[Agtergrond: Begin van die soek na diamante in Kimberley, rondom 1869 /70 en verder. Kgotsafalang is op pad soontoe.]
Kgotsafalang se besluit om myn toe te gaan is al lankal in sy kop. Sy pa is daar. Sy pa is jare trug al weg. Hy’t gepraat van werk gaan soek, daai kant toe, waar die mense sê diamant-myne gegrawe word. So sy pa is op die nuwe myne. Daarvan is die jongmn seker.
Sy trek met ‘n bondel op sy rug, en ‘n bondel onder sy arm, is oor die verlate plase, met stil paaie langs, en tot waar die paaie ophou, en net ‘n spoor oor is, wat tusen die droë gras in verdwyn. Dan swaai hy weer binnetoe, en loop oor plase. Hierdie plase is meestal verlate, of word deur die werkers wat agtergebly het, bewerk. Sy pa en ooms het altyd vertel van die groot getal Zoeloes wat hulle krale gehad het, nie ver van hulle af nie. Hulle’t vertel van die oorlog met die wit mense, en die bondels wit bene en geraamtes, wat mens kry as jy noord begin beweeg – Zoeloes s’n, wat in die pad van die Boere-magte, en die Engelse, gekom het.
Soos hy oor die vlaktes loop, kom hy dan ook telkens op sulke plekke af, waar mens kan sien daar gevegte was – die tekens lê nog daar tussen die lang gras. Sy oë is op al vier hoeke terselfde tyd, soos hy aanstryk. Die wêreld rondom hom is vir hom vreeemd. Hy stap in die algemene rigting van noord-wes, want dis daar langs waar die myn sit. As hy mense gewaar, op ‘n grondpad, staan hy eers kant toe, kruip weg, en kyk wie dit is. Hy weet die meeste mense wat op die plaaspaaie rond trek met waens, is mense wat werk doen, soos wat sy ma doen.
Laat een middag kom ‘n wa van agter af aan. Hy stap eers eenkant toe, die bossies in, en gaan sit. Toe die wa naby kom, is dit swart plaasmense. Hy hardloop vinnig nader, en gaan loop langs die wa. Hulle gesels bietjie, en hy ry saam tot by hulle uitspan-plek. Hy maak hom klaar vir ‘n lang gesels: waarnatoe hy op pad is, wie hy is, en so. By hulle hoor hy dis nie ‘n goeie plek vir ‘n swartmens nie. Die wa is juis op pad daarnatoe.
‘By wie het jy werk gekry?’ wil een werker weet.
‘Ek het nog nie werk nie. Ek gaan werk soek, as ek daar kom.’
Die ouer manne om die vuurtjie bly stil.
‘Ek sal nie by ‘n witman gaan werk soek nie, as ek jy is. Dis nommer een. Jy sal jou vasloop daar. Die meeste van die witmense daar is van ander plekke. Hulle praat ‘n ander taal. Jy’s jonk! Dis jou eerste werk, en hulle sal met jou maak soos hulle wil – jou min betaal, of jou glad nie betaal nie, as dit sleg gaan by hulle kleim!’
‘n Ander man vra die vraag wat in Kgotsafalang se kop is:
‘Nou by wie moet hy dan gaan werk soek?’
‘Van onse eie mense het ook kleims daar. Hulle vat ook werkers aan. Elke dag kom honderde werkers van orals, tot van Zoeloe-land af, daar aan. Almal soek werk. Almal kry werk, maar word verskillende lone betaal – veral van ons eie mense. As jy by onse mense of by die witmense werk, of by wie ook al, gaan jy in die werkers se kamponge bly. Daar, binne-in daai skure, slaap ‘n honderd mans, en daar gaan dit sleg, my kind. Daar drink en rook, en steel en baklei dit elke aand. Daar word jy wat jonk is, en iets by jou het, rot en kaal besteel. Jy kom vanaand by die huis, en al jou goed is gesteel – tot jou laaste klere, en jou geld wat jy weg gebêre het.’
Kgotsafalang raak net so effentjies besorgd. Dan gan die grootman aan:
‘Die beste vir jou is om na die kampe van die Kaapnaars, en die Indiërs toe te gaan. Hulle’t hulle eie kampe waar net hulle mense bly. Hulle vat ook werkers aan. As jy gelukkig is, vat hulle jou aan. Maar dan moet jy Engels kan praat, of jy moet Hollands kan praat. En ek weet nie of jy daai tale kan praat nie. Hulle praat nie Sotho nie, ook nie Xhosa of Zoeloe nie. Hulle wil nie sukkel met praat nie. Daarom vat hulle meestal Griekwa-mense aan.
‘Daar is Griekwa-mense ook wat hulle eie kleims het – baie van hulle. Maar hulle vertrou nie meer ander mense nie. Kyk, die hele demant-velde was mos eintlik hulle s’n! Ja! Al die gronde waar hulle vedag so grawe, is mos Griekwa-mense se gronde! Hoe hulle dit uit hulle hande uit gelaat gaan het, weet ek regtig nie! Dis darem ‘n swaar iets om te vat. Hulle is mense wat vedag net agteroor moes gesit het, en gesien het hoe die geld inkom na hulle toe. Nou moet hulle net soos die ander, in die aarde rond grou, om klippies wat blink, uit die grond uit te kry! Maar, nou ja!’
‘Ja, ek dink ook so’, sê die oom aan die agterkant op die wa. ‘Gaan werk maar by mak mense vir eers! Kyk wat aangaan. Leer alles wat jy kan. Vroeg op – voor hulle. Maak alles skoon saans, en bêre dit weg vir die môre. Dis wat die base wil sien. Hulle kyk jou uit. Gou-gou haal hulle jou uit die modder-water uit, en sit jou op ‘n ander plek. Jy’s die owersiener: jy moet kyk die ander modderwerkers moet werk soos jy gewerk het. Maar pasop! Pasop! Venaand slaap jy alleen – nie tussen die ander werkers nie! Hulle sal jou seermaak in die nag; jou laat verongeluk, of jou iets laat orkom!’
Kgotsafalang raak bang.
‘En wat van die skelms?’ vra iemand wat sover stil geluister het. ‘Vertel hom van die demant-diewe – hoe hulle demante steel – sommer so onder die base se neuste.’
‘Ja, jong! Dis groot besigheid daardie – hierdie ding van demante-smokkel. Werkers kom huistoe net so arm soos hulle gegaan het. Môre, oormôre, sien jy, hier ry die man verby met muile en ‘n nuwe wa. Hy sê net dis geld wat hy voor gewerk het. Maar dit het nie so gelyk drie weke nadat hy by die huis gekom het nie. So? Waar kom die geld so skielik vandaan? Dis ‘n ding wat jy moet uitkyk voor, ou seun. Mooi trap!’
Die oudste wat die heeltyd praat, praat soos ‘n pa wat sy seun voorberei vir werk op die myne. Hy staan in vir die pa wat nie by die jongman is om hom te help nie. Dis maar soos dit werk, onder die mense. Kgotsafalang ry tot net buitekant Kimberley. Sy saam-ry kos hom net help met aflaai en oplaai van goed by die plekke. Ook met inspan en uitspan is hy handig, want dis iets wat hy goed kan doen. Hy’t immers op ‘n wa groot geword.
‘Jy ken hierdie soort werk, ne?’ vra die grootman hom eendag.
Sonder om te dink, antwoord hy:
‘Ja, ek ken wa-ry goed. My ma, Ai Kora, het vir jare so tussen die plase, hierdie werk gedoen. Ek is eintlik op ‘n wa gebore!’ voeg hy by, en lag lekker.
Hy sien nie hoe wip die grootman, en hoe die manne hom aanstaar nie.
‘Jy’s Ai Kora se kind, sê jy?’ vra die grootman eerste.
‘Ja! Sy’s my má. Sy werk die plase agter Winburg in.’
Die manne om die vuur staar hom verstom aan.
‘Wragtag! Ons ken jou ma goed! Al die jare werk ons saam. Goed gekoop by haar. Sy’t van onse goed ook gekoop. So het ons nie nodig gehad om Port Natal toe te ry, mark toe nie. Sy’t ons redelike pryse gegee vir onse goed; soos die mark sou gegee het, en party keer beter ook. Ons was weer vroeg trug by die huis, by onse vrouens en kinders. So’t ons gewerk. Sy werk nog altyd die plase. Weet jy, ek wil jou amper nie glo nie!’
Toe word die nag lank. Die manne vertel hom alles wat hulle van werk op die demant-velde, weet. En die jonge Kgotsafalang luister, en vra, en luister. Hoe meer hy leer, hoe minder word die angstigheid vir die vreemde, in hom.
Twee dae later laai hulle hom af op die buitewyke van die dorpie, Kimberley. Hy moet daarvandaan sy pad self kry. Hy is bly vir die manne, en hy is bly vir sy ma, Kora. Sy’t vir hom ‘n pad oop geleef.
Die eerste keer toe hy die delwery sien, word Kgotsafalang se wind skoon uit hom uit geslaan. Dis soos ‘n grote mier-nes – net dis ‘n onderstebo nes, met modder-mense wat daar onder in die gate rond krioel! Orals is daar gate, en daar kom mense in en uit die gate uit. Honderde staalkabels gaan van bo af, tot onder in die gat. Hy’s flou geskrik toe hy sien, daar uit die dieptes uit, kom ‘n karretje op die kabels uitgery, boontoe. Swart werkers sit in die middel, en wit werkers sit voor op! Gaan hulle weer met die karretjie af in die diepte in? Hy probeer kyk ondertoe, maar hy sien net werkers, besmeer met moddder, wat kap, en graaf steek. Hy sien naderhand party van hulle gooi die grond op ‘n sif. Dan sif hulle; hulle sif, met die witman wat staan kyk, en later in die panntjie kom skraap. Orals werk hulle dieselfde; langs mekaar; op mekaar; min plek om te staan. Daar’s swepe ook. Kimberley!
———————-
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.