Nuut van Kwela Boeke: Moerstaāl deur Loit Sōls (amptelike publikasiedatum: 12 September)
In Moerstaāl word oorsprong bekyk: geskiedenis, erfenis en taal vloei saam. Loit Sōls skryf oor sy voorsate, die Eerste Inheemse mense aan die suidpunt van Afrika. Nie net die inhoud van sy gedigte nie, maar ook sy woordeskat en skryfwyse word deur die erfenis van sy mense verryk. Só klink Sōls se “skryf-stills” op in ‘n betreuring van verlies, maar ook in ‘n strewe na behoud.
Die lewegewende moederfiguur staan sentraal in dié bundel. Sy is die vrou wat onderdruk en misken is, en wie se bydrae en plek, soos dié van die taal, deur die gedigte herstel en openbaar word.
Soos in sy vorige bundels, word die kenmerkende musikaliteit van Sōls se werk, sy skerp ironiese blik en indringende sosiale kommentaar voortreflik in Moerstaāl ingespan. Sy eiesoortige idiolek is met die verloop van jare verfyn; dit boei en daag uit in hierdie nuwe bundel “Goema”-gedigte. En sy poëtiese gebruik van spreektaal bereik nuwe hoogtes in sy vyf “praātsies”.
Loit Sôls is ’n veelsydige visuele kunstenaar, musikant en digter. Hy is die skrywer van die digbundels My straat en anne praat-poems(1998) en Die Faraway Klanke vanne Hadeda(2006) asook, onder andere, die album Serious Kak-praat (2004). Hy het musiekoptredes in verskeie lande buiten Suid-Afrika op sy kerfstok, byvoorbeeld, Nederland, Engeland, Indonesië en Botswana. Van sy gedigte is in ’n aantal bloemlesings opgeneem en ook in ander tale vertaal. Hy is genooi om in 1999 in Nederland aan die Winternachten-poësiefees deel te neem en in 2001 aan die Jakarta International Poetry Reading in Indonesië. In 2021 behaal hy ’n MA in Kreatiewe Skryfkuns aan Rhodes Universiteit.