‘Jy lyk ge-worried, Joani! Wat’s op?’ en sy kan die besorgdheid in sy stem hoor.
Hulle’s weer by die lendelam tafeltjie, onder die vyeboompie. Adam gee haar tyd om te praat, en toe sy praat, is dit reguit,en op die punt af.
‘Ek weet nie of ek kans sien vir my beroepskeuse nie, Adam. Ek het gaan lees – baie gelees. Dit pas nie by my nie. Ek sal die werk kan doen, ja, maar ek sien nie kans vir die soort lewe, wat saam met die werk kom nie! ‘n Werk moenie ‘n mens verander in iemand wie jy in wese nie is nie!’
Sy vertel Adam van haar grootwordjare in die dorp; hoe moeilik dit was met haar pa n die huis; hoe hulle gesukkel het, voor sy ‘n werkie by die groot winkel gekry het. Sy vertel hom ook van die dorp, en hoe na aan haar hart die mense van die dorp is. Sy skuld die dorp! Sy wil iets trug gee aan die dorp en die mense hier. Sy sal noit gelukkig wees as sy nie kan trug gee aan die dorp, en die mense hier nie!
‘Oee, ek sien! Ja, nuh!! Die moment is te groot vir Miss Joani! Sy wil sieke’ nou hie’ in’ie Buffeltjiesfontein in, kom social worker speel! Hie’s Joani mos lekke’ comfortable. Sy’s mos’ie queen, hiesa! Hie’ op p Buffeltjiesfontein …’
‘Buffelsfontein!’ en Joani kyk Adam aan asof sy hom aan die keel kan beetkry.
‘Joani Williams, lat ek vi’ jou vertel, nuh – iets vi’ niks – die wêreld lê aan jou voete – gat yt daa’, man! Gat conquer die wêreld! Buffel …sfontein is maar step one in jou liewe in! Step twie, is UCT! Haal yt dai … dai dinges-gedagtes yt jou kop yt! Vir wat is djy nou bang? Ko’! Ko’ sit hie’ by my!’
Maar Joani sit. ‘Ek wou nog altyd ‘n sosiale werkster wees, Adam. En ek gaan een word! Sonder om lelik te klink, Adam, maar die hele Kaapse universiteit idee, is eintlik jou idee, nie myne nie. Ek is die hele eksamen deur – gedryf deur my droom om sosiale werkster te wees, hier in Buffelsfontein. Dis hier waar ek my bydrae wil maak!’
Adam luister aandagtig na Joani. Die twee sit by die tafeltjie onder die vyeboompie. Adam het die drommetjies lekker naby mekaar geskuif, want hulle gaan groot goed gesels. Joani se kop is by hom terwyl sy haar redes uiteensit, waarom sy liewer sosiale werkster wil wees, as aktuaris. Haar stem is sterk, en sy klink oortuig van haar saak. Sy vertel weer van haar groootwordjare in die dorp, die lief en die leed, haar hoërskool jare, en hoe haar liefde vir die mense van die dorp ontwikkel het. Adam is deels verbaas oor die swaar wat Joani deurgemaak het as kind, en oor hoe diep haar liefde vir die dorp gewortel is.
‘Verstaan jy, Adam? vra sy later toe Adam kop onderstebo bly sit luister.
‘Ek respect vir jou, vir wat djy deur gegat’et, en alles, Joani’.
‘Maar … Adam? Ek hoor ‘n maar in jou antwoord!’
Adam sit op, en kyk na Joani. ‘Jy wiet, Joani, toe ek vi’ jou gelee’ ken’it, paá jare trug, was die ee’ste ding wat vi’ my ge-strike’et van jou, jou intellect!’ Jy’t ‘n sharpness op jou gehet, wat ek nog in Albertus High, in’ie Woodstock gesien’et. Daar was twee burghs daar, voor my in ‘n grade, en dai bra’s het alles wat maths en science was, opgevriet soos koek. Hulle’t gelê in’ie science labs, ou Joani. As ‘n ou daa’ kom, nuh, da’ sit hulle twie daa’. En die teachers is op hulle,; sharpen hulle op!
‘Wie jy hoeko’, Joani? Om‘ie skool se naam op te tel, saam’e die beste skole in’ie Kaap. En elke jaa’was daa’ ’n paa’ learners ge-identify, hie’ van’ie Grade 10 af al, om daar te haal, in’ie finals van Grade 12. Ek was oek ene wat in ’n group was om groot te pass in matric. Die skool slat elke jaa’, without failure, top students in die sciences in die province. ’
Adam kyk die hele tyd na Joani terwyl hy praat. Haar oë is groot, en sy luister na hom.
‘Sien jy, Joani, wat is’ie groot difference wat ek gesien’et hier, van jou, en dai top students van Albertus Louw? Jullet’ie ee’s labs hie’sa nie! Daa’s ‘n lab wat staan son’er equipment! Daa’s about 60 computers, maar dis toegesluit! Niemand kom ooit daa’ nie. Daa’s plek-plek’ie ee’s vir al’ie learners ‘n textbook‘ie! Maar, despite a’mal daai, op Charleston High, ko’ Joani Williams top in’ie province uit, vi’ maths, en vi’ science! Dái’s major vir my Joani! Dái’s Major! Wat het jou daa’ gebring, Joani, is dai incisive mind van jou! Jy’t outstanding insight wat an’er students lank geleer moet word – van grade 10 af! Maa’djy! Djy he’rit net in jou gehet! Dai skills, om te analyze, soes djy, Joani, kry jy net by die medical scientists, die engineering scientists en die actuaries, Joani!’
‘Maar jy’t my gehelp, Adam! Daar was so baie konsepte wat ek geen kop of stert kon uitmaak nie, maar jy, Adam, het my gehelp, om dit gou-gou baas te kon raak!’
‘Dai’s jeez’ie punt, Joani! Wat djy so gou-gou baas geraak het, sukkel an’er top students mie’n vi’ dae lank, om baas te raak. En dan kry hulle dit oekie nie, honderd persent reg’ie. Dis my punt, Joani. Jy’s special!’
Joani is stil. Sy’t na Adam toe gekom, en verwag hy gaan in haar keel afspring! Nou doen hy dit nie.
‘Joani, ek kan truly nie vir jou sê wat jy moet doen’ie. As jy Mother Teresa van Buffesfontein wil wies, all good and well. Die plek se mense sal dit highly appreciate, dai kan ek vi’ jou sê. Hulle love jou, Joani!
Joani kyk na Adam, en sy sien hoe hy die teleurstelling wil weg steek. Dan sit sy skielik regop, en haar gesig helder op. Sy slaan hom op die skouer.
‘Luister na díe, Adam! Sê ek gaan universiteit toe; maak klaar; en gaan werk. Dan ondersteun ek geldelik, ‘n gemeenskaps-organisasie hier op Buffelsfontein, wat onder die mense werk, wat ek graag sal wil doen! Wat sê jy?
Adam spring op.‘Exactly! Joani, man!Exactly! Hie’s soema bai’ van‘ie skool se kin’ers wat nêrens gat’ie, aner jaa’. Bring jou loyal followers in, Tora, en dai ouens …
‘En Adam ook!’ val Joani hom in die rede
“… ‘en register ‘n proper community organization wat dai’ we’k vi’ jou gat doen. Train genoeg admin mense, genoeg care-givers, en genoeg tutors, en al dai. Funding kom van’ie government, maa’ funding kom oek uit die private sector uit – soes jou base …!’
Daar’s groot opgewondenheid in die jaart. Toe Oumie by die kombuisvenster uitkyk, sien sy Joani half bo-op Adam. Sy vryf sy krulkop deurmekaar. Adam weer, kielie Joani oral op haar lyf. Die twee gil en lag vir die vale. Die grootvrou draai van die venster af weg. Sy sal met Adam moet praat. Hy moet stadig. Hy moet tog nie die vrou se meisiekind omkrap nie!
Dianne Daniels en Ben Fischer vier al heel dag die verslag wat hulle van die private speurders gekry het. Haar kind kan nie aanspreeklik gehou word nie. Hy’t geen misdaad gepleeg waarvoor hy aangekla kan word nie. Buitendien, hy was vir al die jare by Boeta Ses, minderjarig.
Dianne wag reeds van na 6 laat-middag, skuins oorkant die hoek, by Mike’s, in Main Road, Woodstock, waar die jong vriende altyd bymekaar kom. Na sewe eers, kom daar beweging – eers twee gelyk, en toe later, een, en nog een. Sy kan hulle duidelik sien onder die lamplig van buite, en die stoeplig. Toe skielik is die meisie daar. Sy’s nou groot! Dianne het haar nie aangestap sien kom nie. Die meisie staan met haar rug na die Main Road toe, teen ‘n paal, sodat sy almal voor haar kan sien, sowel as die mense wat tussen hulle deur stap. Dianne het ‘n plan.
Shaafika sien die vrou eers toe sy halfpad tussen hulle deur is. Dis die dieselfde vrou, skrik sy! Sy’t dieselfde blouerige jersey aan! Daar kom ‘n knop in haar keel. Toe die vrou ‘n hele ent weg al is, stap Shaafika ewe onge-erg van die klomp af weg, agter die vrou aan. ‘n Hele blok verder, weg van die hoek, stap sy vinnig nader, en vat aan Dianne se arm.
Dianne skrik, en swaai verward om.
‘Dis die mrs! Mrs is dieselfde vrou wat na Christie-Boy kom kom soek’t!’
Dianne het regtig geskrik, en stamel , ‘Ja, my Christy-Boy!’En toe? Waa’s hy? Sê vi’ my?’
Die meisie voor haar se oë raak groot, en sy bring haar hande na haar gesig toe. Die vrou weet nie!
‘Oh, my God! Wat moet ek vir Mrs sê? My naam is Shaafika, Mrs. O’s het saam skool geloop, hie’boeghe. Ek is so, so bai sorry, Mrs! As ek dai tyd vir Mrs gesê’rit …dan was dit maybe nie soe nie!’en sy kom nader na Dianne toe.
Haar gesig is vertrek van pyn oor sy gelieg het vir die vrou voor haar, maar ook oor Christie-Boy nie meer daar is nie.
‘Maar ek’t hom gepromise om nooit te praat ‘ie. Dit was o’se secret gewies. Sorry dat ek dit sê, maar ek was so baie in love m’n Christie-Boy!’ snik sy. ‘Elke nag, dink ek nog aan hom; wat hy vi’ my gese’rit nog, op’ie hoek; as o’s allien was. Hy was so ‘n different ieman’t. Hy was ‘n stil iemand, smart in die skool in; bai reserved gewies, like he was always thinking. Toe vin’ne ek uit wat hy so oor sit dink, so allien! En daai’s waa’ o’se secret in ko’.
‘Hoekom sê jy dan ‘was?’ Moet tog nie vir my sê … Oh, no! Tell me what happened!’
Toe breek die damwal by Shaafika. Sy staan vas teen Dianne, en sy begin huil. Sy vertel huil-huil alles wat sy weet: Boeta Ses se huis: Christie-Boy het vir Boet Ses gewerk. Sy huil erg as sy vertel mense aanvaar dat almal in die huis, waar Chritie-Boy-hulle was dai nag, tot as verbrand het. Toe sy dit sê, raak sy weer onbedaarlik aan die huil, ‘Christie-Boy en Lymie-Boy het’ie dai deserve’ie! Nieman deserve dai’ nie!’
Dianne is oortuig die meisie is eg. Sy wonder of sy haar kan vertrou. Sy’t duidelik ‘n groot liefde vir Christie-Boy gehad. Toe sê Shaafika saggies, hier teen Dianne se bors, “Ek sal nooit wee’nie, nooit weer nie, so lief kan word vi’ ’n iemand, soos ek vi’ Christie-Boy lief gewies het’ie! My hele liewe lang’, sal Christie-Boy Daniels op my mind wies. Always! I’m so, so sorry, Mrs Daniels. Forgive me, Mrs Daniels! Maa’, ek’t hom gepromise!’
Toe weet Dianne dis die tyd om baie versigtig met Shaafika te praat. Sy vat Shaafika se gesig in haar hande, ‘Shaafika, my baby, jou sadness maak my hart baie seer vir jou. En weet jy, jy maak my hart ook baie bly met jou woorde oor Christie-Boy …’
Enoorkant die Main Road, diep agtertoe, in die donker op die stoep van die verfwinkel, staan ‘n lang, donker figuur met ‘n hoodie op, en sy oë, is op die twee vrouens anderkant die pad. Hy kan nie alles hoor nie, maar hy hoor duidelik as die meisie so huil, die naam, Christie-Boy! Ha! Sy geluk het gedraai! Die vrou, daar, is for sure die ma van Christie-Boy, saam’e Christie-Boy se girlfriend! Hy sal wag! Dis mos die vrou se kar wat alleen daar ver ondertoe staan. Nogal op sý kant. Hy’t die vrou se hele move gesien!
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.