A place where stories unfold

Laat die kinders dig

KINDERS EN KLETSRYMELARY

Dis die stemloses wat die naaste aan die narratiewe terapeut Thérèse Hulme se hart lê, vertel sy aan ELNA VAN DER MERWE. Daarom het sy nou haar kennis oor hoe om kinders in agtergestelde gebiede aan die skryf te kry in ‘n waardevolle handleiding vir onderwysers saamgevat.

Foto: Jeremeo Le Cordeur

THÉRÈSE HULME vlieg só onder die radar dat jy moontlik nog nooit van haar gehoor het nie. En dít in ‘n tyd waar dit aanvaarde praktyk is om jou lewe aan die groot klok te hang – jy kan selfs hieruit ‘n biljoenêr word, soos die Kardashians.

Wie is sy dan? Sy is die een wat “jongmense oor ‘n tydperk van 17 jaar aan die skryf gekry het in van die mees gemarginaliseerde gemeenskappe in die Wes-Kaap”, aldus die agterflap van haar boek wat pas verskyn het, Praat jy! Idees vir die skep van ‘n skryfkultuur in die klas.

Dis egter nie haar beroep nie – sy is ‘n narratiewe terapeut van die Kaap met grade in drama en Afrikaans-Nederlands en ‘n doktorsgraad in praktiese teologie met ’n fokus op pastorale terapie. Sy doen haar navorsing in die konteks van armoede en bendegeweld.

Dis hier wat Elizabeth Cupido oor Thérèse se pad kom en haar lewensloop verander. Dié vrou was deel van ‘n groep met wie sy lekeberadingsopleiding gedoen het.

“In hierdie tyd het ek Foucault begin lees oor die strategieë van mag. So ek het die teorie aan die een kant gehad en toe aan die ander kant Elizabeth wat begin praat oor die Groepsgebiedewet, oor hoe hulle in Douglas uit hul huise gesit is. Ek besef ek moet ‘n onderhoud met haar voer. Ek maak ‘n afspraak en ons sit in haar voorkamer en sy begin vertel.

“Hulle het hierdie landelike bestaan gehad en eiers en melk afgelewer in die oggende en met daardie geld uit die klein bestaansboerderytjie kon die kinders van daardie gesin bekostig om hoërskool toe te gaan in Kimberley. Daar was nie ‘n bruin hoërskool op Douglas nie. En toe sy in standerd 5 is, kom die stootskrapers en stoot daardie bestaansboerdery letterlik plat.

“‘Hoekom?’ vra ek. ‘Wat wou hulle daar bou?’

“‘’n Gholfbaan,’ sê sy.

Ons albei se woorde is vir ‘n ruk op.

“En toe sy met my praat, toe huil sy so en sy sê: ‘Ek wou altyd ‘n nurse geword het en toe moes ek in die slaghuis gaan werk.’

“Sy was in haar 70’s en op daardie oomblik besef ek ek doen ‘n onderhoud vir my dóktorsgraad – dieselfde stelsel wat my dié kans gee, het haar kans gevat.

“Dit het my verander.

“Ek het dus die proefskrif aan haar opgedra, vir ant Liz wat so graag ‘n verpleegster wou word.”

 
VOORBLADONTWERP: CELESTE HULME VIA THERESEHULME.COM

Die klein begin van groot dinge

In 2005 begin Thérèse drama en skeppende skryfwerk vir groepe in gemarginaliseerde gemeenskappe aanbied. In 2009 gee sy piemp uit met gedigte en drama geskryf deur jongmense van Scottsville in Kraaifontein. Sy begin ‘n skoolbiblioteek by die sekondêre skool hiér en in 2011 een by die Petunia Primêre Skool in dieselfde buurt. Sy bestuur ‘n mentorprojek vir onderwysers en maatskaplike werkers by onder meer ‘n jeuggevangenis in Wellington en was betrokke by MusicWorks in Khayelitsha – dié organisasie sonder winsbejag reik deur musiek uit na kinders. Die lys is lank van plekke waar sy betrokke is op maniere waarvoor baie van ons nie kans sien nie.

Sy verduidelik dat dit die idee van stemloosheid is wat haar dryf. “Die stemloosheid van die mense op die margins.”

Dis waar piemp vandaan kom.

“Die Woordeboek van Afrikaans Vandag beskryf die woord só: ‘wat iemand geheim wil hou, openbaar of bekend maak’. Om te piemp impliseer dus ook dat iemand die stilte verbreek en woorde gevind het om uit te praat,” skryf sy in haar boek.

In 2005 word 10 van haar gedigte opgeneem in Nuwe stemme wat deur Antjie Krog en Alfred Schaffer saamgestel is. “Dis die jaar toe ek by Petunia begin het. Ek wou graag terapeutiese dienste beskikbaar stel omdat ek geweet het dit bestaan nie vir hierdie kinders wat dit so nodig het nie.”

Die kans het egter met ’n ompad gekom.

“Meneer Robert Matthee, die gr. 7-Afrikaansonderwyser by Petunia Primêr, vra my een pouse of ek idees oor die poësie het wat ek met sy klasse kan deel. Ek bied aan om dít wat ek oor poësie geleer het in my Nuwe Stemme-sessies met Antjie en Alfred na sy klasse toe aan te gee. So daag ek ‘n paar dae later by meneer Matthee se klas op met Ingrid Jonker se gedig ‘Toemaar die donker man’ en ‘n trom onder my arm. Ek het dié gedig gekies vir sy beeldrykheid en sterk ritme. Ek wou hê die leerders moes veral voel wat klank en ritme met poësie te make het. Ek wou poësie aanbied as ’n lyflike en geestelike belewenis.”

Die kinders het die ritme met hul hande op hul banke begin saamkap en teen die einde in ‘n luide applous uitgebars.

Dit was die begin van Thérèse se ideaal om kreatiewe skryfwerk vir leerders aan te bied. Sy skryf dat sy waaghalsig begin raak het en vir hul volgende ontmoeting Breyten se gedig “Ek sal sterf en na my vader gaan” op sy CD Mondmusiek vir hulle gespeel het.

Die piempers

Agterna kom klop Brendan aan die terapiekamer se deur. Thérèse het hul gesprek neergeskryf:

B: “Juffrou, dit was die mooiste gedig wat ek nog gehoor het.”

T: “Wat daarvan was vir jou mooi?”

B “Mens kon hoor dit kom uit sy hart.”

T: “Dis waaroor poësie gaan.”

B: “Ek was geskok. Ek het nog nooit so iets gehoor nie. Kan Juffrou dit nie weer speel nie?”

“Toe sit ek en Brendan saam vooroor gebuig oor die CD-speler en luister. Halfpaddeur lig Brendan sy vinger vir wat kom: ‘Daai stukkie … daai stukkie … dis baie mooi.’ Toe sê hy die woorde hardop saam met Breyten: ‘… vriende, medesterwendes, moenie huiwer nie …’”

‘n Week later het hy kom vertel dat sy ma ‘n paar maande tevore in ‘n ongeluk gesterf het en dat hy die Breyten-gedig onder sy bank vasgeplak het. “Juffrou, elke keer as ek daardie gedig lees, dan voel dit my my ma hou my vas.”

Sy vertel my dis hiér waar sy van die kinders se poëtiese gees bewus begin word het.

“Toe nooi ek die kinders uit om as hulle wil skryf, hul werk pouses met my te deel. Toe daag hulle een vir een op en só het ‘n skrywersgroep onbepland by Petunia begin. Die werk van hierdie skrywers het ek in die bundel piemp bymekaargesit en dis hoe hulle hulself die piempers begin noem het.”

Die Wellingtonse piempers.
MARCHELLE VAN ZYL

’n Nalatenskap

Hierdie klein uitlaatklep wat die kinders in voeling met hul eie skeppendheid gebring het, sou mettertyd ‘n magtige wapen word in agtergestelde kinders se lewens én in die hande van onderwysers wie se oë oopgemaak is om kinders se kreatiwiteit te ontgin.

Marlize Fortuin, ’n oudonderwyseres in verbruikerstudie by Weltevrede Sekondêr in Wellington, vertel in Praat jy! die storie van die 14-jarige Katelin Morris wat die gewoonte gehad het om tydens klasse op haar skoolbank te kap. Die ander onderwysers het haar as onbeskof beskou en as ‘n kind wat ander leerders ontwrig. “Maar ek het gesien daar is net ‘n beat in haar wat moes uit.”

Thérèse skryf hoe “’n fontein van musikaliteit en taal” gou in Katelin se skryfwerk opgeborrel het toe sy op aandrang van haar juffrou die piemp-skryfsessies begin bywoon het. “Marlize se raaksien van Katelin se gekappery het uiteindelik uitgekring tot by die Suidoosterfees-verhoog, die groter Wellingtonse skoolgemeenskap en, met twee QR-kodes vir twee van Katelin se rymkletse, tot in dié boek.”

Thérèse rig ‘n uitnodiging aan onderwysers wat Praat jy! lees en wat nie self ‘n onderwyser of dosent soos Marlize gehad het nie om “die nalatenskap wat jý nie ontvang het nie in jou klas te begin saai”.

Dis waarom Hunter Kennedy, liedjieskrywer van Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar, op die voorblad van die boek skryf: “Ek dink wat Thérèse doen, moet voorgeskryf wees in elke skool. Dit het die potensiaal om die wêreld te verander.”

Mag hierdie boek sy weg tot in die hand van elke onderwyser vind.

  • Hierdie artikel is van Vrye Weekblad

https://www.vryeweekblad.com/lewenstyl-en-kos/2022-10-28-laat-die-kinders-dig/

Vrye Weekblad doen grondverskuiwende beriggewing oor politiek, nuus, opinie, kos en sport.

https://www.vryeweekblad.com/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *