A place where stories unfold

Deel 1: Uittreksel uit Kgotsafalang   

[‘n verhaal in die tydvak 1869 -1871: ontdekking van diamante, daar tussen die plase op Colesberg Kopje, en in die omgwing van Griekwa-land, in Suid Afrika. Hierdie verhaal volg ‘n ander verhaal, Kora, van de Alsanners, op.]

In die laaste jare vandat sy by die huis is, dink Kora Alsanner baie aan haar klong; wat sy nie weet waar  in die wêreld hy is nie; wat sy nie weet of hy doodis, en of hy nog leef, êrens, nie. Het hy ooit sy pa gekry op die diamant-velde? Het sy pa hom  ooit ge-aanvaar? Want as sy pa met ‘n ander vrou leef , en daai vrou het kinders van die man, sal die vrou god-weet nie die man se kind van ‘n ander vrou, aanvaar nie. Dan moet hy loop! Wat sal dan van hom word? Watse werk kan hy, as grootmens, doen? Plaaswerk, en wat nog?

 Namate die tyd verby gaan, kom die ouvrou tot berusting, tussen haar mense. In haar binneste word sy kalm. Daai klong is sy ma se kind, dink sy! Hy sal vir homself ‘n lewe kan maak – maak nie saak hóé, en wáár nie. Sy onthou hoe sy saans in die streepsakke met hom in haar arms lê gesels het.

‘Jy gaan eendag sommer ‘n sterk man word, my kind! Jy gaan sommer ‘n slim man word – slimmer as al die ander! Jy gaan jou kop gebruik. Ander mense gaan sien jy kan jou kop gebruik – jy dink oor ‘n ding! Jy’s mos Mamma Kora Alsanner se kind! Mamma sal altyd in jou kop wees! En jy, Kgotsafalang, jy sal altyd in Mamma se kop wees! Altyd!’

Maar dit was ‘n baie lang tyd gelede. As die Alsanner-gesin van Heidelberg, saans, in die kring van die vuurherd se warmte sit, hou Grootma Kora vir Littie op haar skoot vas, tot haar jongste kleinkind daar aan die slaap raak. Dan kom vat Kinna die kind, en  lê haar op haar plek neer. Kinna se ander kinders, sit styf teen hulle ouma se bene om nog warmte te kry. En as die kinders kooi toe ge-roep word, dan sit net die grootmense nog. Nog hout word op gegooi, tot die haan lekker rooi staan, en sulke wilde danspassies, met baie kleure, op die grootmense se gesigte gooi. Dit is daai tyd dat  die grootmense oor húlle dinge praat – die mans oor hulle werke, en die vrouens oor wat die toekoms vir hulle kinders inhou.

Dit is reeds vyf jaar na die drama van Kora se terugkoms die Alsanner-familie so geskud het. Dit was Kinna en Lang Hannes se troue kort daarna wat die drama eintlik ge-voltrek het. Die twee het in die nuwe Independente Kerk getrou. Op die Solders, by die huisies tussen die doringbome en die turksvybome, was daar groot makietie gehou. Oom Izak het lank en trots met sy dogter in die kort gangetjie afgestap, en haar plegtig voor in die kerk, aan Lang Hannes ge-oorhandig. Net die baadjie van die pak wat uit die Kaap uit vir Lang Hannes gelaat kom is, het gepas. Die broek was hopeloos te kort. Toe moes een van Oom Izak se broeke wat hy nog in Beaufort Wes gekoop het, daai tyd met die trugkom slag, gestryk word, en dit was dit. Die bruid was stralend in haar wit rok wat so na buite toe uit, geklok het, met ‘n bossie rooi en wit rose wat Pa Izak by die dorp se groot kerk-tuin gekry het, in haar hande voor haar. Die kerkie was vol, want omtrent almal in die dorp, het die kinders geken. Die jaart by Sus Lydia-hulle was skoongevee, en daar was die banke en tafels uitgesit, want binne-in die huis was dit hopeloos te klein. Daar was lank gepraat, en geredekawel in die weke voor die troue, oor die soort troue wat die kinders moet hê, maar op die ou end, het Kora maar ingegee, en die kerktroue maar laat aangaan, solank daar die aand by die huis op die regte manier fees gevier sou word.

Maar dit is nie aan Kinna dat die ou vrou saans so sit dink nie. Kgotsofalang is weg om sy pa te gaan loop soek op die diamant-myne van Kimberley – hy’t self nie geweet waar nie. Hy sal gaan loop soek, so’t hy gesê. Hy sal hom daar kry, en met hom saam wees – pa en kind, so’t hy gedink. Haar hart was stukkend toe hy met haar kom praat het, daar in Winburg, by die skuur. Hy’t haar net eenkeer ge-omhels, en haar styf teen hom gedruk. Lank. Toe’t hy hom losgemaak uit haar omhelsing uit, omgedraai, en weg gestap. Sy weet hy’t trane in sy oë  gehad – trane wat hy nie wou hê sy ma moes sien nie. Hy is ‘n man – Kgotsofalang Tsepane! Hy is die seun van Kora Alsanner! Dit is soos dit in sy kop ingeprint staan.  En dis wie hy is!

Sy’t geweet, toe hy so wegloop,  van haar af, en sy kyk hom so agterna, dit was die laaste sien van haar seun. Sy’t hom sommer ‘n rol note, van haar negosie-werk, in die lyfsakkie gestop, en die ín hom in gedruk. Dis ‘n lyfsak wat sy een oggend sit maak het uit die sagte lies-vel van ‘n bees. Die geld was net om hom aan die lewe te hou tot hy aan die gang kon kom met ‘n werk. Daarna sal dit hy, en net hy alleen, wees. Hy verstaan dit so. Hy’s reg. So’t hy gesê.

Sy onthou ook die hele gesprek daar langs die vuur op Winburg, die nag toe sy vir Izak Barlow, haar kind, Kinna,  en Lang Hannes Oktouber, van die kind ge-vertel het. Hulle’t haar gekom haal huis toe, Heidelberg toe. Dit was ‘n skok vir hulle:

‘Ek het ‘n kínd hier groot gemaak! Sy naam is Kgotsafalang!’ 

                                                                                                                                    Deel 1 – Kgotsafalang

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *