A place where stories unfold

Uitsonderlike skryfgeleentheid in die inspirerende Stellenbosch

Die Jakes Gerwel Stigting en die Oude Leeskamer op Stellenbosch bied vanjaar ’n uitsonderlike skryfgeleentheid vir twee gelukkige skrywers wat elk vir twee weke in dié historiese Bolandse dorp kan kom inspirasie vind. Slegs aansoeke van die inwonende skrywers van die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis (voormalig of tans) op KwaNojoli (Somerset-Oos) sal oorweeg word. Skrywers van alle genres sal oorweeg word. Die suksesvolle skrywer sal tuis voel in die luukse skryfkamer en toegang geniet tot die fasiliteite van die res van die elegante gerestoureerde gebou. Die gelukkige skrywer sal verder ’n interessante program in Stellenbosch aangebied word, wat spesiaal volgens die skrywer se belangstellingsvelde saamgestel sal word.

Die datums vir dié twee residensies (slegs een persoon per keer) is as volg:

  • 22 April tot 6 Mei (sluitingsdatum vir aansoeke: 1 Maart)
  • 11 tot 25 November (sluitingsdatum vir aansoeke: 16 Augustus)

Aansoeke word elektronies ingedien op die Jakes Gerwel Stigting se webblad by https://jgf.org.za/residencies. Belangstellendes moet ’n motiveringsbrief, ’n kort skrywersbio, volledige projekplan en voorbeelde van vorige skryfwerk insluit.

Die Oude Leeskamer is ’n kultuur- en erfenissentrum wat gesetel is in ’n historiese gebou wat in 2017 die eiendom geword het van die Jannie Mouton Stigting. Na ’n merkwaardige restourasieproses is die gebou omskep in vyf spesiale ruimtes, naamlik Jannie se Leeskamer, ’n kunsgalery, ’n skrywerswoonstel, De Eetkamer Restaurant en die Jannie Mouton Stigting se kantore. Die visie van die Oude Leeskamer is om ’n toonaangewende erfenisbate te wees wat historiese waarde beskerm, maar terselfdertyd ’n lewende ruimte is waar Suid-Afrika se unieke en diverse kuns en kultuur gevier word.

Kontak Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, vir meer inligting: theo@jgf.org.za.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *