond nie!
Sy gaan snyerspakke dra, grimering ophê; en duur skoene moet koop. Sy sal later ‘n duur kar moet aanskaf; en in ‘n spogbuurt, vir haar ‘n gerieflike woonstel moet kry. En dan by die werk, sal sy met ander slimkoppe moet meeding, om gehalte werk te verrig – heel dag; elke dag!
Hier in Buffelsfontein was sy vir jare lank, die groot vis – in ‘n klein dammetjie! As sy begin werk, gaan sy een van die groot visse word – in die oseaan! En wat van die haaie, wou sy die dag, laggend by Adam, weet. Hulle swem ook daar tussen julle rond, het hy trug gelag! ’Djy wiet ee’ste dis ‘n haai, as hy vi’ jou bietkry!’ het hy gesê, en hom klaar gelag.
Sy moet vanmiddag met Adam praat oor hoe sy voel, en dan met haar ma.
Toe Joani weer by Adam is, let hy onmiddellik op Joani is nie haar self nie. Hulle sit gesels eers by Oumie, en Oumie kan duidelik sien Joani is nie lus vir gesels nie. Sy‘t iets op die hart, weet Oumie dadelik. Oumie gee Adam ’n kyk, wat sê, ‘Vat haar jaart toe’!
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.